Geskryf deur: Michael Swain | FOR SA
Artikelbron: Artikel verskaf

Kommer oor die indringende Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette, 2023 (ook bekend as die “Spioenasiewetsontwerp”) neem toe namate die regering se sperdatum vir openbare kommentaar op Donderdag, 15 Januarie 2024 al hoe nader kom. Talle mense vrees dat die Spioenasiewetsontwerp ’n toesigstaat kan vestig wat vanuit die kantoor van die presidensie bedryf word. Dit gee die staat uitgebreide en byna onbeperkte mag om op byna elke gebied van die persoonlike, siviele of sakelewe te spioeneer – sonder enige verpligting om iemand in te lig, toestemming te verkry of dat daar ’n meganisme vir beswaar is deur die een wat ondersoek word.

In sy huidige vorm is die Spioenasiewetsontwerp se bepalings en definisies so vaag en oop dat enigiemand en almal moontlik as ’n “bedreiging vir nasionale veiligheid” geteiken kan word. Die “relevante” data wat ingesamel kan word, sal finansiële en mediese rekords insluit, sowel as die onderskepping van elektroniese kommunikasie soos internetsoekgeskiedenis, e-posse, WhatsApp- en Facebook-plasings, Zoom-oproepe en opnames van telefoongesprekke.

“Hierdie wetsontwerp verteenwoordig die dood van enige betekenisvolle vorm of reg op privaatheid en skep ’n toesigstaat,” sê Michael Swain, die uitvoerende direkteur van Freedom of Religion South Africa (FOR SA). “Die godsdiensgemeenskap is veral bekommerd oor hierdie wetsontwerp, want hoewel die hersiene weergawe nie meer spesifiek melding maak van kerke, godsdiensorganisasies en NRO’s nie, sluit sy nuwe uitgebreide definisies hulle steeds in.”

Die Spioenasiewetsontwerp is vaag oor wat die gevolge sou wees sjou jy die verpligte sekuriteitstoets nie slaag nie. Met inagneming van die algehele toon van die wetsontwerp is dit egter waarskynlik dat persone en instansies wat die toets nie slaag nie, nie meer toegelaat sal word om hul bedrywighede binne die land voort te sit nie. Dit maak die deur oop vir die staat om godsdiens te beheer deur godsdiensorganisasies en leiers wat volgens die staat regeringsbeleid teenstaan (selfs al is dit deur wettige politieke aktiwiteite, voorspraak, protes of teenstand), selektief te teiken.

Die regering se beweging weg van demokratiese praktyke het ook internasionaal kommer gewek. ’n Wetsontwerp wat op 6 Februarie 2024 deur die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers voorgestel is om Amerika se betrekkinge met Suid-Afrika te hersien, noem spesifiek die Suid-Afrikaanse regering se voortgesette samewerking met China en sy tegnologiesektor. Dit verklaar dat hierdie stand van sake Suid-Afrikaanse soewereiniteit in gevaar stel en die Chinese Kommunisteparty se model van “digitaal ondersteunde outoritêre bestuur, onderlê deur kuberbeheer, maatskaplike monitering, propaganda en toesig” fasiliteer en vergemaklik. Hoewel dit tans deur duidelike grondwetlike voorsorgmaatreëls voorkom word, kan die Spioenasiewetsontwerp dit erodeer en ’n nuwe era inlui.

“Ondanks die opstellers se voornemens dui die huidige weergawe van die Spioenasiewetsontwerp op ’n terugkeer na ’n toesigstaat soos voor 1994,” sê Swain. “Dit behoort geen plek in ons grondwetlike demokrasie te hê nie.”

Die Ad Hoc-komitee wat hierdie wetsontwerp hanteer, het verklaar dat geen verdere uitstel vir kommentaar toegestaan sal word nie omdat hulle aan hul vereiste moet voldoen om teen 1 Maart 2024 na die Nasionale Vergadering terug te keer. Die regering het sy voorneme bevestig om die Spioenasiewetsontwerp as wet in te stel voordat die huidige parlement in Mei 2024 ontbind.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 13/02/2024
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here