Geskryf deur: Anjoné de Jager
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Hykie Berg het vir jare in stilte gesukkel met heroïenverslawing – ’n donker seisoen wat hom nege keer in klinieke en instellings laat beland het voordat hy herstel het. Na meer as sewe jaar se soberheid het hy teruggeval. Vir baie was dit die eerste keer dat hulle bewus geword het van sy stryd met verslawing. Die media het vinnig op die storie gespring, en sy persoonlike stryd het skielik ’n openbare een geword. In plaas daarvan om weg te kruip in skaamte, het Hykie gekies om eerlik te wees en dit as ’n geleentheid gebruik om ander te help wat in stilte met hul eie swaarkry worstel.

Meer as ’n terugval
Na sy terugval en die publikasie van sy eerste boek, het Hykie se verhaal wyd begin versprei. Al hoe meer mense het met sy getuienis geïdentifiseer, en sonder dat hy dit beplan het, het hy die simbool geword van iemand wat uit verslawing losgebreek het. “Ek het die poster boy geword vir iemand wat ’n junkie was en reggekom het,” sê hy. Die gevolg was dat hy oorval is met navrae van ouers en geliefdes wat hoop soek vir iemand in hulle lewe. Tot vandag toe ontvang hy daagliks boodskappe van mense wat vra: “Wat doen ek met my kind?” Hierdie oorweldigende behoefte aan leiding het uiteindelik
aanleiding gegee tot ’n informele bediening wat fokus op verslawing, toksiese families, mede-afhanklikheid en emosionele genesing.

Die realiteit van rehabilitasie
Aanvanklik het Hykie probeer help waar hy kon. Hy het geluister, ondersteun en verwys na klinieke wat volgens hom betroubaar was. Maar dit het gou duidelik geword dat nie elke rehabilitasie-uitkoms positief is nie. Wanneer mense nie herstel het nie, het die blaam soms by hom beland. Mettertyd het hy begin agterkom dat die wêreld van versorging en berading soms met belangekonflik besmet is. “Daar is mense in die terapeutiese wêreld wat verhoudings het met sekere rehabilitasiesentrums – hulle kry aansporings om iemand te verwys al is dit nie die beste plek vir daardie persoon nie,” verduidelik hy.

Hierdie besef het daartoe gelei dat hy homself doelbewus onttrek het van alle verwysings. “Ek het heeltemal opgehou om dit te doen,” sê hy. Hy wou nie langer deel wees van ’n stelsel waarin geld of roetine die leiding neem bo ware herstel nie.

’n Roeping op onbekende grond
Vier jaar lank het die eienaar van Hope Again Wellness Centre, ’n Christelike herstelprogram in Potchefstroom, Hykie genooi om net te kom kyk wat hulle doen. Ná baie huiwering het hy uiteindelik besluit om te gaan. Wat hy daar beleef het, was onverwags. “Toe ek op die perseel stap, toe voel ek onmiddellik die teenwoordigheid van die Here. Die Here het vir my gesê: ‘Jy moet jouself plant hierso, jy moet betrokke raak hier.’” Wat Hope Again vir Hykie anders maak as soveel ander plekke, is dat dit nie net Christelik in naam is nie, maar werklik Christus-gefokus in praktyk. Hy het al te dikwels gesien hoe sogenaamde geloofsinstansies glad nie die liefde van Jesus uitleef nie. By Hope Again is professionele ondersteuning soos psigiatrie, sielkunde en lewensafrigting wel deel van die program – maar altyd gebou op die fondament van Jesus se liefde. Dit, glo Hykie, is wat ware verandering moontlik maak.

Geen ware herstel sonder Jesus nie
Sy betrokkenheid by Hope Again was nie ’n strategiese besluit nie, maar vir hom ’n daad van gehoorsaamheid. Hy glo dit was nie bloot ’n goeie idee nie, dit was iets wat God van hom gevra het. Hoewel hy nie ander instansies afkraak nie, is dit vir hom duidelik dat blywende herstel buite Jesus nie moontlik is nie. Sonder Hom bly skuld en skaamte ’n las wat mense nie kan afskud nie. Hulle probeer vlug van pyn, maar sonder Christus vind hulle nooit ’n plek van ware veiligheid nie.
Hykie waardeer veral dat Hope Again bekostigbare hulp bied. “Daar is nie ’n goedkoper plek in die land waar jy dieselfde dienste sal kry nie,” sê hy. Ongeveer 30% van die inwoners word gratis opgeneem – insluitend mense wat direk van die straat af kom. “Ons wil almal help. Ons kan net nie almal op dieselfde tyd help nie.”

Wat jy gee, behou jy
Hykie se rol by die sentrum is veelvlakkig. Hy help met bemarking, fondswerwing en geestelike ondersteuning. Maar sy grootste dryfkrag lê nie in die take wat hy verrig nie, maar in die geestelike betekenis daarvan. “As ek vergeet waar ek vandaan kom, gaan ek val,” sê hy. “Ek kan net hou wat ek weggee. Dis soos liefde. Jy behou dit deur dit uit te deel. My volharding in soberheid werk net so.”

Herstel is verhouding, nie net vordering nie
Vir Hykie lê die ware teenmiddel vir verslawing nie net in soberheid nie, maar in egte verhoudings. “Die teenoorgestelde van verslawing is nie herstel nie, maar verbondenheid” sê hy. Dit beteken om betekenisvolle verhoudings te hê – met God, met jouself en met ander. Want, verduidelik hy, die doel is nie bloot om iemand sober te kry nie, maar om hulle te help besef dat hulle waardevol is. Wanneer iemand werklik hul identiteit in Christus verstaan, verander hul begeertes ook. “Dan wil jy nie meer gebruik nie.”

HOPE AGAIN WELLNESS CENTRE – Christelike herstelprogram in Potchefstroom. Vir meer inligting, besoek

 

…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.

www.hopeagainwellnesscenter.org

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 17/10/2025
Foto slegs ter illustrasie.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here