Geskryf deur: Gail Dyssel
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Aan die begin van die jaar het die Here my beveel om my polisiediens van 20 jaar te beëindig om na my ouers (89 jaar en 91 jaar oud) om te sien, asook om voltyds in die bediening van die Here te gaan. God het my opdrag gegee om net hierdie twee dinge te doen totdat Hy my kom haal. My mammie was op daai stadium baie siek met nierversaking en gangreen in haar voet. Onder leiding van die Heilige Gees het God my getransformeer van ’n polisievrou na ’n verpleegster.

’n Onverwagte seën
My huisverband en motorpaaiemente was ’n groot bekommernis vir my toe ek bedank het, maar die Here het bonatuurlik vir my deurgekom. Die dag toe ek by die staatsdienspensioenfondskantore sit, beveel die Heilige Gees my om Nedbank te bel om reëlings te tref. Die konsultant gee my toe die wonderlikste nuus. Ek het glo oor die jare meer op my huis se verband betaal as wat hulle vereis het, en dus kon hulle die ekstra geld gebruik om my verband te dek. Daar was ook genoeg geld vir my motorpaaiemente en vir myself. Ek was nooit hiervan bewus nie maar Liewe Jesus het geweet.

Uitroepe na Jesus in ondraaglike pyn
My mammie het gesterf op 20 April 2024, ’n week voor haar 90ste verjaarsdag. Twee maande later het ek verskriklik siek geraak. God het my gewaarsku dat ek onder ’n demoniese aanval is, maar ek het dit ligtelik opgevat. Die een aand het ek ’n aanval gekry terwyl ek op die bed gelê het. Al my gewrigte het in spasmas gegaan, die pyn was ondraaglik. My oë, hande en voete was geswel, my kakebene het gesluit, my vel het uitgeslaan en verskriklik gejeuk. Ek was so swak, ek kon nie praat of loop nie. Ek het net my gesig na die muur gedraai soos Hiskia in die Bybel en in my gedagtes na Jesus geroep vir hulp.

Jesus as my mondstuk
Skielik hoor ek ’n stem wat klink asof dit onder uit die komberse kom, dit was amper asof dit uit my maag gekom het. “Goliat, jy kom na my met spiese en stokke maar ek kom na jou in die naam van die Here,” sê die stem. Ek was verskrik want ek het geweet ek het nie daardie woorde geuiter nie. Ek besef toe dat Jesus as my mondstuk opgetree het en dat Hy letterlik woonplek in ons liggame maak.

Soeke na diagnose
Ek is die volgende dag dokter toe en is gediagnoseer met ’n outo-immuuntoestand genaamd Raynaud se siekte. Ek is na ’n rumatoloog verwys en was vir byna twee weke in die hospitaal opgeneem. Verskillende toetse is gedoen wat meestal negatief was. Hulle het vermoed dat dit óf skleroderma, lupus, dermatomiositis, miositis, of spierverswakking kon wees. Ek was elke dag in verskriklike pyn en het geen behandeling ontvang nie. Die enigste behandeling wat ek gebruik het, was die heilige nagmaal en pynpille.

Dokters in die duister
Ek is ontslaan met die diagnose van rumatoïede artritis en medikasie. Dokters was steeds in die duister oor my simptome. Die professor het my gevra of ek dink dat ek dit sal kan maak tot my volgende afspraak. Die vraag het my oorbluf. My woorde aan haar was: “Ja, Dokter, deur die genade van die Here sal ek dit maak.”

’n Tweede en erger aanval
’n Paar dae later kry ek weer ’n aanval terwyl ek op vakansie in Seepunt was. Hierdie keer was dit erger. Ek het ’n buitengewone koue in my liggaam ervaar, met soortgelyke simptome as die vorige keer. Dit het letterlik gevoel asof my siel aan die doderyk raak. Die satan daag my uit en vra: “Waar is jou God nou?” Die Heilige Gees plaas toe ’n lied in my binneste met die woorde: “Jesus is in my storm, Hy is in my blydskap, Hy is in my trane. My kind, Ek is naby jou.” My sussie het ook oor die foon vir my gebid, dit het my deur die nag gedra. Nog iets kosbaars het daardie nag gebeur. My pappie van 91 jaar oud het my onverwags uit Heideveld gebel terwyl ek onder die aanval in Seepunt is en sê vir my dat hy my gesteun in sy ore kon hoor en besef dat ek baie siek is. Ek het geensins kontak met hom gehad nie.

God stuur ’n helper
Die Heilige Gees het my verbied om terug hospitaal toe te gaan. Ek is huis toe in ’n rystoel. By die huis het ek geen hulpbronne gehad nie. Die Here het toe my skoonbroer, Derick Joseph, gelei om die pad saam met my te stap. Ek het nog nooit soveel passie, lojaliteit en dryfkrag gesien nie. Dit is nou agt weke later, en Derick het steeds nie sy pos aan my sy verlaat nie. Ek kan waarlik sê dat dit net Jesus is wat dit moontlik gemaak het.

Fisiese agteruitgang en geestelike aanval
Die medikasie het my toestand vererger. Ek kon vir drie dae lank niks eet nie en het vinnig begin gewig verloor. Ek het begin opgooi, diarree en maagkrampe gekry, en ’n bitter metaalsmaak in my mond gehad. Die satan het vir my gepreek dat ek gaan sterf, dat hy my liggaam net gaan laat wegkwyn, hy wou my geloof laat wankel.

Die bande van satan gebreek
God het my toe beveel om my liggaam op die altaar te lê en myself in sak en as te verootmoedig. Daar het Jesus die bande van die satan gebreek, en het God vir my genesing belowe. Prys die Here! Verder het God my in ’n droom besoek en daardie bitter metaalsmaak uit my mond verwyder. Ek het die werking in my mond gevoel. God het my eetlus en gewig herstel, en die simptome het bedaar.

Alle glorie en eer aan Koning Jesus
Ek is so dankbaar teenoor die Here dat Hy nie my siel oorgelewer het aan die doderyk nie. Ek kon net aan sy soom klou en kan waarlik sê Jesus is ’n werklikheid. Alle glorie en eer gee ek aan Koning Jesus want Hy alleen het die wonders kom doen deur middel van die heilige nagmaal en die sak en as.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 16/01/2025
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here