Geskryf deur: FEBA
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Met meer as 3 500 jaar se gedokumenteerde geskiedenis, is China een van die wêreld se oudste beskawings. Dit het meer as 1,4 miljard mense, ’n ryke kultuur en ’n onbestendige geskiedenis. Dit staan ook bekend as ’n land wat Christene nie goedgesind is nie. Tot in so ’n mate dat die Far East Broadcasting Association (FEBA) noodgedwonge in 1948 sy uitsaaibedrywighede na die Filippyne moes verskuif toe China buitelandse sendelinge verbied het. Tog het die Kerk oor die afgelope 40 jaar gefloreer. Daar word geraam dat die aantal Chinese Christene van 1 miljoen tot 100 miljoen toegeneem het. Soms ontdek luisteraars in verskeie dele van die wêreld FEBA se Evangelieprogramme per toeval. Een so ’n Chinese luisteraar, Lou, het haar storie met FEBA gedeel: “Ek het op skool al van Christenskap gehoor. Eendag het ek toevallig op FEBA se Radio Liangyou ingeskakel en wou graag meer weet. Nadat ek ’n week lank na ’n Evangelieprogram geluister het, het ek besluit om Jesus as my Verlosser aan te neem.”

Chinese luisteraar, Lou
’n Lang geskiedenis
Die verhouding tussen China en die Christendom het in 635 n.C. begin toe ’n sendeling met die naam Alopen in die land aangekom het. Hy is deur die keiser verwelkom en toegelaat om ’n klooster op te rig. Teen die einde van die eerste eeu het die keiser se opvolgers egter die Chinese kerk byna totaal uitgewis. Die Christendom het eers weer in die dertiende eeu ’n terugkeer gemaak. Sedertdien het dit ’n (meestal onwelkome) teenwoordigheid in China gehandhaaf.
Gemartel en tereggestel
Die vestiging van die kommunistiese bewind in 1949 het onderdrukking van die Christendom meegebring wat tydens die kulturele rewolusie (1966-1976) nuwe hoogtes bereik het. Duisende Christene is gearresteer, gemartel, verneder en selfs tereggestel. Kerke en huise is geplunder en Christelike lektuur vernietig. Hierdie fel vervolging het in 1997 afgeneem, maar het nooit heeltemal opgehou nie.
Die staat hou hulle altyd dop
China is tans 16de op Geopende Deure se wêreldwaarnemingslys van lande waar Christene vervolg word. Die Chinese regering hou sy burgers fyn dop. Die land se toesigstelsel is van die mees gesofistikeerdes ter wêreld. Die internet en sosiale media word streng gemonitor, wat dit moeilik maak vir huiskerke om aanlyn te vergader. Bure rapporteer ook dikwels godsdiensaktiwiteite by die owerhede. Vroeër vanjaar is die Smart Religion-toepassing in die Henan-provinsie bekendgestel. Daar word van mense verwag om met al hulle persoonlike inligting op die toep te registreer voordat hulle godsdiensbyeenkomste mag bywoon. Godsdienstige inhoud word gesensor: ’n Nuwe wet het in Maart in werking getree wat dit onwettig maak vir mense om godsdienstige inhoud te plaas alvorens hulle by die regering toestemming ontvang het. Inhoud wat die woord “Christus” gebruik, word geblokkeer, verwyder of geredigeer – en nie net aanlyn nie. In 2019 het The Guardian berig oor die Chinese regering se plan om die Bybel te hervertaal sodat dit met partypolitiek strook.
Christen-skole word ook geteiken
Chinese wetgewing verbied kinders onder 18 om aan enige godsdiensaktiwiteite deel te neem. “Ek dink die regering slaan die breinspoeling van kinders hoog aan,” het ’n Chinese pastoor aan die Gospel Coalition gesê. “Die belangrikste instrument wat hulle gebruik om vir kinders nasionalisme en ateïsme te leer, is die skoolstelsel.” Christen-skole word as onwettig beskou. En tog, ondanks al hierdie struikelblokke, groei die Kerk – en FEBA se bediening – in China steeds.
’n Getuienis uit China
FEBA saai sedert 1948 na China uit via Radio Liangyou. ’n Luisteraar, ‘n vrou genaamd Song, het Radio Liangyou ontdek nadat haar man ’n radio huis toe gebring het – ’n luukse in daardie dae. Toe sy die Evangelie in haar eie taal hoor, het sy Jesus in haar hart genooi. Haar kinders en kleinkinders het saam met haar na Radio Liangyou geluister terwyl hulle grootgeword het. “Ek het onder ouma se invloed asook die gereelde Liangyou-programme waarna ek geluister, vir God waarlik leer ken,” sê haar kleinseun, Wai. “God het my lewe gered.” Wai bedoel dit letterlik. Toe hy eendag met sy motorfiets op pad kerk toe gery het, is Wai byna deur ’n vragmotor getref wat oor ’n rooi lig gejaag het. Wai het ’n stem hoor sê: “Trek nou weg. Gou! Ry nou!” Hy het gehoorsaam en ongedeerd daarvan afgekom. “Dit is toe dat ek sonder twyfel geweet het dat die God waarin ek en my ouma glo, die ware God is.” Vandag is Wai se hele gesin Christene.
Bereik die massas met die Evangelie
FEBA-uitsendings word vanaf Suid-Korea se Daebu-eiland, asook vanaf Iba en Bocaue in die Filippyne uitgesaai. Tegnologiese vooruitgang het nuwe kanale geopen: FEBA saai ook op die internet uit, gebruik slimfoontoepassings en mikro-SD-kaarte wat voorafgelaaide Evangelieprogramme bevat. In 2022 is FEBA se mobiele toepassings meer as 8 miljoen keer gebruik, met meer as 42 miljoen oudiolêers wat gespeel en meer as 4 miljoen keer afgelaai is. ’n Verdere 6 miljoen is deur ander organisasies en stasies gespeel en byna 2 miljoen is afgelaai. FEBA se Chinese webtuiste het in daardie tyd byna 1,2 miljoen besoekers ontvang.
Opleiding van toekomstige geslagte
Die Liangyou Teologiese Seminarium bied vir ongeveer 40 jaar lank Bybelopleiding aan leke soos Lou asook aan pastore. Deesdae verskaf die kweekskool kursusmateriaal aanlyn, via AM-radio, slimfoontoeps, kortgolfradio, USB-aandrywers en studiekampe wat fisies deur studente bygewoon word. Die doel is om die opleiding toeganklik te maak vir studente waar hulle ook al woon. Die wortels van evangelisasie in China lê diep. Die groei bly bestendig, ongeag hoeveel keer die regering die byl inlê. FEBA gaan voort om die groei aan te wakker sodat almal eendag van die boom van die lewe kan eet.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 02/12/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









