Artikelbron: www.forsa.org.za 

Die openbare verhore oor die omstrede Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette, 2023 (ook bekend as die “Spioenasiewetsontwerp”) is eergister, 21 Februarie, afgehandel.

Die regsvoorspraakorganisasie, Freedom of Religion South Africa (FOR SA), het ’n mondelinge voorlegging aan die parlement se Ad Hoc-komitee oor die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette gedoen en sy kommer oor die huidige konsep van die wetsontwerp beklemtoon.

Verskeie sleuteldefinisies in die wetsontwerp is so wyd dat godsdiensinstellings, hul leiers, werknemers en lede moontlik in sy wye net vasgevang kan word. Dit beteken dat selfs mense wat nie toegang tot geklassifiseerde inligting of kritieke staatsinfrastruktuur het nie, aan verpligte sekuriteitskontrole onderwerp kan word om te bepaal of ’n sekuriteitsklaringsertifikaat aan hulle uitgereik kan word.

Teen die sperdatum vir skriftelike kommentaar op Donderdag, 15 Februarie 2024, is meer as 23 000 openbare voorleggings via die DearSouthAfrica.co.za-platform ingedien. Die omstrede wetsontwerp stel voor dat die Suid-Afrikaanse Inligtingsagentskap (dit wil sê spioene) toegelaat word om sekuriteitbevoegdheidstoetse op sogenaamde “persone en instellings van nasionale veiligheidsbelang” uit te voer. Hierdie ondersoeke het ten doel om bedreigings vir nasionale veiligheid te identifiseer.

Die gevolge van die versuim om ‘n sekuriteitsklaringsertifikaat te bekom, is onduidelik, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat jy toegelaat sal word om voort te gaan om binne Suid-Afrika te werk. Daar is dus ’n baie groot moontlikheid dat godsdiensinstellings (bv. kerke, moskees en Joodse shuls) gedwing kan word om hul deure te sluit.

“In sy huidige vorm kan die wetsontwerp misbruik word om kritiese stemme wat regeringsbeleid teenstaan, te teister of selfs stil te maak, selfs al gebruik hulle grondwetlik beskermde wettige kanale om hulle protes en teenkanting aan te dui,” het FOR SA se uitvoerende direkteur, Michael Swain, gesê. “Nog erger, dit maak die deur oop vir gewettigde massa-toesig en vir staatsregulering van godsdiens.”

Alhoewel hierdie gevolge moontlik onbedoeld en nie doelbewus is nie, is hierdie wetsontwerp die tipe drakoniese wet wat tipies is van totalitêre state. In sy substantiewe skriftelike voorlegging voer FOR SA aan dat sulke wette geen plek het in Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie wat op menseregte en vryhede gegrond is nie.

Parlementêre regsadviseurs sal voortgaan om die komitee in te lig oor die insette wat van die publiek ontvang is. Die staatsveiligheidsagentskap sal ook toegelaat word om te reageer. Daarna sal die komitee die openbare insette oorweeg en die inhoud van die wetsontwerp beraadslaag. Hy het sy voorneme verklaar om die wetsontwerp aan te neem en om sy verslag teen Vrydag, 1 Maart 2024 aan die parlement voor te lê. Van daar af sal die wetsontwerp deur ’n voltallige sitting van die Nasionale Vergadering oorweeg word voordat dit na die Nasionale Raad van Provinsies oorgedra word.

FOR SA sal voortgaan om die vordering van die wetsontwerp te monitor en ons kiesafdeling van belangrike verwikkelinge attent te maak.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 23/02/2024
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit www.freepik.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here