Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand Artikelbron: Artikel verskaf

In die huidige tye, waar ons almal gevolge van ’n wêreldwye pandemie ervaar, asook storms, hittegolwe, vloede, en ’n hoender- en eiertekort, beklemtoon dit dat selfdoen en selfvoorsiening in ons gemeenskappe al meer belangrik geword het.

Daarom het Solidariteit Helpende Hand op 15 Oktober (op Nasionale Tuindag) ’n inisiatief van stapel gestuur wat nie net armoede wil bestry nie, maar ook ’n pad na selfonderhoudendheid aanwys. Hierdie inisiatief, bekend as die PlantSelf-projek, het ten doel om mense en gemeenskappe te bemagtig om self groente en voedsel te kweek – ’n omgewingsvriendelike benadering wat ’n gevoel van gemeenskap en hoop terugbring.

Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê Helpende Hand droom van ’n volhoubare toekoms vir ons gemeenskap. ’n Toekoms waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan. Helpende Hand wil die gemeenskap aktiveer en leer om selfonderhoudend te wees. Om self te plant is reeds ’n stap nader aan armoedeverligting, maar ook die verbreking en voorkoming daarvan.

“Nie net is grond die oorsprong van lewe nie, dit is in ons Afrikaners se bloed om te plant. Die projek fokus nie net op die fisiese nie, dit verander jou uitkyk, gee hoop en bied jou ’n doelwit om voor te mik. Dit is baie meer as net plant, dit is die eerste tree na selftrots, geestelike groei en menswaardigheid. Helpende Hand fokus op die holistiese welstand van ons kwesbare groepe,” sê hy.

Die Plantkoepel
Een van die opvallendste aspekte van die PlantSelf-projek is die plantkoepel. Hierdie unieke, omgewingsvriendelike tuinbou- en besproeiingstelsel stel mense in staat om ’n voedselbron van hul keuse te kweek. Dit is ’n draagbare kweekhuis wat herhaaldelik gebruik kan word en kan aanpas by verskeie weersomstandighede.

Die plantkoepel is ’n wonderwerk van tegnologie wat water bespaar deur vinnige verdamping te voorkom. Plante kan deur middel van oorhoofse sprinkelbesproeiing of spinnekopbesproeiing natgemaak word. Hierdie stelsel elimineer die behoefte aan skadelike plaagdoders en kunsmis, en verminder risikofaktore soos plae, voëls, insekte, en droogte. Die PlantSelf-projek fokus op ’n basiese en kosbare hulpbron – die grond. Die grond is waar ons voedsel begin en dit is in die Afrikaner se bloed om te plant en die aarde te bewerk. Hierdie projek strek egter veel verder as net landbou. Dit is ’n beweging wat poog om die gees van selfdoen en selfvoorsiening te kweek en om die gemeenskap aktief te betrek.

“Die aanleer van basiese landboutegnieke, tuinbouvaardighede, en bewaringsmetodes, stel dit mense in staat om voedsel en ander noodsaaklike hulpbronne vir eie gebruik en selfs vir die gemeenskap te produseer. Dit is ’n beweging weg van afhanklikheid van eksterne hulpbronne en ’n stap na onafhanklikheid en vryheid.

“Dit is ’n inisiatief wat mense bemagtig deur die deel van kennis en hulpbronne aan te moedig. Dit bou ’n gevoel van gemeenskap en samewerking, waar mense mekaar ondersteun en saamwerk. Dit gaan oor die bou van veerkragtige gemeenskappe wat nie net in staat is om hul eie behoeftes te bevredig nie, maar ook om mekaar in tye van nood te ondersteun.’’

Vir meer inligting oor die plantkoepel en hoe om dit te bestel, besoek: helpendehand.co.za/plantself

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 17/10/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here