Geskryf deur René Roux; Solidariteit Helpende Hand
Artikel oorspronklik geplaas in die Oktober uitgawe van JUIG! Tydskrif
Elke middag wanneer die kinders ná skool by Solidariteit Helpende Hand Ons Plek aankom, is daar ’n gewoel van skooltasse, kosblikke en stemme wat almal gelyk wil vertel wat deur die dag gebeur het. Tussen hulle is daar ook ’n klein dogtertjie wat haar tas by haar gewone plek neersit, haar skoene so half onder die stoel inskop en dadelik gaan kyk wat die ander kinders doen. Wanneer ’n mens haar so sien lag en speel, sal jy nie noodwendig weet hoeveel dit vir ’n kind kan beteken om elke dag by ’n plek aan te kom waar sy weet sy is veilig, waar sy nie hoef te wonder of iemand gaan raaksien wanneer sy hulp nodig het nie.
Veel meer as net ’n gewone dag
Hier ken hulle haar naam, hulle weet waarmee sy by die skool sukkel en hulle weet ook wanneer sy ’n stiller dag as gewoonlik het. Daar is iemand wat langs haar kan kom sit wanneer die huiswerk te moeilik raak, haar aanmoedig om weer te probeer en wat saam met haar bly kan wees wanneer sy uiteindelik daardie som regkry waarmee sy die hele middag gesukkel het. Later word daar geëet en daarna is daar tyd om te speel, en miskien besef sy nog nie hoe kosbaar daardie gewone middae by die Ons Plek van Solidariteit Helpende Hand eintlik is nie. Vir haar is dit bloot die plek waar sy haar huiswerk doen, waar haar maatjies is en waar sy weet daar gaan iets wees om te eet, maar vir die grootmense rondom haar beteken dit veel meer. Dit beteken dat sy vir ’n paar ure nie hoef bekommerd te wees oor dinge wat eintlik nooit ’n kind se bekommernis moes wees nie en dat sy die ruimte kry om te leer, te ontwikkel en sommer net kind te wees.
Dit is waar die verhaal van Solidariteit Helpende Hand Ons Plek eintlik begin het. In Oktober 2014 is ’n behoefte in die Strand raakgesien waar 20 Afrikaanse skoolkinders ’n veilige en opbouende plek nodig gehad het om ná skool hul huiswerk te doen en ’n maaltyd te ontvang voordat hulle teruggekeer het na die karavaanpark waar hulle saam met hul ouers gewoon het. Aan die begin was daar net daardie paar kinders en ’n gemeenskap wat besef het dat hulle iets kan doen om hierdie kinders se omstandighede ’n bietjie anders te maak.
Van krag tot krag
Dit herinner aan die woorde van Spreuke 31:8: “Praat namens dié wat nie vir hulleself kan praat nie.” Soms begin verandering juis daar waar ’n gemeenskap ’n behoefte raaksien en besluit om nie anderpad te kyk nie. Sedertdien het daardie eerste naskoolsentrum gegroei tot agt Ons Plekke waar meer as 400 kleuters en skoolkinders saam met gemeenskappe ondersteun word. Hulle kan binne ’n veilige Afrikaanse omgewing ontwikkel en deur ’n uitkomsgebaseerde program vir skool voorberei word. Wanneer hulle later skool toe gaan, verander hulle behoeftes, maar die belangrikheid van daardie veilige plek verdwyn nie. Dan is daar huiswerk wat gedoen moet word, take wat voltooi moet word en soms ’n kind wat net iemand nodig het om langs haar te sit en te sê: “Kom ons probeer weer.”
Genesing vir onsigbare wonde
Daar is natuurlik ook kinders wat met meer as ’n moeilike skooltaak by die deur instap. Sommige kinders dra trauma en seer saam met hulle waarvoor hulle nog nie altyd die woorde het nie, en juis daarom is die werk van Ons Sentrum so belangrik. Hier ontvang kinders wat trauma beleef het spelgebaseerde assesserings en terapeutiese ondersteuning deur opgeleide terapeutiese maatskaplike werkers, terwyl ouers ook ondersteun en toegerus word om hul kinders beter te verstaan en met meer selfvertroue hul ouerskappad te stap. Ook die seer wat nie van buite sigbaar is nie moet raakgesien en versorg word. Tog is dit nie die seer wat die hele storie van hierdie dogtertjie moet vertel nie.
Wanneer jy haar vandag sien, sien jy ’n kind wat lag omdat haar maatjie iets snaaks gesê het, wat vies raak omdat sy nie haar somme verstaan nie, wat haar kos eet wanneer sy honger is en wat weet daar is iemand na wie sy kan gaan wanneer iets verkeerd is. Sy is nie elke oomblik bewus daarvan dat ’n hele gemeenskap rondom haar help bou aan die plek waar sy veilig kan wees nie, en sy hoef ook nie te wees nie. Sy moet net weet dat sy hier welkom is.
’n Gemeenskap wat saamstaan
Dit is dalk die mooi van Solidariteit Helpende Hand Ons Plek. Dit is nie een persoon wat besluit om ’n kind se hele lewe vir haar reg te maak nie. ’n Gemeenskap gee elkeen iets van hulself, sodat ’n kind die geleentheid kan kry om haar eie lewe te bou. Dit laat ’n mens dink aan 1 Johannes 3:18: “Laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”
Sommige mense dien op sentrumkomitees, ander help met fondsinsameling, sommige tree as donateurs vir kinders op en ander gee eenvoudig hul tyd, kennis en talente waar dit nodig is.
Al hierdie mense gaan waarskynlik nooit weet presies wat elke kind wat deur die hek stap eendag gaan word nie, maar dit is ook nie nodig nie. Wat belangrik is, is wat vandag gebeur. Wanneer haar naam later die middag geroep word omdat dit tyd is om huis toe te gaan, tel sy haar tas op, groet haar maatjies en stap by die hek uit met die sekerheid dat sy môre weer kan terugkom.
Veiligheid, versorging, liefde en die geleentheid
Vir haar is dit dalk net nog ’n gewone dag. Maar dalk is dit presies wat ons vir elke kind wens: dat veiligheid, versorging, liefde en die geleentheid om te leer nie iets buitengewoons in haar lewe sal wees nie, maar deel van haar gewone elke dag. Dat sy nie hoef groot te word met die gevoel dat sy alleen haar pad moet vind nie, maar dat daar mense rondom haar is wat bereid is om saam te bou totdat sy sterk genoeg is om haar eie plek in die wêreld in te neem. Want die toekoms lê in ons kinders se hande, maar wat daardie klein handjies eendag met die toekoms kan doen, word gevorm deur wat ons vandag bereid is om in hulle hande te plaas.


Hierdie artikel verskyn in die Oktober 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto verkry deur oorspronklike artikel geplaas in die Oktober uitgawe van JUIG! Tydskrif
Datum gepubliseer: 02/10/2026
VRYWARING JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








