Onderhoud deur Gillian Fraser; JUIG! Tydskrif Oktober 2026

Max Immelman was lief vir die lewe. Hy was lief vir gholf, swem, water polo, speletjies, reis, visvang, om mense te maak lag, aksente na te maak en beatboxing. Sy Skotse aksent was blykbaar besonders goed. Sy ma, Barbara -Marié, onthou die klein dingetjies ook – as hy by die huis aankom na skool, moeg en warm in sy blaser, en om te sien hoe sy gesig ophelder as hy haar raaksien. “Die oomblik toe hy my sien, het hy hierdie reuse-glimlag op sy gesig gehad, wat my hart verlig het en my laat glimlag het. Wanneer hy ook al geglimlag het, het ek geglimlag.” Max het planne gehad. Hy wou meer reis. Hy wou dinge doen, dinge sien, dinge word. Hy het gegrap dat hy eendag met ’n pragtige donkerkop gaan trou, “soos sy ma”. Hy was 15 jaar en 11 maande oud toe hy oorlede is. As jy saam met Barbara -Marié en Charl sit, voel jy die gewig van alles wat verlore gegaan het. Maar ’n ander woord het herhaaldelik opgekom soos hulle oor hul seun gepraat het: impak. Want op een of ander manier, in minder as 16 jaar, het Max meer lewens aangeraak as wat selfs sy ouers besef het.

Hy het mense raakgesien
“Hy was ’n absolute vreugde,” sê Barbara-Marié. “Hy was snaaks, maar hy was ook ongelooflik vriendelik. Hy was geïnteresseerd in ander mense.” Dit was een van die dinge wat mense die meeste van Max onthou. In die hospitaal sou hy die verpleegsters en skoonmakers oor hulleself vra – waar hulle bly, hoe lank hulle daar gewerk het, of hulle kinders het. “Hy het hulle só spesiaal laat voel,” sê Barbara-Marié. Hy het dieselfde by die skool gedoen. Hy het die kind opgemerk wat alleen gestaan het. Hy het mense ingesluit. Hy was gemaklik om met volwassenes te praat en sou bedagsame vrae oor hulle werk of besighede vra. Hy het mense in die oë gekyk. Hy het behoorlik gegroet. Hy het advies by sy ouers gevra. As hy iets verkeerd gedoen het of iets sien wat hom ongemaklik gemaak het, het hy daaroor gepraat. Charl is versigtig om nie sy seun perfek te laat klink nie. “Ons dink almal ons kinders is wonderlik,” sê hy. “Maar oral waar ons gegaan het, het mense op een of ander manier deur Max aangeraak gevoel. Daar was net iets aan hom.” Die omvang daarvan het eers later duidelik geword. Max het relatief kort tye by beide Paul Roos Gimnasium en Hoërskool Parel Vallei deurgebring, maar albei skoolgemeenskappe is diep deur sy dood geraak. “Daai beperkte tyd saam met mense het so ’n impak gehad,” sê Charl. “Dit is die woord wat alles rakende Max definieer.”

Die dag toe alles verander
In Mei 2025, nadat Max al ’n paar weke nie goed gevoel het nie, het hy by die skool flou geword. Bloedtoetse het gevolg. Op 25 Mei het die gesinsdokter vir Barbara-Marié, Charl en Max gevra om in te kom. Barbara-Marié het geweet iets is verkeerd. Die jong dokter het gesukkel om die nuus aan hulle oor te dra. Max het leukemie – ’n seldsame, aggressiewe vorm – gehad. Voor hulle vertrek, het die dokter saam met hulle gebid en vir hulle gesê om reguit hospitaal toe te gaan. Hulle het huis toe gegaan, ’n tas gepak en deurgery. Selfs in daardie eerste vreesaanjaende ure, sê Charl, was daar besonderhede wat hulle laat voel het dat God al voor hulle daar was. Die spesialis wat daardie naweek aan diens was, was toevallig iemand wat hulle geken het vandat Max ’n baba was. Hy het Max se dokter geword. Dit was die begin van ’n lang jaar van behandeling, hospitaalverblyf, medikasie, gebed, terugslae en oomblikke van hoop. Max het chemoterapie ondergaan en later ’n beenmurgoorplanting. In Oktober het hy die klok gelui en is daar vir hom gesê dat hy kankervry is. Toe, aan die begin van die volgende jaar, het die leukemie
weer teruggekom.

