Geskryf deur: Marziyeh Amirizadeh
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
GEMENGDE GEVOELENS VAN VREUGDE, BITTERHEID EN VREES
Om die nuus te kyk oor die vrylating van Israeliese gyselaars is ’n ongelooflike vreugde en bring trane in my oë. Dit herinner my aan my eie vrylating uit die tronk, nadat ek ter dood aan die galg veroordeel is in Iran vir die misdaad om my tot die Christendom te bekeer. Ek het maande van geestelike en fisiese ontberings en intense ondervraging in die Evin-gevangenis verduur – een van die wreedste tronke ter wêreld.
Bittersoet emosies
So bly soos ek was om uit daardie tronk bevry te wees, het ek diep hartseer gevoel omdat ek vriende en talle onskuldige gevangenes moes agterlaat wat geen stem gehad het nie. Ek was ook bitter en kwaad nadat ek die teregstellings, seksuele mishandeling en marteling van my selmaats aanskou het.
’n Nuwe, ander mens
Na my vrylating en die teregstelling van my geliefde Irannese Koerdiese vriendin, Shirin Alamhooli, het ek ’n nuwe mens geword, onbekend met die buitewêreld. Ek was vasbeslote om die vernietiging van Iran se bose Islamitiese regime te sien, ’n belofte wat ek aan Shirin gemaak het voor haar teregstelling.
Gemengde gevoelens
Vandag verstaan ek die gemengde gevoelens onder Israeli’s oor die gyselaars. Familielede is oorstelp van vreugde oor die terugkeer van hul geliefdes, maar ook bekommerd oor wat hulle verduur het. Ná meer as 470 dae in gevangenskap, amper dubbel die tyd wat ek deurgebring het, sal hulle nie meer dieselfde mense wees nie. Aan die ander kant treur ander gesinne en wag hulle om die liggame van hul geliefdes te ontvang om te begrawe. Daar word beraam dat meer as ’n derde van die oorblywende 94 gyselaars reeds dood is. En dié wat oorleef het is ongetwyfeld vir die res van hul lewe beïnvloed.
Is dit ’n goeie ooreenkoms?
Baie Israeli’s vra of die ooreenkoms om gyselaars te verruil vir Hamas-terroriste ’n goeie transaksie is. Sal Hamas by die terme van die ooreenkoms hou? Die antwoord is “NEE”. Sal hulle elke geleentheid gebruik om die grootste moontlike terreur en hartseer te veroorsaak? Die antwoord is “JA”.
Daar word berig dat 1 904 terroriste (wat die bloed van baie Israeli‘s op hul hande het) vrygelaat gaan word in ruil vir 33 Israeliese burgerlike gyselaars. Dit is waansin om duisende terroriste, wat dors na die bloed van Joodse mense, vry te laat in ruil vir Israeliese babas, grootouers en vroue wat vir maande lank verkrag en mishandel is.
Enige ooreenkoms is verkeerd
Hoe bly ek ook al is om die gyselaars vry te sien, glo ek sterk dat enige soort oor-eenkoms met Hamas-terroriste verkeerd is. Die wêreld moet hulle aanspreeklik hou vir hulle misdade teen die mensdom en die dood van duisende Israeliese burgers, om nie eers te praat van hul eie mense nie. Hamas moet gedwing word om al die gyselaars onmiddellik en onvoorwaardelik vry te laat.
Belaglik, sê jy? Glad nie meer belaglik as om terroriste van die begin af te paai en hulle en hul Iranse Islamitiese regime-beskermhere te versterk nie.
Weier om te buig
Tydens my gevangenskap, hoe graag ek ook al wou vrygelaat word, het ek aan die wat my gevange geneem het en die regters gesê ek verkies om tereggestel te word eerder as om my geloof te verloën en terug te keer na Islam. Ek het standvastig gebly, nie net vir my geloof in Jesus nie, maar ook omdat ek onder geen omstandighede voor daardie bose mense sou buig nie. Ek het niks gedoen om in die tronk te wees nie. Hoekom moet ek berou toon en om verskoning vra? Hulle behoort berou te toon en om verskoning te vra omdat hulle my regte weggeneem en my soos ’n krimineel behandel het. Dieselfde geld vir Hamas.
Benut trauma
Om gyselaars te neem is deel van die DNS van alle terroriste. Die Islamitiese Republiek-regime van Iran is die “peetvader” van Hamas, Hezbollah, die Houthi’s en al hul volmaggroepe. Hulle het hul Islamitiese volmagte dieselfde taktiek geleer. Hulle neem Iraniërs en Westerse burgers as gyselaars in ruil vir hul eise, en vra miljarde dollars. Hulle benut die trauma en druk wat die gyselaars se gesinne op wêreldleiers plaas.
Staan saam met Israel
Ons moet in hierdie tyd van spanning en trauma saam met Israel staan, en ons eie waardes versterk om die Weste te beskerm teen die ekspansionistiese tentakels van die Islamitiese regime-seekat. Ongelukkig weet ek dit uit eerstehandse ervaring, en hierdie waarheid kan nie oordryf word nie.
MARZIYEH AMIRIZADEH – ’n Irannese Amerikaner wat na die VSA geëmigreer het nadat sy in Iran ter dood aan die galg veroordeel is vir die misdaad om haar tot die Christendom te bekeer. Sy het maande van geestelike en fisiese ontberings en intense ondervraging in die Evin-gevangenis verduur – een van die wreedste tronke ter wêreld. Besoek marzisjourney.com.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 09/02/2025
Foto slegs ter illustrasie
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.