Geskryf deur: Geopende Deure SA Artikelbron: www.opendoors.org.za

Beste familie in Christus,

Ons het op 29 September die aaklige nuus ontvang van ʼn boosaardige aanval op ons familie in noordelike Mosambiek deur IS-militante. Ons skryf om vir jou dringende gebede te vra.

Wat gebeur het
Volgens berigte het militante op 14 September in die dorpie van Naquitenge aangekom. “Ná hul aankoms het hulle ʼn vergadering gehou,” het ʼn bron wat sy nefie in die aanval verloor het, aan die Portugese nuusagentskap Lusa vertel. “Die dorpsmense het nie geweet dat hulle terroriste was nie. Hierna het hulle begin om die Christene van die Moslems te skei, gebaseer op hul name. Toe het hulle op die Christene begin skiet,” sê hy.

Terwyl sommige berigte noem dat elf mense doodgemaak is, sê ʼn Geopende Deure-veldwerker dat twaalf Christene in die aanval dood is. Vyf Christen-vroue is vasgebind en in ʼn huis toegesluit wat aan die brand gesteek is. Al die vroue is dood. Sewe ander Christene is geskiet en het onmiddellik gesterf, terwyl verskeie mense ook beseer is. Ander het na die woude gevlug.

Islamitiese Staat het glo verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Die Islamitiese ekstremistiese groep Ahlu-Sunnah wal Jama’ah is sedert 2017 in opstand in Mosambiek se hulpbronryke noordelike provinsie van Cabo Delgado.

Die situasie op grondvlak
Gevegte tussen hierdie groep en Mosambiek se gewapende magte het al duisende lewens geëis en een miljoen mense uit hul huise gedwing. Minstens twee miljoen mense benodig onmiddellike humanitêre hulp.

Christene ervaar moorde, ontvoering en die verwoesting van kerke en hul eiendomme. Die land het van die 41ste posisie in 2022 tot die 32ste posisie in 2023 gestyg op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys met die 50 lande waar dit die moeilikste is om ʼn Christen te wees.

Bid asseblief vandag saam met ons:
Ons is almal diepbedroef oor die verliese en pyn wat ons familie moet verduur. Ons vra vir die gebede en ondersteuning van die Suider-Afrikaanse Kerk. Ons span is vanoggend tydens gebede herinner aan God se belofte dat Hy ons nooit sal verlaat nie, selfs al gaan ons deur die vallei van doodskaduwee. En toe Daniël se vriende in die vuuroond was, was God by hulle.

“Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ʼn hemelwese!” – Daniël 3:25

  • Bid vir ons Kerkfamilie wat hul families verloor het om moed en veerkragtigheid te hê.
  • Bid dat die Mosambiekse regering die wil sal hê om hierdie konflik, wat die Kerk in die noorde van die land teister, te beëindig.
  • Bid dat God genadig sal wees teenoor die Kerk in Cabo Delgado en dat die plaaslike Moslem-bevolking na die Here Jesus Christus sal draai.

Dankie vir jou vurige gebede.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 02/10/2023
Foto: opendoors.org.za

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here