My verhaal tot Sy eer
Max het in ’n Christelike huis grootgeword. Hy is as baba ingeseën, het later self gekies om gedoop te word, het kerk toe gegaan en was by Christelike groepe by die skool betrokke. Maar sy ouers sê iets het gedurende sy siekte verander. “Ek het gesien hoe sy geloof verdiep,” sê Barbara-Marié. Max wou nog altyd graag inhoud aanlyn skep, maar hy was skaam. Toe hy siek geword het, het hy begin om sy reis op Instagram te deel. Selfs op dae wanneer hy verskriklik sleg gevoel het, het hy moed bymekaargeskraap, na die kamera gekyk en met die mense wat hom gevolg het, gepraat. Sy boodskap was eenvoudig: God is daar. Hou aan om Hom te vertrou. Dit was nie ’n valse vorm van positiwiteit nie. Barbara-Marié onthou dat daar tye was wanneer Max gehuil het, gesukkel het en die vrae gevra het wat enigeen van ons sou vra. “Hy sou sê: ‘Maar God, hoekom? Waar is U? Ons bid, maar niks gebeur nie.’” Maar hy het nooit van sy geloof weggestap nie. Johannes 3:16 het besonder belangrik vir hom geword, en in die hospitaal het ’n handgemaakte plakkaat hom dikwels van kamer tot kamer vergesel. Daarop was die woorde: “My storie vir sy glorie” Sy siekte het ’n platform geword waarvoor hy nooit gevra het nie, maar hy het dit gebruik om mense na Jesus te lei. “Hy sou sê: ‘Ouens, onthou net, maak nie saak waardeur julle gaan nie, die Here is altyd by julle,’” onthou Barbara-Marié. “Dit was regtig belangrik vir Max. Maak nie saak waardeur jy gaan nie, die Here is altyd met jou.”

Glo daar is ’n ander einde
Die Immelmans het nie stilweg aanvaar dat hulle Max sou verloor nie. Hulle het vir genesing gebid. Hulle kerk het gebid. Vriende het gebid. Gebedsgroepe wat hulle nog nooit ontmoet het nie, het gebid. Mense oorsee het gebid. Kos het opgedaag. Medisyne is voorsien op oomblikke wanneer hulle dit dringend nodig gehad het. Dokters en mense het op die regte tyd opgedaag. Charl het aantekeninge en stemopnames gemaak, want daar was soveel oomblikke waar hy geglo het dat hy God in die klein besonderhede kon raaksien. “Dit is hoekom ek so oortuig was dat hy hierdeur sou kom,” sê hy. “Ek het gesê: Die Here is in elke detail.” Hulle het geglo Max sou leef. Maar Max het nie herstel nie. Daardie spanning lê in die hart van hulle verhaal. “Ons het nie die antwoord gekry waarvoor ons gehoop het nie,” sê Charl. “Maar jy kan nie sê God was nie daar nie.”

Drie dae tuis
Teen die einde het Max genoeg gehad van die hospitaal. “Ek wil my kanse waag,” het hy vir sy dokter gesê. “Ek is klaar met die hospitaal. Ek wil uitkom.” Hy het huis toe gekom. Die gesin het verpleegsters en palliatiewe sorg gereël, hoewel Barbara-Marié sê dat sy aanvanklik nie werklik verstaan het wat palliatiewe sorg beteken nie. Sy het gedink die verpleegsters is daar om hom met sy medikasie en versorging te help terwyl hy tuis herstel. Max het drie dae gehad. Dit was moeilike dae, maar Charl onthou dit ook met diepe dankbaarheid. Max was waar hy wou wees. Hy was by sy gesin. Hy het sy hondjie gesien. “Max wou huis toe kom, hy was moeg vir hospitale. En ons is so dankbaar dat hy sy laaste dae in sy eie bed kon deurbring, omring deur sy gesin en sy nuwe hondjie, Callaway,” deel Barbara-Marié. Daar was gesprekke, gelag en kosbare oomblikke saam. Wat sy ouers die meeste getref het, was sy vrede. Max het soms in sy lewe met angs en vrees geworstel. Tog, soos die einde nader gekom het, sê Charl dit het gelyk asof die vrees verdwyn het. “Hier was hy, besig om die dood vierkantig in die oë te kyk. Aan die einde, geen vrees nie.” Barbara-Marié onthou ’n vrede wat oor hulle huis en oor die gesin gekom het – ’n vrede wat sy steeds moeilik vind om te verduidelik. Toe sterf Max tuis, met die mense vir wie hy lief was naby hom.

