Artikelbron: Solidariteit Helpende Hand
Die regering se swak ekonomiese beleid en gebrek aan behoorlike maatskaplike en gesondheidsondersteuning is van die grootste bydraende faktore tot die jaarlikse dood van 130 kinders en hospitalisering van meer as 8 500 kinders weens wanvoeding, en dít is net in Gauteng.
Regering moet verantwoordelikheid dra
Solidariteit Helpende Hand meen die regering moet verantwoordelik gehou word vir hierdie tragedie. Die jongste syfers van die Gautengse Departement van Gesondheid wys dat wanvoeding onder jong kinders ’n ernstige en volgehoue krisis in die provinsie is. Volgens ’n geskrewe antwoord van die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sterf sowat 130 kinders jonger as vyf elke jaar aan wanvoeding. Van 2018 tot middel 2025 is altesaam 998 kindersterftes aan wanvoeding gekoppel.
Hierdie syfers is bekendgemaak nadat dr. Jack Bloom, die DA se skadu-LUR vir gesondheid in Gauteng, ’n parlementêre vraag aan die LUR gestel het. Bloom het daarop gewys dat die statistiek ’n wekroep behoort te wees vir die regering om dringend stappe te doen.
Duisende gevalle elke jaar
Laasjaar alleen is meer as 8 500 gevalle van kinderwanvoeding in Gauteng se hospitale en klinieke aangemeld. Die hospitale met die hoogste getalle sluit in die Steve Biko Akademiese Hospitaal (229 gevalle), Rahima Moosa Hospitaal (228 gevalle) en Chris Hani Baragwanath Hospitaal (217 gevalle). Klinieke in Olievenhoutbosch, Lenasia-Suid en Hillbrow het ook honderde gevalle van ernstige, akute wanvoeding behandel.
Volgens die departement word nuwe gevalle in ’n terapeutiese voedingsprogram opgeneem totdat kinders genoeg gewig optel. Die meerderheid sterftes hou verband met onderliggende mediese toestande en komplikasies soos diarree, longontsteking, tuberkulose en MIV/Vigs.
Kenners wys daarop dat die volgende faktore tot die probleem bydra:
Armoede en werkloosheid – ouers kan eenvoudig nie kos koop nie.
Hoë kospryse – gesonde kos is buite bereik vir baie gesinne.
Gebrek aan kennis oor voeding – kinders kry dikwels hoofsaaklik stysel en min proteïen.
Siektes en swak toegang tot vroeë gesondheidsorg.
Swak prestasie van maatskaplike vangnette en ondersteuningstelsels.
Solidariteit Helpende Hand sê die jongste syfers beklemtoon die noodsaaklikheid van sterk samewerking tussen die regering en die burgerlike samelewing.
Gemeenskappe maak die verskil
“Wanneer ’n kind aan wanvoeding sterf, is dit nie net ’n gesondheidskwessie nie, dit is ’n gemeenskapskwessie,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Ons sien daagliks dat projekte soos ons Kosblikkie-inisiatief en HelpJag ’n werklike verskil maak. Dit wys dat praktiese en volhoubare oplossings moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan om te sorg en nie net aan eie gewin dink nie.”
Helpende Hand se Kosblikkie-projek voorsien daagliks meer as 8 000 kleuters van ’n voedsame bord kos. Met skenkings en gemeenskapsbetrokkenheid word kos direk na kwesbare kinders se skole gekanaliseer.
Samewerking is noodsaaklik
Volgens ’n UNICEF-verslag is Suid-Afrika een van die top 20 lande waar 65% van die wêreld se wanvoeding onder kinders voorkom.
Helpende Hand doen ’n beroep op gemeenskappe, besighede en ander organisasies om saam te werk aan oplossings wat kinders se lewens kan red en vir hulle ’n toekoms moontlik maak.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 23/09/2025
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit www.freepik.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








