Geskryf deur: JNS 
Artikelbron: prophecynewswatch.com 

Aan die begin van 2022 was daar ‘n totaal van 15,3 miljoen Jode in die wêreld, van wie 7 miljoen – ongeveer 46% van alle Jode wêreldwyd – in Israel woon, het Israel se Sentrale Buro vir Statistiek (SBS) onthul.

In 1939, op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog, was daar 16,6 miljoen Jode en 449 000 (3%) het in die land van Israel gewoon. Net minder as tien jaar later, in 1948, het die wêreld se Joodse bevolking tot 11,5 miljoen afgeneem; van hulle het 650 000 (6%) in Israel gewoon.

Onder diaspora-Jode woon ongeveer 6 miljoen in Amerika; 442 000 in Frankryk; 392 000 in Kanada; 292 000 in Brittanje; 173 000 in Argentinië; 145 000 in Rusland; 118 000 in Duitsland en nog 118 000 in Australië, volgens die verslag.

Voor die Holocaust-herinneringsdag, wat op die aand van 17 April begin het, het die SBS ook onthul dat 147 199 Holocaust-oorlewendes of slagoffers van anti-Semitiese optrede tydens die Holocaust tans in Israel woon.

Van dié oorlewendes is 61% vroue en 39% mans.

‘n Klein getal, 4,5%, het voor die stigting van die staat, tussen 1933 tot 1947, na Israel geïmmigreer; 31,7% het tydens die groot alijah-golf ná die staat se stigting (1948 tot 1951) geïmmigreer; 29,7% het tussen 1952 en 1989 geïmmigreer en 34,1% het sedert die 1990’s aangekom, tydens die vlaag van aliyah uit die voormalige Sowjetunie.

In ’n 2021-opname het 87% van Israel se oorlewendes gesê hulle is óf “tevrede” óf “baie tevrede” met hul lewens, soortgelyk aan die 88% van Jode en ander bo die ouderdom van 75, maar 17,3% van die oorlewendes van die Holocaust het egter gesê dat hulle het dikwels eensaam voel, vergeleke met 12,6% van Jode en ander 75 en ouer.

Sowat 70 000 mense van 95 verskillende lande het in 2022 na Israel geïmmigreer met die hulp van die Joodse Agentskap vir Israel, in samewerking met die Ministerie van Aliyah en Integrasie.

Dit was die meeste olim (mense wat na Israel terugkeer) in 23 jaar en ’n dramatiese toename vanaf 2021, toe sowat 28 600 immigrante in die land aangekom het.

Joodse Agentskap-data vir die tydperk tussen 1 Januarie en 1 Desember 2022, toon dat 37 364 olim uit Rusland aangekom het; 14 680 van die Oekraïne; 3 500 van Noord-Amerika, met die hulp van Nefesh B’Nefesh; 2 049 van Frankryk; 1 993 van Wit-Rusland; 1 498 van Ethiopië as deel van Operasie Tzur Israel; 985 van Argentinië; 526 van Groot-Brittanje; 426 van Suid-Afrika; en 356 van Brasilië.

Ongeveer 27% (sowat 19 000) van vanjaar se olim is jongmense tussen die ouderdomme van 18 en 35, wat die Israeliese samelewing en die ekonomie ’n hupstoot sal gee, insluitend professionele persone in velde waar daar ’n arbeidstekort in Israel is soos medisyne, die ingenieurswese en onderwys. Ongeveer 24% (16 500) van die olim is tussen die ouderdomme 0-17; 22% is tussen 36 en 50 jaar oud; 14% is tussen die ouderdomme 51-64; en 13% is 65 en ouer.

“Aliyah is van eksistensiële belang vir die staat Israel, beide op die praktiese en morele vlak. Dit gee uitdrukking aan die aard van Israel as die staat van die hele Joodse volk en die strategiese vennootskap tussen Israel en die wêreld se Jodedom. Die tienduisende olim wat vanjaar na Israel gekom het, sal help om die Israelse samelewing te bou en sal ’n groot hupstoot vir die Israelse ekonomie wees,” het Doron Almog van die Joodse Agentskap gesê.

Daar word voorspel dat daar teen die jaar 2048, die 100ste herdenking van die staat Israel, twee derdes van die wêreld se Joodse bevolking, sowat 12 miljoen, in Israel sal woon.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

Datum gepubliseer: 05/05/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here