Artikelbron: Artikel verskaf
Die Koinonia Sinode het die volgende verklaring uitgereik na aanleiding van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) se bekendmaking van regsmenings wat hulle ingewin het ten opsigte van
gemeentes wat hul bande met die Algemene Sinode opskort.
Koinonia Sinode-verklaring oor ASM/ATR se regsmening oor opskorting
“Die Dagbestuur van Koinonia Sinode (KSDG) het kennis geneem van die vreemde werkswyse van die ASM om ’n verslag wat wemel van wanvoorstellings asook bedekte dreigemente uit te stuur nog voordat die normale kerklike prosesse daaroor gevolg is.
“Die ASM en ATR meld in die verslag dat die opskorting van kerkverband ’n “nulliteit” is en dit is volgens twee regsmenings (wat hulle nie beskikbaar stel nie). Hierdie stelling sal egter bewys moet word. Die beredenering wat daarvoor aangevoer word, blyk reeds met die eerste oogopslag gebrekkig en sonder behoorlike substansie te wees. Die haas waarmee die ATR-verslag na buite bekend gemaak was en die feit dat Kerkbode boonop meer as 8 bladsye daaraan afgestaan het, is sonder twyfel ‘n poging om gemeentes en kerkrade op onkerkordelike wyse te probeer intimideer en onseker te laat. Hul dreigemente met siviele hofsake en selfs onteiening, is in skreiende kontras met die aansprake van liefde en oop gesprek en daarmee spreek hul dade veel harder as hul woorde. Dit is ook duidelik dat die ASM aan die begrip “opskorting” ’n ander betekenis gee as wat die woord beteken. Daarmee wys die ASM dat daar geen begrip is van die bedoeling van die akte van opskorting nie, naamlik ’n oproep tot bekering, tot terugkeer na die Woord en belydenis.
“Met hierdie werkswyse plaas die ATR ondeurdag en gebrekkig gesubstansieer sy kaarte op die tafel en kan met grondige regsadvies op die talle aanvegbare stellings gereageer word. Aangesien die ASM (onder invloed van die ATR) die afgelope jaar reeds vier skriftelike uitnodigings tot oop gesprek rondom die Woord van God, o.l.v. ’n onpartydige mediator, summier geweier het, besef KSDG dat die ASM hulle waarskynlik eerder sal wend tot die wêreldse hof. KSDG konsulteer juis daarom al vir ’n geruime tyd met senior regslui en het die versekering dat opskorting van kerkverband nie net regtens moontlik is nie, maar dit kan ook met sukses in enige hof verdedig word. Gemeentes en Kerkrade word verseker dat daar voldoende bekwame kerkreg- en ander regskenners is wat nie die ASM se siening soos wat in Kerkbode geplaas is, deel nie. Indien daar pogings is om die opskorting van kerkverband weens hul teologiese en kerkregtelike vergrype met dreigemente te stop, kan die besluit tot opskorting indien nodig selfs in die hof met sterk argumente verdedig word.
“Soos reeds bekend, gebruik die ATR die Kerkorde as ’n steekstok en nie as ‘n herderstaf om die NG Kerkverband uit die huidige krisis tot kerkherstel te lei nie. (Dit is terloops dieselfde Kerkorde wat hulle, weens bedenklik redes, nie eers bereid was om in 2019 in die hof te verdedig nie). Van liefde en inklusiwiteit is hier nie sprake nie.
“Skrifgetroue gemeentes word aangemoedig om nie te skrik vir dreigemente van wêreldse regsgedinge deur diegene wat nie bereid is om die kerklike weg te volg nie. (NGB Artikel 28 en 29). Juis in ’n tyd soos hierdie moet behoudende lidmate hande vat en mekaar ondersteun om getrou te bly aan die Here se Woord en die gereformeerde belydenis.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto slegs ter illustrasie: freepik.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.