Geskryf deur: Lisa Polson
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

‘n Uitgestorwe wolfspesie – wat glo meer as 10 000 jaar gelede bestaan ​​het – is terug. Wel, soort van. In wat beskou word as die wêreld se eerste “suksesvolle herlewing (de-extinction) van ’n uitgestorwe dier”, het wetenskaplikes by Colossal Biosciences onlangs die geboorte aangekondig van drie geneties gemanipuleerde wolfwelpies wat na bewering lyk soos die legendariese Aenocyon dirus, beter bekend as die reusewolf (dire wolf), ’n roofdier wat eens in Noord-Amerika geleef het. Hierdie wetenskaplike prestasie het diep etiese en teologiese debatte ontlok. Oorskry ons, as mense, ’n grens wanneer ons moderne wetenskap gebruik om terug te bring wat God toegelaat het om uit te sterf?

Die herlewing van die reusewolf
Colossal se werk het begin met die rekonstruksie van antieke DNS afkomstig van twee reusewolffossiele wat volgens wetenskaplikes duisende jare oud is (die tydlyn is nie hier belangrik nie, die etiese vraag is ons fokus). Hierdie DNS is gebruik om genome van hoë gehalte saam te stel en dit te vergelyk met dié van moderne hondagtige diere soos wolwe en jakkalse.
Wetenskaplikes het toe CRISPR-tegnologie vir genoom-redigering gebruik om die DNS van grys wolwe op 20 spesifieke genetiese terreine oor 14 gene aan te pas – veranderinge wat grootte, pelskleur, kakebeensterkte en skedelwydte beïnvloed. Hierdie gemanipuleerde selle is in huishond-surrogate ingeplant, wat gelei het tot die geboorte van drie hibriede wolfwel-pies: Romulus, Remus en Khaleesi.

Die maatskappy beweer dat hierdie diere baie soos die uitgestorwe reusewolwe lyk – groter, witter en meer gespierd as tipiese grys wolwe, hoewel steeds geneties onderskeibaar. “Hulle is nie regte reusewolwe nie,” sê kritici, “maar geneties aangepaste nabootsings.” Colossal sê hul doelwit is om verlore biodiversiteit te help herstel en bedreigde spesies by te staan. Maar is sulke vooruitgang werklik ’n tree vorentoe?

Speel ons God?
Die vraag van of ons “God speel” deur uitgestorwe spesies weer tot lewe te bring is ’n voortdurende debat wat etiese, filosofiese en teologiese vrae laat ontstaan oor die mens se rol in die natuur. Dis ’n uitdagende en baie komplekse onderwerp.

Die argument ten gunste van herlewing
Sommige wetenskaplikes redeneer dat DNS-redigering bloot ’n moderne uitbreiding is van wat mense nog altyd gedoen het: selektiewe teling, makmaking, bewaring, ensovoorts. CRISPR en genetiese manipulasie is net meer gevorderde hulpmiddels. Hulle argumenteer dat die doel nie is om God te speel nie, maar om die natuur beter te verstaan ​​en moontlik vorige ekologiese foute reg te stel (soos om spesies terug te bring wat mense gehelp het om uit te wis).

Bekommernisse geopper
Kritici voer aan dat die herlewing van uitgestorwe spesies ’n morele lyn oorsteek – dat dit ’n rol aanneem wat aan God behoort. Dit bring ernstige vrae na vore:

• Wat as hierdie herleefde diere ly of nie kan aanpas nie?
• Wat is die gevolge daarvan om hulle terug te plaas in ekosisteme wat intussen verander het?
• Moet die hulpbronne nie eerder gebruik word om huidige bedreigde spesies te beskerm nie, eerder as om dié wat reeds verdwyn het, te probeer terugbring?

Groot mag bring groot verantwoordelikheid
Terwyl sommige herlewing sien as ’n edele poging om die aarde te herstel, beskou ander dit as ’n gevaarlike onderneming, gedryf deur menslike trots. DNS-manipulasie plaas enorme mag in ons hande en met daardie mag kom verantwoordelikheid. Die gevaar is nie die wetenskap self nie, maar hoe ons kies om dit te gebruik.

Bybelse beginsels
Die Bybel bied beginsels wat ons kan help om ons denke te rig wanneer dit kom by die gebruik van kragtige tegnologieë soos DNS-manipulasie:

1 Rentmeesterskap van die skepping
“Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas” (Gen 2:15). Ons is ge-roep om versorgers van God se skepping te wees, nie uitbuiters nie. Dit vereis wysheid en sorg in ons interaksie met die natuur, of dit nou deur bewaring of tegnologie is. Rentmeesterskap impliseer verantwoordelikheid en aanspreeklikheid.

2 Gebruik Godgegewe wysheid
“As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee…” (Jak 1:5). God het mense die vermoë gegee om te leer, te skep en te ontdek. Maar innovasie moet gelei word deur wysheid, nie net nuuskierigheid of ambisie nie.

3 Eerbied vir lewe
“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie” (Luk 12:6). Die Bybel leer dat die lewe heilig is – menslike lewe eerstens, maar ook die lewens van diere en die breër skepping. Enige wetenskaplike praktyk wat lewende wesens raak, moet opgeweeg word teen die waarde en heiligheid van lewe.

4 Nederigheid voor God
“Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig” (Spr 9:10). Net omdat ons iets kan doen, beteken nie ons moet nie. Ware Bybelse wysheid begin met die erkenning van God se gesag en ons menslike beperkinge. Trots in ons eie krag of kennis kan gevaarlik wees.

5 Liefde vir ander en die skepping
“Laat alles by julle in liefde geskied” (1 Kor 16:14). Of dit nou is om bedreigde spesies te help, siektes te genees of uitgestorwe diere te laat herleef, die motief moet altyd liefde wees – liefde vir mense, vir diere en vir die planeet wat God aan ons toevertrou het.

Sê jou sê: Dink jy die herlewing van uitgestorwe spesies steek ’n lyn oor?
info@juig.co.za

 

…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.

 

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 19/05/2025

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here