Geskryf deur: Christ for all Nations
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Christene wêreldwyd het dekades lank die leuen geglo dat Europa nie ontvanklik vir die Evangelie is nie. Tog weet ons volgens Johannes 4:35 dat die siele-oes van Europa ryp en gereed is, net soos by enige ander plek. Met ’n eenvoudige geloof in hierdie werklikheid, het Christ for all Nations (CfaN) op 25 Februarie 2022 – die dag nadat die oorlog in die Oekraïne uitgebreek het – ’n span na die grens tussen Pole en die Oekraïne gestuur om met humanitêre werk te begin en die moontlikheid te ondersoek om talle mense na Christus toe te lei. Matthew McCluskey, die direkteur van Europese uitreike, het hierdie span gelei. Met hulle aankoms in Pole was hulle doelwit eenvoudig: om die plekke te vind waar die vlugtelinge vergader, hulp te verleen en die Evangelie met vrymoedigheid en liefde te verkondig. Ons het Matthew gevra om vir ons te vertel wat daar gebeur het…
Hoe het die uitreike daar begin?
Die dag toe die oorlog begin, het twee Oekraïense CfaN Bootcamp- gegradueerdes, asook Ben Fitzgerald van Awakening Europe met my in aanraking gekom. Die volgende oggend was daar ’n boodskap van Ben af: “Matt, jy moet dadelik kom.” Teen Vrydagaand het ek ’n kaartjie na Krakow gehad. Ek sou ons vriende byeenbring, so naby as moontlik aan die grens kom en bepaal wat die behoefte is. Hoe kan ons help? Die grootste vraag was: “Hoe sou ons die Evangelie in hierdie tyd verkondig?”
Ons span het die Evangelie met durf verkondig, al is ons uitgejou, vervolg, verwerp en uitgelag deur nuusverslaggewers en sosiale media. Ons het geweet die beste wat ons ooit vir iemand in hierdie wêreld kon bied, is redding deur Christus Jesus. Wanneer ander gevlug het, het ons spanne in die teenoorgestelde rigting gery – na waar die bomme geval het – want elke mens is die moeite werd. Wanneer ons mense teëgekom het, het ons getuig: “Ons het gekom om vir julle te sê dat julle nie alleen is nie. Julle is nie vergete nie. In hierdie chaos wanneer die regering misluk, wanneer mense julle in die steek laat, wanneer huise afbrand, is daar ewige vrede en redding in Jesus. Wanneer die wêreld uitmekaarval, sal Jesus jou nooit begewe of verlaat nie.”
Denis Artyushevskiy (Bootcamp-gegradueerde)
Die hoogste prioriteit is altyd Jesus
By die treinstasie waar vlugtelinge afgelaai is, het ons tafels met noodvoorrade opgestel en met hulle begin gesels. Met ons luidsprekers en Awakening Europe se aanbiddingspan het ons daardie ruimte ons eie gemaak. Dit was alles by die treinstasie waar dinge dol gegaan en CNN en die internasionale pers ook uitgekamp het. Ons het aanbid en die Evangelie vrylik verkondig. Ongeag ons humanitêre werk, het ons nie vergeet hoe belangrik dit is om altyd die Evangelie met ander te deel nie. Gedurende daardie eerste sewe weke was dit onmoontlik vir mense om die grens oor te steek sonder om die Evangelie te hoor!
Oor die grens – tot in die Oekraïne
Die eerste week was ons aan die Poolse kant van die grens, maar toe het ons ook ’n span aan die ander kant geplaas. Dít is waar die groot oes regtig begin het. Ons het ongeveer 20 mense in spanne van twee of drie gehad, gewoonlik ’n Bootcamp-evangelis en ’n tolk. Ons het later van ander vlugtelingsentrums gehoor en ook hulp na hulle geneem en die Evangelie daar verkondig. Daar was so baie kinders, ons het elke dag ’n “Kinderuur” aangebied.
Hoe het die CfaN Bootcamp-evangeliste betrokke geraak?
Daar was 18 Bootcamp-gegradueerdes, asook talle Fire Camp-gegradueerdes. Ná drie maande was daar nie meer lang toue mense by die grens nie. Vyftien spanlede het toe verder na die Oekraïne en die oorlogsones gereis. Hulle is dikwels genooi om vir hele eenhede soldate te preek wat daarna sou gaan veg – baie van hulle sou sterf. Wat ’n voorreeg en eer om talle van daardie manne na Christus toe te kon lei.
In Augustus 2022 was ons in Rotterdam vir Awakening Europe en het gevoel die Here lei ons om drie weke later nog ’n Fire Camp in die Oekraïne te gaan hou. Ons wou Oekraïenssprekende evangeliste oplei wat daar sou kon agterbly. Hulle het ongeveer 10 000 bekerings in twee maande gesien.
‘Noudat jy gered is’ in Oekraïens beskikbaar
Dit was verstommend hoe vinnig CfaN die opvolgboekies vertaal, gedruk en in ons hande geplaas het. Elke boekie is aan ’n nuwe gelowige gegee. Ons het dikwels weke later mense raakgeloop wat by die grens tot bekering gekom het en hulle getuienisse en die blywende verandering in hulle lewens met ons gedeel het. Dit was uiters noodsaaklik om die boekies in Oekraïens te hê, aangesien dit moeilik was om nuwe gelowiges in daardie situasie met kerke te verbind.
Reik uit te midde van die chaos
Wat regtig ’n indruk op my gemaak het, was om te sien hoe gewone mense vol heldemoed en selfopofferend was. Dit was die vrug op die arbeid van mense wat dekades lank gewerk het om kerke op te bou waar die gemeentelede die liefde van God en die krag van die Evangelie verstaan. Om te sien hoe hulle te midde van die chaos evangeliseer en die Koninkryk midde-in ’n oorlog bou, is iets wat ek nooit sal vergeet nie.
By CfaN glo ons dat die oeslande van Europa inderdaad ryp is. Ons glo dat dít wat by die Oekraïne se grense gesien is, slegs ’n voorsmakie is van wat God in die komende dekade beplan.
Teken in op CfaN se nuusbriewe, Bybelstudies en verslae! Kontak info@cfan.org.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 23/04/2023
Foto’s verskaf deur CfaN
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.