Geskryf deur: Donnelly McCleland Artikelbron: www.incontextinternational.org 

Van 16-18 Oktober het China sy derde Gordel-en-Pad-beraad (Een Gordel, Een Pad in Chinees) aangebied. Dit is die tiende herdenking van die ikoniese Gordel-en-Pad-inisiatief (BRI) – die grootste multilaterale ontwikkelings-program wat nog ooit deur ’n enkele land onderneem is.

Die Chinese president, Xi Jinping, se visie vir hierdie inisiatief het in 2013 met grootskaalse infrastruktuur, soos kragsentrales, spoorweë, paaie en hawens in die wêreld afgeskop. Dit het China se verhoudings met Afrika, Asië, Suid-Amerika en die Midde-Ooste laat verdiep en is sentraal tot Xi se ambisie dat China ’n groter rol in globale aangeleenthede moet speel. China spog daarmee dat hy die wêreld getransformeer het – en hy het.

Maar net soos die wêreldwye ekonomie wankel en geopolitieke spanning styg en verander, moes hierdie inisiatief ook ontwikkel en by ’n steeds veranderende wêreld aanpas. Terwyl die geskatte Chinese belegging van $1 biljoen hoofsaaklik aan energie- en vervoerprojekte bestee is, het die jongste forum op bykomende rigtings gedui. China het ’n nuwe “digitale syroete” aangekondig, wat op telekommunikasie en digitale infrastruktuur fokus. Ontleders glo dat dit ’n meer volhoubare wins vir Chinese maatskappye sal beteken, en terselfdertyd die impak van die Westerse verbod op Chinese 5G-toerusting sal verminder.

Die BRI het vele teëstanders, veral in Westerse kringe, spesifiek ten opsigte van verhoudinge met lae-inkomste en ontwikkelende nasies, waarin as “skuld-diplomasie” gebrandmerk word. Maar ’n verslag van die Wêreldbank dui aan dat die BRI die handel van deelnemende partye met 4,1% vermeerder het, 5% meer buitelandse beleggings gelok het en die BBP van lae-inkomste lande met 3,4% laat styg het. Die verslag lui verder dat “die BBP van opkomende en ontwikkelende ekonomieë in die wêreld het tussen 2012 en 2021 met 3,6% gestyg weens voordeel wat uit die BRI gespruit het.”

Met inagneming van sulke beleggings en samewerking wil Afghanistan se Taliban-administrasie formeel by die Gordel-en-Pad-infrastruktuurinisiatief aansluit. In ’n onderhoud met Reuters op 19 Oktober het Afghanistan se waarnemende minister van handel, Haji Nooruddin Aziz, onderneem om ’n tegniese span na China te stuur vir samesprekinge om die inskakeling te finaliseer. China het reeds sedert die Taliban-regering in 2021 die mag in Afghanistan oorgeneem het, belangstelling daarin getoon om bande met dié land te ontwikkel, selfs al het geen ander regering die administrasie erken nie.

Kernpunte in hierdie onderhandelinge is aspekte soos die strategiese ligging van die land, belangrike veiligheidsaspekte vir die groter BRI en Afghanistan se grootliks onbenutte bronne (soos litium, koper en yster). China het sy toewyding tot die ontwikkeling van verhoudings verlede maand gedemonstreer deur die eerste land te word wat ’n ambassadeur in Kaboel aangestel het; ander lande het voormalige ambassadeurs of aangewese hoofde van missies in ’n charge d’affairs hoedanigheid behou, wat beteken het dat geen formele oorhandiging van geloofsbriewe aan die regering nodig was nie.

