Die toenemende debat oor die onafhanklikheid van kerke en die staat se rol in geloofsgemeenskappe sal onder die loep kom tydens Solidariteit Helpende Hand se jaarlikse Helpende Kerke Kongres op 12 Junie in Pretoria.
Die kongres volg ná maande se openbare debat oor die sogenaamde Artikel 22-komitee van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (CRL-kommissie) en die bedanking van professor eerwaarde Musa Xulu, wat kommer uitgespreek het oor moontlike staatsinmenging in kerklike aangeleenthede.
Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is dit juis in tye van toenemende sentralisering dat kerke hul onafhanklikheid, roeping en rol in gemeenskappe moet beskerm.
“Die kerk is waarskynlik die sterkste gemeenskapsinstelling wat bestaan. Daarom is dit belangrik dat kerke nie net oor hul eie sake dink nie, maar ook saam dink oor die uitdagings wat hul gemeenskappe raak,” sê Noëth.
Hy meen die uitdagings waarmee gemeenskappe vandag worstel, behoort nie aan een gemeente, een dorp of een kerkverband nie.
“Die uitdagings is nie net joune of jou buurman s’n nie. Dit is dikwels die hele gemeenskap, dorp of stad s’n. Daarom is dit belangrik dat kerke met mekaar praat, kennis deel en saam oplossings soek.”
Volgens Noëth kan die kerk dit nie bekostig om blind of doof te wees vir die werklikhede waarmee Suid-Afrikaners daagliks gekonfronteer word nie.
“Ons leef in ‘n tyd van groeiende werkloosheid, toenemende armoede en groot maatskaplike uitdagings. Die kerk moet vra hoe hy sout en lig kan wees in hierdie omstandighede. Hoe help ons om welstand te bevorder? Hoe help ons mense om weer hoop te vind? Hoe help ons gemeenskappe om sterker te word?”
Een van die kerngesprekke tydens die kongres sal handel oor die verhouding tussen die kerk en die staat, asook die beginsel dat geloofsgemeenskappe die ruimte moet behou om hul eie sake te bestuur.
“Kerke moet toegelaat word om vir hulself te dink en oor hul eie sake te besluit. Daarom is dit belangrik dat ons die gesprek oor godsdiensvryheid, onafhanklikheid en die desentralisering van besluitneming ernstig opneem.”
Die kongres fokus vanjaar op drie kernonderwerpe:
• Die kerk en werksyn, aangebied deur Hannes Noëth;
• Die bekendstelling van die boek Twaalf Bybelse oplossings vir armoede deur Flip Buys; en
• Artikel 22 van die Grondwet en godsdiensvryheid, aangebied deur adv. Willie Spies.
Tydens die kongres sal Buys sy nuwe boek bekendstel waarin Bybelse perspektiewe en praktiese beginsels bespreek word oor hoe armoede op ‘n volhoubare en waardegerigte wyse verlig en verbreek kan word.
Noëth sê die kongres gaan uiteindelik oor een belangrike vraag:
“Ons praat baie oor werksyn en om tot jou roeping toe te tree. By die Helpende Kerke Kongres vra ons ook: Hoe tree kerke toe tot hul roeping in die gemeenskap? Hoe speel die kerk sy rol in die herstel van gemeenskappe en die bevordering van menswaardigheid?”
Die Helpende Kerke Kongres dien as ‘n ontmoetingsplek waar kerke, denominasies en gemeenskapsleiers saam kan dink oor die pad vorentoe en oor hoe geloofsgemeenskappe ‘n groter rol kan speel in die aanpak van Suid-Afrika se uitdagings.
Die Helpende Kerke Kongres vind op 12 Junie 2026 van 08:30 tot 13:00 plaas by die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut-kampus te David Langleystraat 433, Garsfontein, Pretoria. Deelname kos R150 per persoon, wat ligte verversings sowel as ‘n eksemplaar van Twaalf Bybelse oplossings vir armoede deur Flip Buys insluit.
Besoek https://helpendehand.co.za/helpende-kerke/ vir meer besonderhede en om te registreer.
- Klankgreep en foto van Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand aangeheg.
- Die media is welkom om die geleentheid gratis by te woon. RSVP by phillip@helpendehand.co.za

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto verskaf deur bron
Datum gepubliseer: 03/06/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








