Geskryf deur: Geopende Deure SA

Die gewelddadige vervolging van Christene in sub-Sahara Afrika (SSA) is op ’n hoogtepunt. Teen die einde van 2022 is ’n skokkende 16,2 miljoen Christene regoor sub-Sahara Afrika met geweld uit hul huise verdryf deur vervolging.

Gewelddadige vervolging
Elke jaar word duisende Christene in Nigerië en regoor sub-Sahara Afrika weens hul geloof doodgemaak. Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys-navorsing vir 2024 toon dat ongeveer 95% van gelowiges wat verlede jaar weens hul geloof doodgemaak is, in sub-Sahara Afrika was. Meer Christene is weens hul geloof in Nigerië vermoor as in die res van die wêreld saam. En dit sluit nie die groot aantal mense in wat beseer word, ontvoer word, seksueel aangerand word, of hul huise en lewensbestaan ​​verloor nie.

Alles verloor…
Een van hierdie mense is pastoor Barnabas, wat ernstige beserings opgedoen het in ’n gewelddadige aanval deur Fulani-militante in Nigerië. Hy was besig om op die plaas te werk saam met sy broer, Everen, en Everen se vrou, Friday, toe hul gemeenskap aangeval is. “Ons het skielik skote gehoor, maar ons het nie geweet wat aangaan nie.” ’n Man het pastoor Barnabas aangeval en sy hand gebreek. Ongelukkig kon Everen en Friday nie van hul vervolgers ontsnap nie en is hulle doodgemaak. “Ek het alles verloor wat ek gehad het. Alles in my huis en dorp is verbrand; ek het niks oorgehad nie en het skielik geen inkomste gehad nie,” sê pastoor Barnabas. “Ek kan nie vir my gesin en kinders sorg nie. Ek kan hulle nie voed nie. Boonop is my kinders nie meer in die skool nie.”

Die lewe is nie maklik nie
Dit is al amper vyf jaar sedert die aanval, maar die fisiese en emosionele pyn is nog steeds rou vir pastoor Barnabas. Die aanval het langtermynskade aan sy hand aangerig, wat veroorsaak dat hy dit nie behoorlik kan gebruik nie. Pastoor Barnabas en sy gesin woon sedert die aanval in ’n kamp vir intern ontwortelde persone. Hul tentjie is heeltemal te klein vir ’n gesin met vyf kinders – dit is kleiner as ’n dubbelmatras. “Omdat my tent so klein is, bly net drie van my kinders by my en my vrou. Die res van hulle slaap in my buurman se tent. Dit is nie maklik om in ’n kamp vir intern ontwortelde persone te leef nie. Ons het nie goeie higiëne, water, toilette of goeie sanitasie nie. Ons bly hier omdat ons geen ander keuse het nie – weens die verskriklike vervolging wat ons ontwortel het,” sê hy.

Pastoor Barnabas gee onderrig aan kinders in die Christelike vlugtelingkamp.

Dankbaar teenoor God
Ten spyte van dit alles, is pastoor Barnabas dankbaar teenoor God dat sy lewe gered is. “As dit nie was vir God se ingryping en liefde nie, sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie,” sê hy. “Ek gee alles aan God oor; laat sy wil in my lewe geskied. Ek weet ek kan seker wees van God se getrouheid. Hy help my en onderhou my. Daarom klou ek aan Hom vas.”

Noodsaaklike ondersteuning
Danksy die ondersteuning van plaaslike vennote het Geopende Deure noodvoedselpakkette aan die intern ontwortelde persone in pastoor Barnabas se kamp verskaf en sommige mense se mediese rekeninge betaal. Hulle is ook van plan om vaardigheidsopleiding en traumasorg te verskaf om langtermynveerkragtigheid en selfonderhoudendheid te ondersteun, en gaan betaal vir die operasie aan pastoor Barnabas se hand.

Besoek opendoors.org.za om die vervolgde Kerk in sub-Sahara Afrika te versterk en te wys dat hulle nie alleen is nie.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 26/08/2024

*Naam verander en verteenwoordigende foto’s weens veiligheidsredes gebruik. | Foto’s: © 2024 Open Doors International

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here