Afghanistan se ekonomie het in die jare tot 2001 redelik gegroei en het ’n BBP-groeikoers van 8% in 2000 geniet. Sedert die Amerikaanse inval tot op datum het dit egter dramaties verswak en het ’n afhanklike verbruikersekonomie geword, wat op ingevoerde goedere van ondersteunende nasies en buitelandse hulp steun. Teen 2003 het die land in ’n erge en onmiddellike resessie versink. Meer as twee jaar ná die oorname van die Taliban, is die ekonomie steeds onstabiel. Droogte, mislukte oeste, verlies aan menslike kapasiteit, die onmiddellike opheffing van buitelandse hulp, internasionale finansiële verhoudings, sanksies, politieke onstabiliteit en onveiligheid, migrasie en intern ontheemde persone, tesame met die nagevolge van Covid, het alles daarin geslaag om ’n enorme las op die land se ekonomie te plaas.

Terwyl die Taliban se vroeëre heerskappy in die negentigs in Afghanistan hoogs vernietigend was, insluitend ekonomies, het die huidige Taliban-regering tekens getoon dat hulle nie ’n herhaling van daardie situasie wil hê nie. Hoewel die ekonomie nie hul grootste prioriteit is nie, het dit tog ’n fundamentele pilaar van die huidige administrasie geword. Die mees onlangse verslag van die Wêreldbank (Mei 2023) oor Afghanistan se ekonomie toon positiewe tekens, soos ’n afname in die inflasiekoers, ’n stabiele geldeenheid, beter kontantvloeibestuur (byvoorbeeld deur salarisse betyds te betaal), verbeterde toegang tot bankdeposito’s en ’n toename in binnelandse inkomste met beter bestuur van die invordering van belasting.

Buitelandse beleggers is huiwerig om na Afghanistan terug te keer, aangesien die militante Islamitiese staat in die onlangse verlede buitelandse ambassades en ’n hotel wat gewild onder Chinese beleggers in Kaboel was, geteiken het. Aziz het egter teenoor Reuters bevestig dat veiligheid ’n prioriteit vir die Taliban-regering is en bygevoeg dat groter dele van die land na 20 jaar van oorlog – wat beëindig is toe buitelandse magte onttrek en die Taliban oorgeneem het – nou veilig is.

Dit sal waarskynlik nog baie jare duur voor die resultaat van China se onlangse eerste stappe tot samewerking met die Taliban-regering duidelik sal wees. Tog hou dit die belofte van ’n lewenslyn in, wat die land dringend nodig het. Dit skep ook opwindende geleenthede vir die instel en herinstel van verhoudinge met Afghane. China se algemene benadering van geen inmenging op regeringsvlak in ’n land se binnelandse administrasie kan beteken dat sommige kritiese aangeleenthede, soos die herinstel van vroueregte in Afghanistan, nie ’n voorwaarde vir inskakeling sal wees nie. Daar mag egter wel op besigheids- en op sosiale vlak geleenthede wees om ’n invloed van binne op sulke praktyke uit te oefen. China se ontluikende Christelike sendingmag plaas ’n sterk fokus daarop om verhoudinge deur sake- en ontwikkelingsinisiatiewe te bou. Die BRI word deur talle Chinese gelowiges as ’n “geskenk van God” beskou, ’n oop deur tot geleenthede in die “oeslande” van die wêreld. Die ontwikkelende verhoudinge tussen die twee nasies is nie ’n verrassing vir God nie; Hy het Sy kinders reeds vir ’n tyd soos nou voorberei. Die groter Liggaam van Christus kan hierdie geleentheid aangryp deur voorbidding en die belegging in bronne wat hierdie individue en families kan bystaan terwyl hulle die arms van die klein maar veerkragtige Kerk in Afghanistan versterk.

Bid asb. saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat God hierdie ekonomiese bande sal gebruik om die lewens van Afghane te seën en op te hef;
  • dat God die Christen-arbeidsmag sal beskerm terwyl hulle voorberei om in Afghanistan te dien; en
  • dat die Kerk in Afghanistan deur verhoudings wat ontwikkel, versterk en bemoedig sal word en daar ’n wonderlike oes vir die Koninkryk sal wees.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 1/11/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here