Geskryf deur: Andre Viljoen
Artikelbron: gatewaynews.co.za
’n Gebedsaamtrek vir Israel in Seepunt, Kaapstad verlede naweek is deur die polisie gekanselleer voordat dit begin het nadat militante Palestina-ondersteuners – sommige met Hamas-, ISIS- en Hisbolla-vlae – die byeenkoms onwettig binnegeval en gewelddadig geraak het toe hulle gevra is om uiteen te gaan.
Palestina-ondersteuners het net ná 11:00 by die Seepunt-promenade begin aankom en hul getalle het gou tot meer as 1 000 aangegroei by die vergaderpunt voor die geskeduleerde 14:30-gebedsaamtrek wat deur die Concernede Clergy of the Western Cape, die Internasionale Christen-ambassade Jerusalem (ICEJ) Suid-Afrika, Bridges for Peace en South African Friends of Israel (SAFI) gereël is.
Slegs ’n handjievol Israel-ondersteuners was in die gebied toe die pro-Palestynse groep aangekom het. Volgens SAFI is Israel-ondersteuners deur die Palestynse ondersteuners aangerand en gedreig.
ISIS- en Palestynse vlae is deur betogers gewaai wat die beplande gebedsgeleentheid in Seepunt ontwrig het.
Die dag voor die ontwrigting van die amptelike gebedsgeleentheid in Seepunt, het tienduisende Palestynse ondersteuners aan ’n wettige optog deur Kaapstad deelgeneem sonder enige inmenging deur ondersteuners van Israel.
Volgens mediaberigte het die polisie gister skokgranate en waterkanonne gebruik omdat pro-Palestynse betogers geweier het om uiteen te gaan. Verskeie mense is in hegtenis geneem vir openbare geweld en ten minste twee gewere is gekonfiskeer.
Vivienne Myburgh, die nasionale direkteur van ICEJ Suid-Afrika het gister gesê: “Ons geleentheid is vanmiddag totaal gekaap. Dit is gekanselleer voordat dit begin het.”
Die saamtrek was om in solidariteit met Israel te staan nadat Hamas op 7 Oktober wrede aanvalle op Israel geloods het. Daar sou vir die vrylating gebid word van meer as 240 Israelse gyselaars wat steeds in Gasa aangehou word.
Voor die beplande Seepunt-geleentheid het Myburgh aan Gateway News gesê dat hulle Christene versoek om saam te staan ter ondersteuning van Israel by die saamtrek in ’n tyd van “toenemende anti-Semitisme, leuens, ’n media-aanslag en anti-Israel-betogings wat wêreldwyd aan die gang is”.
Sy het gesê daar was net sowat 10 mense gister by die gebedsbyeenkoms toe die Palestina-ondersteuners opgedaag het. Daar word verwag dat meer as 2 500 mense by die gebed sou aansluit, maar busse met Israel-ondersteuners is deur die polisie weggewys en die geleentheid is gekanselleer voordat dit kon begin.
Sy het gesê ‘n bejaarde man se vinger is gebreek toe pro-Palestynse betogers probeer het om die Israeliese vlag wat hy gedra het, weg te ruk.
“Ander is gedreig dat hulle geskiet sal word (die Imam het werklikwaar ’n geweer by hom gehad) en ’n ander ou het ’n ligte meswond op sy arm opgedoen,” het sy gesê.
Die klein groepie Christene wat vergader was voor die gebedsaamtrek moes vir hul veiligheid uit die gebied begelei word, het sy gesê.
Sy het gesê Mandla Mandela, kleinseun van Nelson Mandela, was onder die pro-Palestina-ondersteuners en dat sy glo baie van hulle was daar in reaksie op ’n oproep wat hy tydens Saterdag se pro-Palestina-optog gemaak het dat mense moet opdaag om die gebedsbyeenkoms te ontwrig.
Mandla Mandela (met geruite hemp) by gister se ontwrigte gebedsgeleentheid.
“Kaapstad/SA het ’n lyn oorgesteek. Ons het altyd geweet daar is Islamitiese militante in die omtrek, maar het nog nooit werklike geweld of anti-Semitiese aanvalle ervaar nie.
“Die Israeliese Gasa-oorlog het onbeteuelde haat en gewelddadige dreigemente en optrede veroorsaak. Natuurlik sterk die ANC-regering se ondersteuning van Hamas hulle in hul kwaad,” het Myburgh gesê.
Sy het gesê die Joodse gemeenskap is “geruk” en sy verwag ’n toename in Aaliyah [immigrasie na Israel] uit Suid-Afrika.
Die Christen-sanger en pastoor, Heinz Winckler, sê in ’n video [sien hieronder] wat gemaak is oor die ontwrigte gebedsaamtrek dat sommige Christen-ondersteuners van Israel later saam ’n tyd van gebed by die Kaapstad-stadion gehou het.
SAFI sê in ’n verklaring wat gisteraand uitgereik is dat hy die “militante en ongrondwetlike ontwrigting” van gister se beplande gebedsaamtrek veroordeel en vra vir dringende ingryping deur die Suid-Afrikaanse regering om vryheid van spraak en vergadering te beskerm.
SAFI is een van die organiseerders van ’n beoogde saamtrek by die Uniegebou, Pretoria op Sondag 19 November om “die Bybelse beloftes aangaande Israel te verklaar en vir ons geliefde land Suid-Afrika te bid”.
