Geskryf deur: Alex Pollock Artikelbron: www.incontextinternational.org

Op Woensdag, 13 September het Kim Jong-un, die opperheerser van Noord-Korea, die Russiese
president, Wladimir Poetin, in ’n buitengewone spitsberaad, wat in die Ooste van Rusland gehou is,
ontmoet. Kim het met pres. Poetin en die Russiese verdedigingsminister, Sergei Sjoigoe, ontmoet
tydens sy eerste reis buite Noord-Korea oor die afgelope vier en ’n half jaar.

Die leiers het Noord-Korea se satelliet- en ruimteprogram, die voortslepende oorlog in die Oekraïne,
asook moontlike militêre samewerking bespreek. Pres. Poetin en Kim het by die Wostotsjni –
lanseerbasis ontmoet waar hulle die bou van missiele bespreek het. Uit verslae blyk dit dat Kim
“groot belangstelling” in Rusland se ruimteprogram getoon het, aangesien Noord-Korea twee maal
in die laaste vier maande sonder sukses probeer het om verkenningsatelliete te lanseer. Terwyl Kim
in Rusland was, het Noord-Korea twee kortafstandballistiese missiele afgevuur, die eerste lansering
wat sonder Kim se teenwoordigheid plaasgevind het. Jo Chung Ryong, die direkteur van Noord-Korea se krygsvoorradedepartement, het Kim op die reis vergesel, wat daarop dui dat die beraad grootliks op verdedigingsamewerking gefokus was.

Die potensiaal vir verdere samewerking tussen Noord-Korea en Rusland verontrus die Weste,
volgens die Amerikaanse staatsdepartement se woordvoerder, Matthew Miller. Hy het sy
besorgdheid oor die beraad tydens ’n perskonferensie uitgespreek. “Ons het reeds ’n aantal stappe
gedoen om entiteite wat wapenverkope tussen Noord-Korea en Rusland bemiddel het, te straf en
ons sal nie huiwer om bykomende sanksies op te lê waar dit toepaslik is nie,” het hy gesê.
Die Verenigde Nasies (VN) se sekretaris-generaal, Antonio Guterres, het ook sy besorgdheid oor die
ontmoeting uitgespreek en gesê dat Rusland “versigtig te werk moet gaan” in sy onderhandelings
met Noord-Korea as gevolg van die swaar sanksies wat op Pjongjang geplaas is. Amerika het gesê dat
hy nie sal huiwer om verdere sanksies teen enige van die twee lande in te stel indien wapens deur
enige een na die ander oorgedra word nie.

Hoewel Moskou en Pjongjang albei ontken het dat wapenoordragte bespreek is, rapporteer die
Oekraïne se militêre intelligensiebeamptes dat Noord-Korea Rusland die afgelope maand van
wapens voorsien het, aangesien Rusland verliese in hulpbronne ervaar terwyl hy voortgaan om
oorlog teen die Oekraïne te voer. Rusland het op die kritiek gereageer deur te sê dat Moskou aan
alle internasionale reëls voldoen en dat hy die reg het om “vriendskaplike betrekkinge” met NoordKorea uit te bou. Die besonderhede oor wat sodanige “vriendskaplike betrekkinge” sal behels, moet
nog gesien word. Daar is egter ’n moontlikheid dat Rusland vir Noord-Korea van geldelike en
voedselhulp sal voorsien, aangesien enige militêre of wapenoordragte internasionale sanksies sou
skend.

Die moontlikheid van voedselhulp kan van groot waarde wees om Noord-Koreane te help wat tans
met talryke humanitêre uitdagings te kampe het. As een van die wêreld se mees geïsoleerde lande,
is dit moeilik om ’n duidelike prentjie van Noord-Koreane se lewens te kry, maar onlangse
onthullings van die Noord-Koreaanse regering het ’n kykie in die toestand van die land gebied.
Oorstromings in 2023 het aansienlike skade aan etlike hektaar landbougrond veroorsaak, wat die
land se reeds kritieke voedseltekort verder vererger het. Kim is uiters selektief oor die hulp wat hy in
Noord-Korea toelaat en ook waar dit vandaan kom. Die hoë vlakke van vervolging maak dit ook
moeilik vir die Christene wat in Noord-Korea is, om uit te reik en dié rondom hulle te help. NoordKorea was jarelank nommer een op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys, en is eers in 2021,
ná die Taliban se oorname, deur Afghanistan vervang. Noord-Korea is nou weer nommer een op die
lys van lande waar dit die moeilikste is om ’n Christen te wees.

Ondanks hiervan is dit interessant om te let op die Christelike nalatenskap binne die Kim-familie. Die
oupa- en oumagrootjie van die huidige opperheerser, Kim Jong-un (Kim Hyong-jik en Kang Pan-sok),
was Christene en het voormalige leier Kim Il-sung in ’n Christelike huis grootgemaak. Kim Hyong-jik
het ’n skool bygewoon wat deur Christen-sendelinge in Korea bedryf is en het later ’n onderwyser by
’n Christen-skool geword waar hy aktief betrokke was in sendingaktiwiteite. Kim Il-sung het as kind
kerkdienste bygewoon voordat hy as tiener ’n ateïs geword, en later die moderne sekulêre Noord-Koreaanse ideologie gestig het wat so sterk teen godsdiens gekant is. In die lig van hierdie
geskiedenis, kan die Kerk bid dat die Kim-familie tot geloof sal terugkeer en dat die saadjies wat lank
gelede binne die familie geplant is, in die komende jare vrug sal dra.

Hoewel baie nuusagentskappe fokus op die potensieel negatiewe impak wat hierdie ontluikende
verhouding tussen Rusland en Noord-Korea mag hê, moet die Kerk vanuit ’n Christelike perspektief
ook die geleenthede raaksien wat dit vir die bevordering van die Koninkryk kan bied. Volgens
die Joshua-projek het Rusland ’n Christelike bevolking van 57% (alhoewel slegs 1,41% evangelies is),
terwyl minder as 2% van die Noord-Koreaanse bevolking van 26 miljoen Christene is. Met so min
geleenthede om Noord-Korea te bereik, moet enige nuwe betrekkinge vir potensiële
bedieningsmoontlikhede ondersoek word. Mag die Kerk nie deur die politieke of sosiale aspekte van
hierdie verhouding verwar of teruggehou word nie, maar ’n Koninkryksperspektief nastreef en
biddend nadink oor hoe die Here sulke gebeure wil gebruik om Sy Koninkryk uit te brei.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
• Bid dat deure in Noord-Korea oop sal gaan en dat die Kerk gereed sal wees om die
geleenthede wat aan hom gebied word, te gebruik,
• dat die Christelike nalatenskap binne die Kim-familie herstel sal word en dat Kim Jong-un tot
’n reddende kennis van Christus sal kom; en
• dat die wêreldwye Kerk gelowiges in Noord-Korea voortdurend in gebed en voorbidding sal
onderhou

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 21/09/2023
Foto slegs ter illustrasie: pixabay.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here