Geskryf deur: Jeremiah Goddard en Donnelly McCleland
Artikelbron: www.incontextinternational.org
Op 11 Mei het ’n immigrasiewet uit die COVID-tyd, Titel 42, verstryk. In die dae voor die sperdatum het paniek, verwarring en wanhoop langs die grens tussen Amerika en Meksiko daartoe gelei dat baie migrante die grens wou oorsteek.
Hulle het hulself aan grensbeamptes oorgegee, onseker van wat die toekoms inhou. Die aantal mense wat aangehou is, het sommige dae tot 11 000 gestyg, van die hoogste aangetekende syfers ooit. In die dae nadat die sperdatum verstryk het, het Amerikaanse owerhede egter ’n 50% afname gesien in die aantal migrante wat hulle langs die grens teëgekom het, vergeleke met die vorige week.
Titel 42 verwys na ’n openbare gesondheidswet van 1944 wat selde toegepas word. Die wet bemagtig federale gesondheidsowerhede om migrante te verbied om die land binne te kom indien daar bepaal is dat die toepassing daarvan die verspreiding van aansteeklike siektes kan voorkom. Dit is weer in Maart 2020 ingestel met die begin van die koronaviruspandemie om die verspreiding van die virus, veral in oorvol aanhoudingsfasiliteite, te bekamp.
Sommige kritici van die beleid het dit beskou as ’n poging om immigrasie na Amerika te beperk, eerder as ’n openbare gesondheidstrategie. Voor Titel 42 kon migrante wat die grens onwettig oorgesteek het, teruggestuur word na hulle land van herkoms of deurgangsland (Meksiko), net om maar weer te probeer. Indien daar ’n wettige saak t.o.v. asiel was, sou sulke asielsoekers binne die grense van Amerika wag terwyl die regsproses aan die gang is. Onder Titel 42 is onwettige immigrante egter summier na hulle lande van herkoms teruggestuur en dit verbied hulle om wettiglik na Amerika terug te keer. Verder moes asielsoekers aan die Meksikaanse kant van die grens wag terwyl hulle sake beoordeel word. Daar was ’n geraamde 2,9 miljoen gevalle onder Titel 42 by die grens waarvan 61% van die migrante direk teruggestuur is en die res in aanhouding geplaas is.
Ná die verstryking van Titel 42, onder die nuwe reëls (sommige beskou dit as baie strenger), sal migrante wat die grens onwettig oorsteek en gevang word, verbied word om terug te keer vir die volgende vyf jaar. Die asielsoekers wat nie vir asiel aangesoek het in die lande waardeur hulle gereis het om by die VSA-Meksiko-grens uit te kom nie, sal weggewys word.
Titel 42 het uitdagings gestel aan die burgers aan beide kante van die grens, gevolglik is verskeie organisasies in die lewe geroep en het ontelbare kerkgemeenskappe en individue migrante begin bystaan. Hoewel dit uiters oorweldigend kan wees vir gemeenskappe, en dit sluit Christene in, om groot getalle migrante te help, herinner die Skrif ons daaraan dat ons nie hoef toe te gee aan ’n gees van vreesagtigheid nie (2 Timoteus 1:7).
1 Petrus 4:7 bemoedig ons verder “Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.” Dit is belangrik om te onthou dat God ’n doel met, en roeping vir, elke liewe mens het, ongeag of hulle status dié van immigrant of burger is.
’n Kontak op die grens het dit duidelik gemaak dat solank as wat daar asielsoekers is, die Kerk sal voortgaan om hulp te verleen. Gedurende ’n besoek aan die Meksikaanse grens waar 10 000 asielsoekers gewag het op die voltooiing van die geregtelike proses, het twee INcontext-spanlede desperate en tog hoopvolle mense gesien. Hierdie mense het gekies om saam met hulle gesinne daar te wag vir die howe om oor hulle sake te besleg onder Titel 42, in plaas daarvan om die breë rivier (9 m) oor te steek. Die kerke en pastore in Matamoros, Meksiko en Brownsville, Texas het opgestaan om in die behoeftes te voorsien van diegene wat langs die suidelike grens van Amerika swaarkry. Hulle het gekies om in ’n gees van nugterheid (nie vrees nie) op te tree, terwyl hulle op gebed fokus en doelbewus die “hande en voete” van Jesus is. Die Crisis Response Network (CRN), in vennootskap met ’n bediening in Meksiko, voorsien in fisieke, sowel as geestelike behoeftes van diegene in die omgewing.
As Christene word ons opgeroep om deur ’n ander bril na sulke kwessies te kyk. Ons moet onsself afvra wat God in sodanige situasie sou gedoen het. In die Skrif sien ons baie voorbeelde waar die Here d.m.v. migrasie gewerk het om Sy uiteindelike doel te bereik – Abraham is na die Beloofde Land gestuur, die Hebreërs in Egipte, die bannelinge in Babilonië, Nuwe Testamentiese gelowiges gedurende tye van vervolging, ens. Hy kan dalk ook in hierdie omstandighede op soortgelyke wyse aan die werk wees.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
Bid dat die regerings van Meksiko en die VSA goddelike wysheid sal ontvang in hulle onderskeie beleidsvormings, asook die implementering daarvan,
dat die Kerk in beide nasies die wil en doel van die Here sal soek in hierdie situasie en moedig daarop sal reageer, en
dat die migrante en asielsoekers die Here se hart en wil vir hulle sal raaksien
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 19/05/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








