Geskryf deur: Katelin van Zyl
Artikelbron:  incontextinternational.org 

Daar heers kommer dat Kenia se Dadaab-vlugtelingkampe breekpunt gaan bereik. Kenia se Dadaab-kampe het in 1991 tot stand gekom om tydelike skuiling aan ongeveer 90 000 Somaliërs te verskaf wat oor die grens na Noordoos-Kenia gevlug het nadat Siad Barre se militêre regime tot ’n val gekom het en burgeroorlog in Somalië uitgebreek het.

Dadaab het sedertdien een van die grootste vlugtelingkampe geword en bied nie net ’n tuiste vir diegene wat van konflik (hoofsaaklik tussen Al-Shabaab en die regering) vlug nie, maar ook die droogte probeer ontvlug. Die Horing van Afrika-streek, wat Kenia, Somalië en Ethiopië insluit, het in 40 jaar nie so ’n langdurige en ernstige droogte ervaar soos tans nie. Die streek ervaar reeds sy sesde opeenvolgende mislukte reënseisoen. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) is bekommerd dat 135 mense elke dag tot en met Junie as gevolg van die droogte in Somalië kan sterf. In Februarie het die Verenigde Nasies (VN) se vlugtelingorganisasie (VNHKV) $137 miljoen aangevra om lewensreddende hulp aan 3,3 miljoen vlugtelinge en intern ontwortelde mense in die streek te voorsien, sowel as aan die plaaslike gasheergemeenskappe. Die VNHKV het meer as 1,7 miljoen interne ontworteldes aangeteken wat weens die droogte in Ethiopië en Somalië moes trek.

Die VNHKV meen dat die drie nedersettings van Dadaab tans 320 000 vlugtelinge (sommige skat selfs tot 350 000 vlugtelinge) huisves. Daar word gesê dat tussen 400 en 500 mense daagliks by Dadaab aankom. Die Keniaanse owerhede het al herhaaldelik gedreig om die kamp, wat die bevolking van baie Keniaanse stede oortref, te sluit. Die toename in vlugtelinge plaas die skaars hulpbronne onder geweldige druk en die VNHKV en sy vennote sukkel om water, kos, gesondheidsorg en ander noodsaaklike dienste aan weerlose groepe soos kinders, wat die ergste geraak word, te voorsien. Bo en behalwe babas en jong kinders is swanger vroue en vroue wat borsvoed geïdentifiseer as dié wat dringende ingryping m.b.t. voeding benodig.

’n Lid van Dokters Sonder Grense (MSF) het gesê dat die toestand in Dadaab van die ergste is wat hulle al gesien het. Fondse het nie toegeneem in ooreenstemming met die toename in aankomelinge nie. Daar is planne om in die komende maande ’n vierde nedersetting oop te maak wat 80 000 vlugtelinge kan huisves, maar daar kort nog $18 miljoen van die $23 miljoen wat benodig word om die nedersetting oop te maak en vir die eerste jaar te bedryf.

 

Dit blyk of tekorte aan befondsing vir humanitêre werk algemeen oor die hele wêreld voorkom, maar ons weet dat ons God op wonderbaarlike maniere kan voorsien in die mees desperate omstandighede. So kan die Kerk dan in geloof bid vir Sy voorsiening volgens Sy wil. Die wêreldwye Kerk kan ook bid dat die skynbaar eindelose droogte in die streek tot ’n einde sal kom. ’n Keniaanse kontak van INcontext het gedeel dat verskeie kerkleiers van verskillende dele van Kenia, sowel as die president en vise-president op 14 Februarie bymekaar gekom het om saam te bid vir reën. Teen einde Maart en begin April het meeste dele van die land reën gehad, wat boere in staat gestel het om oeste aan te plant.

Namate Somaliërs (sowel as vlugtelinge van naburige lande) steeds in Kenia ’n toevlug soek, bied dit ’n geleentheid vir die Kerk in Kenia om tot ’n groter mate toegang te kry tot mense uit hierdie land met ’n Moslem-meerderheid wat geslote is vir die evangelie. Daar is ’n aantal Christen-organisasies wat saam met die VNHKV en Kenia se regering in die kampe werk om in verskeie behoeftes te voorsien. Voorbeelde van sulke organisasies sluit in Christian Blind Mission International, wat poog om blinde mense te ondersteun en te verseker dat mense toegang tot doeltreffende oogsorg in die kampe het.

Die Lutherse wêreldfederasie is betrokke by die bestuur van die kampe, opvoeding, beskerming en gemeenskapsdienste, terwyl die Nasionale Raad van Kerke in Kenia die Peace Education-program bestuur. Sommige organisasies is meer betrokke by vlugtelinge in stedelike gebiede. Die Kerk kan vir Keniaanse gelowiges bid wat met die Goeie Nuus na vlugtelinge uitreik. Mag die Here hulle harte open om die enigste ware toevlug te ontvang wat deur geloof in Christus kom. Ons kontak van Kenia het gesê dat daar ’n hernude begeerte vir herlewing in Kenia is namate mense honger na God en heiligheid. Mag hierdie geestelike honger ook oorspoel na die vlugtelingkampe waar daar fisiese honger en desperaatheid heers. Mag God hierdie verskriklike fisiese situasie ten goede laat meewerk deur nie alleen na hulle fisiese behoeftes om te sien nie, maar deur hulle die Brood van die Lewe te gee wat hulle vir ewig sal versadig. “Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” – Johannes 6:35.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat Kenia steeds in nederigheid die Here se ingryping in hierdie droogte sal soek en dat Hy verligting sal bring vir hierdie streek wat al reeds so lank ly,
  • dat God deur Keniaanse gelowiges sal werk terwyl hulle die geleentheid aangryp om die Goeie Nuus in liefde met hul “vlugtelingbure” te deel, en
  • dat vlugtelinge wat Jesus nie ken nie na Hom sal honger en dat God hulle geestelike honger sowel as hulle fisiese behoeftes sal bevredig.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 15/04/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com en pixabay.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here