Geskryf deur: Shawn A. Akers
Artikelbron: www.charismanews.com
Dit is bekend dat die kletsrymer, Jay-Z, nie skroom om Jesus en die Christendom te bespot nie en hy is terug om weer met die Bybel te spot.
The Book of Clarence, wat in Januarie 2024 uitgereik sal word, is ’n godslasterlike rolprent wat sommige “geloofsgebaseerd” noem. Met hierdie rolprent wat hy vervaardig het, maak Jay-Z dit duidelik dat dit absoluut nie geloofsgebaseerd is nie.
’n Rolprent wat die Bybel verdraai, kan nie geloofsgebaseerd genoem word nie, sê die bediening, Vision unSEALED. In ’n onderhoud met Vanity Fair sê Jay-Z dat “geloof net ’n agtergrond is” vir die rolprent. Hy sê hy is bekommerd dat mense wat van die rolprent en die uitgangspunt daarvan hoor, dalk “dadelik net op die godsdienstige aspek daarvan gaan konsentreer en nie die menslike storie nie”.
Vanity Fair gaan voort om te sê dat “die rolprent nie die spot dryf met godsdiens of die Bybelse stories nie, maar eerder probeer om daardie wêreld te verruim” – ’n misleidende en gevaarlike standpunt.
“Om jouself lief te hê of vir Jesus lief te hê? Geloof in jouself of geloof in Jesus?” vra Vision unSEALED. “Christene moet bewus wees daarvan dat Satan deur sy agente in Hollywood werk om die gesag van die Bybel en die goddelikheid van Jesus Christus te ondermyn.”
In die rolprent wys Clarence “subtiel” dat hy as God aanbid wil word. In ’n stadium staan hy voor ’n groep mense en verklaar: “Ek is julle nuwe messias.”
Clarence, ’n dwelmhandelaar, wil die soort mag hê wat Jesus het, maar hy wil dit vir sy eie selfsugtige doelwit hê om ryk en beroemd te word. Clarence verwerf sy “roem” deur valse wonderwerke te verrig, insluitend om ’n blinde man te laat sien.
Skares stroom na hom toe as gevolg van sy “valse” wonderwerk.
Die rolprent dryf die valse vertelling van swart Hebreeuse Israeliete en ’n “ras-omgeruilde Jerusalem.” Die rolprent skets Jerusalem met ’n meerderheid swart bevolking, ’n oortuiging wat deur baie in die swart Hebreeuse Israeliete-kamp gehuldig word wat hulself as die ware afstammelinge van ’n verlore stam van Israel beskou. Die anti-Semitiese groep beskuldig wit mense daarvan dat hulle die geskiedenis sensureer om hul Joodse erfenis te ontken.
Die groep sluit bekendes soos Kanye West in.
Die regisseur, Jeymes Samuel, het in ’n onderhoud met die tydskrif, Ebony, beklemtoon hoe belangrik dit is om antieke Israel as swart uit te beeld vir die storielyn van die rolprent. Hy erken: “Ek het geweet ek moet ons eie interpretasie daaraan gee…”
Daardie stelling openbaar dat hy die Bybel verander en bespot.
’n Video op Vision unSEALED se YouTube-kanaal sê dat die hartseer deel van Clarence is dat “baie mense wat bely dat hulle Christene is, dit geniet om na hierdie godslasterlike rolprente te kyk wat ons Here en Verlosser, Jesus Christus, nie eer nie.”
Die YouTube-kanaal sê mense aanbid bekendes soos Beyoncé in die kerk en dat hulle selfs ’n Beyoncé-bybel met die naam “Beyble” het. ’n Beyoncé-kerkdiens is op 6 Mei 2022 by die Sint Mark-katedraal in Seattle, Washington, gehou.
In 2016 het Beyoncé die ondenkbare gedoen deur ’n album uit te reik met ’n liedjie wat verklaar dat sy bladsye van die Bybel vir vroulike higiëneprodukte gebruik het.
Beyoncé, Jay-Z en Jeymes Samuels is net ’n handjievol bekendes wat hul minagting van Jesus en die Bybel na ’n ander vlak geneem het. Maar, sê pastoor Voddie Baucham, daar sal ’n tyd kom wanneer God sê: “Genoeg.”
Baucham, wat dien as dekaan van teologie by die African Christian University in Lusaka, Zambië, sê hierdie geestelike stryd begin nou maar eers verskerp. Rolprente soos die Book of Clarence is slegs deel van die vyand se planne om te mislei, maar God sal onder die nasies verhef word.
“God, sal nie gespot word nie,” sê Baucham.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 24/10/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.