Gisteraand se SAFI-verklaring gaan voort: “Die South African Friend of Israel (SAFI) veroordeel die gedwonge stilstand van die Concerned Clergy Western Cape se gebedsbyeenkoms, wat georganiseer is om vrede en eenheid in Israel te bevorder onder individue van uiteenlopende gelowe. Die ingryping deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was nodig weens kommer oor veiligheid wat voortgespruit het uit die teenwoordigheid van Hamas-ondersteuners nadat hulle die polisie met projektiele begin bestook het.
“Die ongemagtigde vergadering van Hamas-ondersteuners, gekenmerk deur die vertoon van vlae wat verband hou met ekstremistiese groepe, insluitend Hamas, Hisbolla en ISIS, het die geleentheid ontwrig met gewelddadige gedrag toe hulle gevra is om uiteen te gaan. Tragies genoeg het hulle optrede tot die kansellasie gelei van die gebedsaamtrek en bywoners moes vir hul veiligheid wegbegelei word. Verskeie opstokers is op die toneel in hegtenis geneem. Videomateriaal van hierdie growwe skending van Suid-Afrikaanse menseregte is hier onder beskikbaar, met burgemeester Geordin Hill-Lewis se verklaring oor hierdie afskuwelike gedrag.
“Getuieverslae bevestig dat Christen-vroue wat die gebedsaamtrek bygewoon het, fisies aangerand is en gevolg deur mans wat Palestynse vlae geswaai het. Lede van die Joodse gemeenskap het vinnig ingegryp om hierdie Christene in aparte voertuie van Seepunt af weg te begelei om hul veiligheid te verseker.
“SAFI veroordeel hierdie gewelddadige disrespek van Suid-Afrikaners se reg op vryheid van spraak en vreedsame vergadering, soos uiteengesit in ons Grondwet […]
“Die Concerned Clergy Western Cape het probeer om ’n ruimte te skep vir diverse gemeenskappe om vreedsaam bymekaar te kom en dit is afgryslik dat hierdie visie met sulke gewelddadige en aggressiewe optrede deur lede van Pro-Palestina groepe ontmoet is. Dit kom ná ’n aantal fisiese aanvalle op Christen-mense wat verlede week buite die parlement vir Israel gebid het.
“Een van die organiseerders van die gebedsaamtrek, Vivienne Myburgh van die Internasionale Christelike Ambassade Jerusalem (ICEJ) het gesê sy is ‘ontsteld dat die regte van Christene en ander gelowe in ons demokrasie ondermyn is’. Hamas, bekend daarvoor dat hulle vryheid van spraak in ander wêrelddele onderdruk het, blyk sy ondersteuners op Suid-Afrikaanse bodem te beïnvloed. Een Hamas-ondersteuner met wie ’n onderhoud op SABC gevoer is, het geweier om die optrede van die gepeupel te veroordeel en gesê dat ‘enige Israelse vlag nie welkom is in Suid-Afrika nie’ en dat hulle ‘verbrand’ moet word.
“SAFI doen ’n beroep op die SAPD om hierdie voorval deeglik te ondersoek en toepaslike stappe te neem teen dié wat verantwoordelik is vir sulke onnodige en gruwelike geweld.
“As ’n organisasie wat daartoe verbind is om begrip en samewerking te bevorder, doen SAFI ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hierdie verskriklike geweld en ekstremisme te veroordeel. Dit is ons kollektiewe verantwoordelikheid om die waardes van vreedsame dialoog en naasbestaan, soos verskans deur ons Grondwet, te handhaaf om te verseker dat die regte van alle Suid-Afrikaners beskerm, gerespekteer en gehandhaaf word.”
Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het in ’n verklaring oor gister se gebeure in Seepunt gesê die “gewelddadige ontwrigting” van gister se beplande vreedsame gebedsbyeenkoms ter ondersteuning van Israel “verdien die veroordeling van alle Kapenaars wat vrye uitdrukking in ons oop demokrasie waardeer”.
Hy het gesê: “Al verskil inwoners of groepe hewig met mekaar, mag hulle nie betrokke raak by gewelddadige ontwrigting nie. Ons doen ’n beroep op alle inwoners om dit nie te doen nie.”
Die Kaap se raadsvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Sionistiese Federasie, David Cohen, het in ‘n verklaring gesê hulle wou gister saam met hul Christen-Sionistiese vriende in Seepunt staan om te “bid vir vrede en die terugkeer van die 239 gyselaars” wat tans deur Hamas aangehou word.
“Die feit is dat ‘n demokrasie beoordeel word oor hoe goed dit die regte van al sy burgers beskerm, selfs diegene wat nie die menings van die regering deel nie. 50 000 mense het Saterdag in Kaapstad opgeruk en slagspreuke vir Palestina gesing. Ek kan jou verseker, niemand daar was bekommerd dat dit deur pro-Israel magte ontwrig sou word nie. Ons veroordeel die geweld wat gister gepleeg is en doen ’n beroep op alle regeringsvlakke, munisipaal tot nasionaal, om saam met ons geweld en intimidasie te veroordeel wat die vrye samekoms van mense in hierdie demokrasie verhoed het,” het Cohen gesê.
n ’n persverklaring sê die Suid-Afrikaanse Sionistiese Federasie: “Dit is diep betreurenswaardig dat die optrede van hierdie antivredefaksie gelei het tot die kansellasie van die gebedsaamtrek, wat die deelnemers gedwing het om weg van die toneel begelei te word uit besorgdheid oor hul veiligheid…”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 14/11/2023
Foto: Polisie bots met militante Palestynse betogers by Seepunt
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.