Wanneer geloof geruk word
Wat gebeur met jou geloof wanneer jy bid, glo, aan die Woord geanker bly, alles doen wat jy weet jy moet doen – en jou kind sterf steeds? Charl maak nie asof daardie vraag maklik is nie. “Wanneer jou seun sterf, en jy het Hom vertrou en in Hom geglo, laat dit jou wonder op hoeveel van die beloftes jy werklik kan staan,” sê hy. Hy was nie kwaad vir God nie, maar sy geloof is diep geruk. Hy beskryf hoe hy ontnugter geraak het met sommige van die maniere waarop hy geloof en vertroue verstaan het. Daar was selfs die versoeking om na binne te kyk en te vra of hulle dalk nie genoeg gebid het nie, nie genoeg geglo het nie, of iets anders moes gedoen het nie. Hy noem dit nou “’n strik”. In plaas daarvan het die verlies hom gedwing om dieper te delf. “Jy dink jy staan op ’n stewige fondament, en dan voel dit skielik asof jy op skuifsand staan. Maar jy vee die skuifsand weg, en eintlik kom jy op iets vas en solied onder dit te staan. Dit is ’n dieper vlak van geloof.” Barbara-Marié se rou lyk anders, en sy is baie openlik daaroor. “Christenskap is ’n verhouding met die Here,” sê sy. “Dit is om voortdurend met die Here te praat – oor jou goeie dae, jou slegte dae, jou vrese, jou twyfel. God is groot genoeg om dit te hanteer. Jy kan vir Hom sê: ‘Ek is ontsteld.’” Sy is ontsteld. Sy huil. Party dae sukkel sy om te bid. Sy het vir eers opgehou sing en viool speel in die aanbiddingspan omdat sy nie op ’n verhoog kan staan en voorgee dat dit goed gaan wanneer dit nie so is nie. “Ek is nie ’n huigelaar nie,” sê sy eenvoudig. “Ek kan nie sê: ‘Jesus, Jesus, Jesus, ek is gelukkig,’ wanneer ek stukkend is nie.” Dan voeg sy die sin by wat dalk meer sê as enige gepoleerde getuienis: “Dit verander nie die feit dat ek weet die Here is daar nie, en ek weet Hy het my lief nie.” Hulle hartseer is steeds rou. Maar daar is steeds geloof.

’n Lewe met ’n impak
Ná Max se dood het Barbara-Marié en Charl stories begin hoor waarvan hulle voorheen nooit geweet het nie. Mense wat hulle nog nooit ontmoet het nie, het sy Instagram-opdaterings gevolg. Volwassenes en kinders is deur hom bemoedig. Die ouditorium by sy gedenkdiens was stampvol. Tieners van albei skole het gekom om hulde te bring aan ’n seun wat hulle slegs vir ’n kort tyd geken het. Jannie de Villiers, skoolhoof van Paul Roos Gimnasium, onthou Max as iemand wat ’n diep indruk gelaat het: “Ek dank God vir die voorreg om Max te kon ontmoet. Hy het ’n groot indruk op my gemaak deur sy volwassenheid, kalmte van gees, die manier waarop hy met wysheid bo sy jare gepraat het, sy moed en sagte krag, en sy vertroue in God, in wie se arms hy nou vir seker rus – vry van die siekte waarteen hy so lank geveg het.” Die gesin het gehoor van mense wat sy lewe van buite Suid-Afrika gevolg het, en ook hoe diep die gedenkdiens self diegene wat dit bygewoon het, geraak het. Terwyl Max nog geleef het, het sy Graad 10-klasmaats ook ’n boek vol boodskappe aan hom geskryf. Barbara-Marié het langs hom in die hospitaal gesit en bladsy ná bladsy hardop vir hom gelees. Keer op keer het sy ontdek hoe Max mense raakgesien het, hulle ingesluit het en hulle laat voel het dat hulle raakgesien en waardeer word. Vir Barbara-Marié en Charl het hierdie stories hulle gehelp om iets te verstaan wat hulle nie ten volle raakgesien het toe Max nog geleef het nie. Sy impak het nie gegaan oor ’n groot platform of ’n groot gehoor nie. Dikwels het dit eenvoudig gegaan oor die persoon wat reg voor hom gestaan het – die verpleegster wat sy hospitaalkamer binnegekom het, die kind wat alleen by die skool gestaan het of die persoon wat êrens ver weg na een van sy opdaterings gekyk het, op ’n plek waarvan hy nooit sou weet nie. Teen die einde van ons gesprek het ek vir Barbara-Marié en Charl gevra wat Max sou wou hê hierdie artikel moes sê indien hy dit self kon lees. Hulle antwoord het vinnig gekom: “Volg die Here. Maak nie saak wat nie.” Max het slegs 15 jaar en 11 maande geleef. Hy wou graag meer tyd gehad het. Maar die lewe wat hy wel gehad het, was nie gering nie. En miskien is die duidelikste opsomming daarvan steeds die woorde wat hom deur soveel van sy siekte vergesel het: My storie vir Sy glorie

’N BOODSKAP WAT OP MAX SE FOON GEVIND IS (IN SY EIE WOORDE):
Mense vra my soms: “Max, is jy bly jy het leukemie gekry?” Natuurlik nie. Maar ek sal dit sê: Dit is my storie tot Sy eer. My verdrukking is klein in vergelyking met die uiteindelike opoffering van Jesus Christus. Hy het sy perfekte lewe afgelê sodat ons die ewige lewe kon hê. Hierdie reis het my geleer om my dae te tel en dankbaar te wees vir ‘n bed om in te slaap, vir gesondheid, vir familie, vir kerk en vir ‘n verhouding met Jesus, want alles kan in ‘n oomblik verander. Leef dus met vriendelikheid. Leef met deernis. Leef met ‘n dankbare hart. Baie dankie dat jy na my getuienis geluister het. God seën jou.


Hierdie artikel verskyn in die Oktober 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Hoof foto verkry deur oorspronklike artikel geplaas in die Oktober uitgawe van JUIG! Tydskrif
Datum gepubliseer: 02/10/2026

VRYWARING JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here