Geskryf deur: Herman de Kock
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die reis wat God vanaf Genesis 12 met Abram stap – totdat hy Abraham word en selfs verder, toe Isak uiteindelik gebore is – bied baie stof om kinders se verbeelding te prikkel. Ek en my vrou het eenkeer vir ongeveer vyftig kinders tussen die ouderdomme van 6 en 13 ’n les van Abraham, Isak en Jakob aangebied. My vrou het ’n dialoog geskryf en ek en my twee dogters het die drie figure uit die tyd van Genesis uitgebeeld – ek natuurlik Abraham, ons oudste dogter Isak en ons jongste dogter Jakob. Die gesprek het al die woelwaters se aandag vasgenael gehou, veral toe hulle ook die kans kry om vir ons vrae te vra!
Ouers, raak kreatief
Trek jou aan soos ’n wafferse besoeker uit die tyd van Genesis, selfs al voel dit vir jou ’n bietjie verspot. Selfs die vroeë tieners wat aanvanklik oë rol en nie sal wys dat hulle geïnteresseerd is nie, sal in latere jare terugdink aan hierdie sessie! Maar die pret moet ’n doel hê. Alles moet beplan word om die essensie van God se karakter oor te dra wanneer die verskillende Bybelfigure bestudeer word.
Wat moet ons leer van Abram?
Ons leer dat dit God is wat hom gekies het. En dat dit God is wat met hom ’n pad gestap het. Abram het foute gemaak, soos om vir Lot saam te neem toe God hom beveel het om op te pak en te gaan, en toe hy ingegee het en na sy vrou se raad geluister het en die plan van God in eie hande probeer neem het deur by die slavin Hagar ’n kind te verwek. Maar God het steeds by Abram gebly en selfs so ver gegaan om die verbondsverhoudingsketting voort te sit wat uiteindelik gelei het tot sy nuwe identiteit as Abraham.
Verwys na Hebreërs 11 in jou vertelling
Vanuit hierdie hoofstuk sien ons waarom daar so dikwels na Abraham verwys word as die vader van geloof. Daar was ’n pad wat Abram gestap het tot by die Abraham wat God in Genesis 22 gehoorsaam het deur die onmoontlike toets. En so sien ons God se karakter: Hy stap die pad saam met Abram en Hy los hom nooit nie. Deur God se werking in Abram ontwikkel daar ’n geloof wat as voorbeeld dien vir alle volgelinge van Christus. Dit bring dan die Hebreër-preek se museum van gelowiges in hoofstuk 11 tot die konklusie in die laaste twee verse: Abraham en al die gelowiges het, deur die genade van God, ’n ewigheidsperspektief ontwikkel.
Geloof gee ons God se perspektief
Abraham maak foute, maar hy beleef God se ingrype op ’n treffende manier wanneer hy toenadering tot God soek. Geloof bring my op ’n plek waar ek my met God verbind. Dit maak dat my oë op God gevestig bly en dat ek begin raaksien wat God vir my gedoen het. Geloof gee my die vrymoedigheid om in die Allerheiligste in te gaan en direk met God te praat, en om vir God te vra om my te help om na myself en my omstandighede te kyk vanuit sy per-spektief. Vanuit God se perspektief sal ons besef dat ons maar net tydelik in hierdie wêreld is – en op pad is na die nuwe wêreld wat Hy vir ons voorberei het.
HERMAN DE KOCK – hoof van die interkerklike jeugbediening, Geloofstroom. Kontak hom by info@geloofstroom.org of op Facebook of Instagram.
…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 14/06/2025
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









