Geskryf deur: Geopende Deure SA
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Geweld teen Christene in Afrika suid van die Sahara is tans die hoogste wat dit nog ooit was. Dié skerp styging is veroorsaak deur die teenwoordigheid en aktiwiteite van jihadistiese groepe in ’n toenemende aantal Afrika-lande.
Die algemene uitwerking van die geweld op die vervolgde Kerk is verwoestend. Teen die einde van 2021 is ’n verbysterende 15,5 miljoen mense ontwortel, wat dit vir hulle bemoeilik om ’n bestaan te maak. Christene is die voorkeurteiken van hierdie jihadistiese groepe.
’n Nuwe uitdaging
Een van die Christene wat eerstehandse ondervinding hiervan het, is pastoor Jean* (33) van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).
In 2019 was hy vol hoop toe hy oorgeplaas is om ’n kerk in Beni in die Noord-Kivu-provinsie te lei. Hoewel nie oningelig oor die probleme wat Christene in die streek ondervind het nie, was hy optimisties en het hy heelwat planne gehad oor hoe om sy nuwe kudde van byna 280 mense te dien.

Pastoor Jean
Gewelddadige aanval
Hierdie stad is egter sedert 2014 die middelpunt van herhaalde aanvalle. Verskeie rebellegroepe is aktief in die ooste van die DRK, met die Allied Democratic Forces (ADF) – ’n Islamitiese rebellegroep – wat tot dusver die grootste lyding vir die Kerk veroorsaak het.
’n Jaar ná pastoor Jean se aankoms het die ADF die plek aangeval waar hy Christene gedien het. Altesaam 15 mense is in die aanval dood en minstens ses het aan sy kerk behoort. Sewe huise en verskeie winkels is vernietig en geplunder. Minstens 20 mense – veral jong meisies – is as vermis aangemeld.
‘God het ons gehelp’
Pastoor Jean kon sy bure vanuit sy huis hoor gil terwyl die aanvallers genadeloos hulle weg deur die dorpie gebaan het. “Geweerskote het aanhoudend geklap. Sowat 500 mense het in die kerkgeboue geskuil.
“Die aanvallers het probeer om by ons huis in te kom, maar is ná ’n ruk weg. Aan die ander kant van die deur het ek my vrou en ons kinders, ’n tweejarige en ’n ses maande oue baba, probeer beskerm. Twee ander kinders was vas aan die slaap in ’n ander kamer. Ons het gebid … en God het ons gehelp. Dit is net deur Sy genade dat ons leef.”
Genesing van trauma
Ná die voorval het pastoor Jean en sy gesin aan ernstige emosionele en sielkundige trauma gely. “Ons was getraumatiseer en my vrou het ernstige gesondheidsprobleme ontwikkel. Sy was voortdurend bang en het flou geword wanneer sy so bang was. Ek het gevoel ek is swak toegerus om my kerk te dien terwyl ek probeer het om die verborge pyn in my eie hart en gemoed te verwerk,” erken hy.
Danksy die geskenke en gebede van ondersteuners, kon Geopende Deure vir pastoor Jean en sy gesin help om na ’n rustiger area te verhuis, waar hulle probeer om genesing te vind en hulle plaaslike kerk dien.
Hoop vir die toekoms
Pastoor Jean is nou rotsvas en bring die Woord aan sy gemeente ondanks dít wat hy beleef het. “Ek hou vas aan God se Woord en die beloftes wat my gehelp het om aan te beweeg en die Kerk te dien. Selfs al word ons vervolg, sal ons trane van lyding eendag afgevee word.”
Deur jou finansiële geskenk kan jy help om die Kerk in Afrika te beskerm deur in die behoeftes van vervolgde gelowiges te voorsien. Gebruik die bankbesonderhede hieronder om vandag ’n geskenk te gee.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 22/04/2023
Foto verskaf deur Geopende Deure
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









