Geskryf deur: Stefan J. Bos www.worthynews.com Artikelbron:
Honderde Protestantse Christene in Suidoos-Duitsland het ’n kerkdiens bygewoon wat feitlik geheel en al deur kunsmatige intelligensie (KI) gegenereer is, ondanks waarskuwings dat die uitvinding die mensdom kan vernietig.
Die KI-kerkdiens was een van honderde geleenthede by die konvensie van Protestante in die dorpe Neurenberg en die naburige Fuerth in die Duitse deelstaat Beiere.
Volgens getuies was belangstelling in die diens so groot dat mense reeds ’n uur voordat die diens sou begin in ’n lang tou buite die 19de-eeuse, neo-Gotiese Sint Paulus-kerk gestaan het.
Die ChatGPT-kletsbot het meer as 300 mense voorgegaan in 45 minute van gebed, musiek, preke en seëninge.
In plaas van ’n menslike pastoor, het aanbidders avatars (kunsmatig gegenereerde persone in menslike vorm) op ’n skerm gesien.
Vroulike en manlike avatars, insluitend een wat deur ’n bebaarde swart man en ’n ander deur ’n wit vrou verpersoonlik is, het gepreek en die gemeente in aanbidding en gebed gelei.
KI-MUSIEK
Selfs die musiek is deur KI gekomponeer.
Sonder om aangespoor te word, het die deelnemers opgestaan vir die belydenis van geloof en die seëning. “Hulle het ook gebede en psalms gebid as hulle die spreekspoed van die KI kon volg,” het die organiseerders opgemerk.
Die byeenkoms volg kort op die hakke van waarskuwings deur kundiges in die wêreld van kunsmatige intelligensie. Hulle het hul kommer dat KI eendag die mensdom kan vernietig, in ’n ope brief uitgespreek.
“Om die gevaar te verminder dat die mensdom deur KI uitgewis word, behoort ’n globale prioriteit te wees tesame met die ander risiko’s op maatskaplike skaal, soos pandemies en ’n kernoorlog,” lui die verklaring.
Christen-leiers het ook hul kommer uitgespreek en gesê dat leraars en kerkleiers hulle inspirasie van die Heilige Gees moet kry eerder as om deur KI gelei te word.
NOG BESWARE
Vroeër het meer as 1 000 tegnoloë en navorsers ook ’n ope brief onderteken waarin gevra word dat daar vir ten minste ses maande gewag word voordat voorgegaan word met die ontwikkeling van die grootste KI.
Hulle het beswaar gemaak oor “’n resies, wat buite beheer is, om steeds kragtiger digitale “denkers” te ontwikkel en te ontplooi.”
Dié brief, georganiseer deur die KI-gefokusde organisasie sonder winsbejag, die Future of Life Institute, is deur Elon Musk en ander bekende tegnologieleiers onderteken.
Dit het nie baie handtekeninge van toonaangewende KI-laboratoriums gehad nie.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 05/07/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerk van www.freepik.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.