Deur: CfaN
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Ek wens ons almal kon dít die vers maak wat ons lewens definieer!
“En gaan preek en sê: ‘Die koninkryk van die hemele het naby gekom.’ Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” – Matteus 10:7-8
As evangeliste is dit belangrik om te verstaan dat genesing en wonderwerke ’n kernkomponent is van wat ons doen – dit is deel van die Evangelie. Jesus het onderrig, gepreek en mense genees. Die apostels van die vroeë Kerk het onderrig, gepreek en mense genees. Dit was deel van die Evangelieboodskap en die bedoeling was nooit dat dit sou verander nie.
Is jy ’n spinnerak-evangelis?
Talle bedieninge beoefen wat ek “spinnerak-evangelisasie” noem. Spinnekoppe spin ’n pragtige web. Hulle soek die perfekte hoekie in die huis uit en wanneer alles piekfyn is, posisioneer die spinnekop homself op die web en wag vir die een of ander niksvermoedende insek om daarin te beland en dan slaan die spinnekop toe. Dit is ook hoe die meeste kerke funksioneer. Jesus het nie gesê: “Ek sal julle spinnerak-evangeliste maak nie.” Hy het gesê: “Ek sal julle vissers van mense maak.” Evangelis Bonnke het altyd gesê as jy vis wil vang, moenie jou net in die bad uitgooi nie. Jy moet see toe gaan en jou net uitgooi waar die visse is. Dit is wat dit beteken om te gaan.
God wil op werklike, tasbare maniere beweeg wat die fisiese wêreld verander; Hy wil dit deur jou doen!
Prediking is God se strategie vir die redding van dié wat verlore gaan
Nadat jy gegaan het, wat dan? Preek! Daar sal nooit ’n meer gevorderde metode wees om ongeredde mense tot bekering te bring as om te preek nie. Ek sien kerke, bedieninge en evangeliste wat allerhande dinge probeer om mense gered te kry sonder dat hulle die Evangelie hoef te verkondig. Hulle gebruik toneelstukke, musiek, allerhande dinge – ons het almal al gesien hoe kerke agteroor buig om mense gered te kry sonder om die Evangelie te verkondig. Dit gaan eenvoudig nooit werk nie, want hierdie “gaan preek”-opdrag is nie my idee nie. Jesus het self vir ons hierdie bloudruk gegee om te volg. Ongeag hoe hard jy probeer, ongeag hoe slim jy is, jy gaan nooit met ’n beter manier vorendag kom om sy Kerk te bou as op die manier wat Hy vir jou gesê het om dit te doen nie.
Gebruik jou stem!
Prediking beteken jy maak jou mond oop en verkondig. Dit beteken nie jy gaan debatteer nie. Dit beteken nie jy gaan lesse gee nie. Sommige mense dink hulle moet in Genesis begin en by Openbaring eindig om verlossing te verduidelik. Ons is verkondigers, nie verduidelikers of debatteerders nie.
Genesing en wonderwerke is ’n kernkomponent van wat ons doen – dit is deel van die Evangelie.
Jy is sy verteenwoordiger
Jy is ’n verteenwoordiger van die Koning van die konings en die Here van die here. Waar jy ook al gaan, neem jy die Koninkryk saam en dit beteken dat die hele fisiese en geestelike wêreld daar aan Hom onderwerp word; voor Hom moet buig.
Tekens van God se Koninkryk
Soos die Skrif beveel, is deel van ons werk om die siekes te genees en die dooies op te wek. Ek het drie mense al uit die dood sien terugkom, maar ek het vir baie meer as drie gebid. Ek kan een ding sê: Daar is krag in die Evangelie om selfs die dood om te keer. Ek dink “wek dooies op” is weens die uiterste aard van die dood juis in die Groot Opdrag ingesluit. Ek dink wat Jesus vir ons wil sê, is dat daar niks is wat die krag van die Evangelie kan oortref nie. Selfs die dood moet neerbuig!
Kom ons kyk na Markus 16:20. Dit volg ná die Groot Opdrag. Dit was die vroeë Kerk se reaksie op Jesus se opdrag: “Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.”
God gaan saam met ons!
Ons moet diep oortuig wees in ons harte dat wanneer ons gaan, God saam met ons gaan. Ons moet tot in ons diepste wese weet dat wanneer ons werk, God werk. Wanneer jy dít glo en jy vanuit daardie plek van geloof preek, glo ander dit ook. Wanneer die Koninkryk van die hemel kom, word die siekes genees, die melaatses gereinig, die dooies opgewek en demone uitgedryf. God wil op werklike, tasbare maniere beweeg wat die fisiese wêreld verander en Hy wil dit deur jou doen!
Daniel Kolenda – president en HUB van Christ for All Nations.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 18/05/2024
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.