Geskryf deur: Daniel Kolenda
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
‘n Boer in Noord-Carolina het op ’n pragtige plaas gewoon wat al geslagte lank in sy familie was. Nadat hy oorlede is, is die grond aan ’n buurman verkoop. Toe die nuwe eienaar deur die veld loop, het hy ’n ongewone rots opgemerk wat bo die grond uitsteek. Hy het dit opgetel en besef dat dit nie ’n gewone rots was nie. Nadat hy dit skoongemaak en na ’n juwelier geneem het, is dit bevestig dat dit ’n groot, ongeslypte smarag is wat etlike miljoene dollars werd was. Die edelsteen was die hele tyd daar, deur baie gesien, maar nooit herken nie. Net so besef baie mense wat God se wil soek nie dat dit dalk reeds binne bereik is nie. Soos die herkenning van ’n edelsteen vertroudheid vereis, vereis die herkenning van God se wil dat jy Sy karakter ken.
God het ’n algemene wil en ’n spesifieke wil
’n Man het onlangs my raad gevra. Hy wou sy vrou verlaat vir ’n ander vrou en het beweer dat God hom gesê het om dit te doen. Ek het nie ’n profetiese woord of hoorbare stem nodig gehad om hom te antwoord nie – ek het onmiddellik geweet dit was nie God se wil nie, gebaseer op die Skrif. God se Woord beveel duidelik getrouheid in die huwelik (Mat 5:28). Wanneer ons God se wil soek, kan dit oorweldigend voel, maar God het reeds baie van Sy wil in Sy Woord geopenbaar. Dit is Sy “algemene wil”. Verder het Hy ook ’n “spesifieke wil” wat uniek vir elkeen van ons ontwerp is. God se spesifieke wil weerspreek egter nooit Sy algemene wil nie. As jy ’n stem hoor wat jou aanmoedig om ’n “Christelike dwelmkartel” te begin, kan jy dit onmiddellik afwys. Ongelukkig is die geskiedenis vol mense wat geglo het dat hulle God se wil doen terwyl hulle teen Sy Woord optree. Hulle dien as ’n waarskuwing: opregtheid is nie ’n plaasvervanger vir die Skrif nie. As ons God se Woord ons riglyn maak, sal ons nie maklik mislei word nie.
God het ’n ‘goeie wil’ en ’n ‘volmaakte wil’
God het ’n wonderlike plan vir elke lewe, maar hoe ons op Sy wil reageer, verskil. Daar is vier moontlikhede:
1. Om onkundig te bly oor God se wil – wat duidelik nie op jou van toepassing is nie, aangesien jy Hom soek.
2. Om God se wil te ken, maar dit te weerstaan – en eerder rebellie te kies.
3. Om tevrede te wees met minder – om net ’n deel van God se wil te ken sonder om Sy beste na te jaag.
4. Om God se beste te soek – om Hom volkome te vertrou en te gehoorsaam, selfs wanneer dit moeilik is.
Kies Hom volkome
Dikwels verlei die maklike pad ons om minder as God se volmaakte wil te kies. Ongeduld dryf ons soms om besluite te neem wat God nooit bedoel het nie. Maar God se volmaakte wil, met al Sy seëninge, is gereserveer vir dié wat bereid is om te wag, te vertrou en radikaal te gehoorsaam. Om God se beste te kies, kan ’n moeiliker reis behels. Soms lyk Sy weg langer en minder lonend as ons kortpaaie. Maar elke keer, sonder uitsonde-ring, word bewys dat God se plan beter is as enigiets wat ons self kon reël. Hoe gouer ons ons daartoe verbind om Hom ten volle te vertrou, hoe minder onnodige swaarkry sal ons verduur.
God stel belang in ons reis
As verlossing deur Christus se dood voltooi is, waarom is ons dan nog hier? God kon ons tog onmiddellik Hemel toe neem? Een man het skertsend gesê dat Jesus dalk steeds ons hemelse wo-nings bou. Maar God het die heelal in ses dae geskep – Hy het nie duisende jare nodig om huise te bou nie! Dit is duidelik dat daar meer daaraan is. Vir God is ons reis belangrik, nie net ons bestemming nie. Hy gebruik ons aardse reis om ons vir die ewigheid voor te berei en vorm ons karakter deur beproewinge en lesse langs die pad.
Dit gaan nie net oor die bestemming nie
As ’n pa sien ek dit elke keer wanneer ek my kinders op ’n uitstappie neem. Hulle fokus slegs op die bestemming en vra oor en oor: “Is ons al daar?” Ons hanteer dikwels God se wil op dieselfde manier. Ons wil net arriveer, net Sy beloftes vervul sien. Maar gewoonlik lê daar ’n lang en belangrike reis tussen die roeping en die vervulling daarvan. Hierdie reis is van kardinale belang. Dit leer ons om te vertrou, verfyn ons geloof, bou uithouvermoë en rus ons toe vir groter dinge wat voorlê. Jeremia 12:5 herinner ons dat as ons sukkel met kleiner wedlope, hoe sal ons dan meeding in groter uitdagings? Sonder die reis sou ons nie gereed wees vir die toekoms wat God vir ons voorberei het nie.
Moenie die proses verag nie
As jy God se wil soek is jy reeds op die regte pad. Psalm 32:8 belowe dat God ons sal wys watter pad ons moet volg. Jou huidige seisoen van soek, wag en leer is nie verniet nie – dit vorm jou tot wie jy moet wees. Moenie die proses verag nie. Jou geloof groei en jou vertroue word getoets. Selfs al voel dit stadig of verwarrend, is dit alles deel van God se volmaakte plan vir jou. Hy berei jou voor vir die toekoms wat Hy bestem het.
’n Gebed van oorgawe
Hemelse Vader, vandag bied ek myself aan U as ’n lewende offer. Omdat U U Seun vir my gegee het, gee ek myself gewilliglik aan U. Ek lê my drome, begeertes en planne aan U voete. Laat U wil in my lewe geskied. Gebruik my hande om U Koninkryk te bou. Gebruik my lewe om U Naam te verheerlik – in Jesus Naam, amen.
DANIEL KOLENDA – president en HUB van Christ for All Nations.
Hierdie uittreksel is geneem uit Live Before You Die, hoofstuk 3.
Besoek cfan.org.za.
…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 14/06/2025
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









