Geskryf deur: Liezl Durie Artikelbron: FEBA Radio South Africa 

“Die Here is regverdig, Hy het die bande losgesny waarmee die goddeloses my gebind het.” (Psalm 129:4)

“Ek het daardie man vertrou – hy het deernis betoon en my ’n blink toekoms met ’n goed betaalde werk beloof,” sê Saachi*, ’n FEBA Indië-luisteraar wat uit mensehandel gered is. Sy leef in volslae armoede met haar man en twee kinders. Selfs alledaagse benodigdhede is moeilik om te bekom. Toe hierdie man opdaag met sy aanbod, was dit onweerstaanbaar – ’n kans om haar gesin te help.

Sy het in die lokval getrap. Toe hulle vir ’n paar dae nie van haar hoor nie, het haar bekommerde man onthou van ’n radioprogram wat hy gehoor het, en FEBA se hulplyn geskakel. Die span het onmiddellik met ’n antimensehandelorganisasie kontak gemaak en die situasie aan die polisie gerapporteer. ’n Soektog is geloods en FEBA Indië het deurlopend ernstig gebid. God het geantwoord. Saachi is gevind. Sy was deur mensehandelaars as prostituut verkoop. “Ek het alle hoop verloor en gedink ek sal nooit uit daardie hel kom of my kinders se gesigte weer sien nie.”

Amerika se departement van buitelande sake skat dat daar op enige gegewe tydstip meer as 27 miljoen slagoffers van mensehandel in die wêreld is. Volwassenes en kinders word ontvoer, gelok of aan misdadigers verkoop, wat hulle op enige van die volgende maniere uitbuit, soos deur die Verenigde Nasies geïdentifiseer: gedwonge bedelary, gedwonge huwelike, gedwonge misdadigheid (bv. diefstalsindikate), prostitusie, dwangarbeid en die oes van organe. Handelaars aas op die kwesbares. Hulle nader die armes soos Saachi met beloftes van ’n beter lewe. Sommige bied aan om vir kinders se opvoeding te betaal – om sodoende ’n beter toekoms te verseker – en oortuig die ouers só om hul kinders te oorhandig. Die Guardian berig dat klimaatrampe in Wes-Bengalië, Indië, mense só behoeftig gelaat het dat hulle ideale teikens vir mensehandelaars geword het.

Mense word deur mensehandelaars se strikke uitgevang omdat hulle desperaat en oningelig is. In baie dele van die wêreld – onder andere Indië en Indonesië – werk FEBA téén mensehandel deur mense in te lig deur middel van hul programme. In Indonesië reis die span na klein dorpies om mense op te voed oor gevaartekens waarop hulle moet ag slaan, veral wanneer dit by hul kinders kom. Hulle werk word beloon … die span berig dat kinderhandel afneem.

FEBA Indië nooi kenners en prominente vroue om in hul radiodramas, onderhoude, geselsprogramme, en tydskrifstylprogramme te verskyn. Hulle benader die probleem holisties deur ’n verskeidenheid onderwerpe te bespreek, soos armoede en werkloosheid, seksisme, patriargie en mensehandel. Hulle reël ook bewusmakingsveldtogte, voorsien berading en volg op met luisteraars.

Te danke aan een so ’n program, kan Saachi sê: “Nou woon ek gelukkig saam met my gesin. My geluk en vryheid is slegs moontlik gemaak deur die program, wat my lewe gered het.”

Prys God vir Sy ingryping, en bid dat Hy vir Saachi en haar gesin sal genees. Bid ook dat Hy FEBA se programme wêreldwyd sal gebruik om mensehandel te voorkom en slagoffers te red.

*Naam verander vir veiligheid

Vir meer inligting oor FEBA, besoek gerus www.febaradio.co.za of kontak hulle kantoor by 012 335 5708

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 17/10/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here