“Die eerste keer dat ek gehoor het iemand het my lief, was in julle program…”

Oleg is dol oor FEBA Moldowa se kinderprogramme. “Hy sien elke keer uit na die nuwe video,” vertel sy ma. “En hy praat aanhoudend oor die jongste Bybelverhaal wat hy gehoor het.” ’n Ander jong kykertjie, Varya, kyk elke video en skryf dan vir die span om te deel wat sy geleer het, wat haar verras het, en om vrae oor die Bybel te vra.

Oleg en Varya is twee van die vele kinders wat deur FEBA se lewendige jeugbediening van Christus en die Bybel leer – in ’n land waar huishoudelike geweld en kinderverwaarlosing aan die orde van die dag is. ’n 12-jarige seun, Roman, het onlangs aan die span gesê: “Die eerste keer dat ek gehoor het iemand het my lief, was in julle program. Ek hoop wat julle sê is waar, en dat God werklik omgee.”

FEBA Moldowa se jeugbediening skep inhoud vir sowel kinders as jong volwassenes. Die kinderprogramme leer jong kykers van Jesus deur Bybelstories en Christelike liedjies. Die musiek is só gewild dat verskeie kinder-somerkampe, selfs sekulêre kampe, dit die afgelope somer vir hul kampeerders gespeel het. Een berader het gedeel: “Die kinders is mal oor die liedjies. Hulle ken meeste van hulle al uit hul kop. En ons speel dit met groot vreugde!”

Programme vir jong volwassenes sluit ’n Bybelprogram in wat vinnig ’n groot gehoor opgebou het, asook ’n nuwe program wat wys hoe Christene hul daaglikse lewe uitleef. Tydens die verfilming van die tweede episode is twee tieners se harte so geraak deur die aanbieder se getuienis dat hulle hul geloof in Christus geplaas het. FEBA Moldowa hou ook weeklikse byeenkomste vir hul tiener-kykers, waarvan die meeste nie Christene is nie, waar hulle hul laste kan deel en die Evangelie leer ken.

“Ek het weer begin bid as gevolg van julle program,” het ’n kyker, Magda, onlangs geskryf. “Ek het begin besef dat Christenskap oor meer gaan as net reëls nakom. Dit gaan oor ’n verhouding met Jesus. Nou woon ek ’n Bybelstudie by en ek kan ander meisies soos ek help verstaan wat dit beteken om ’n verhouding met Jesus te hê.”

Vir meer inligting oor FEBA en sy werk, besoek gerus www.febaradio.co.za.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 13/09/2025
Foto slegs ter illustrasie.

VRYWARING

JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here