Geskryf deur: René Roux

Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Solidariteit Helpende Hand se bestaansrede is om welstand deur werksyn in en deur ons gemeenskap te help verseker. Een van die unieke waardeaanbiedinge is ’n welstandgerigte gemeenskapsontwikkelingstruktuur. Binne hierdie struktuur funksioneer 225 Solidariteit Helpende Hand-takke landswyd, met meer as 1 300 vrywilligers en ook ons maatskaplike werkers wat elke dag werk om gemeenskappe doelgerig toe te rus, te ondersteun en voorspoed te verseker.

Unieke uitdagings
Wanneer ek soms reis na ons verskeie takke regoor ons pragtige land, is ek telkens verbaas oor die ongelooflike werk wat hulle elke dag aanpak. Dit is ook vir my duidelik dat elke gemeenskap se behoeftes so uiteenlopend verskil. Wat nodig is in die een dorp is glad nie nodig in die ander nie. Wat as ’n luuksheid gesien word in een streek is iets gewoon vir die ander. Party streke het droogte en ander word weggespoel deur die reën. Party dorpe lei onder geestelike armoede waar ander onder kulturele armoede lei. Elke gemeenskap se armoede verskil, juis daarom is hierdie welstandgerigte gemeenskapsontwikkelingstruktuur van Solidariteit Helpende Hand so nodig.

Meer as net ’n versoek
Verlede jaar het ons 18 maatskaplike werkers ’n enorme getal van 5 484 hulpversoeke hanteer. Dit is ’n reusegetal vir slegs 18 mense, maar elke versoek is met liefde, geduld en hoop aangepak. Vir ons is dit nooit net ’n versoek nie – dit bly ’n kind wat ons nodig het of ’n senior persoon wat uitreik omdat sy mishandel word. Dit bly ’n gesin wat nie meer weet wat om te doen en of hulle ooit weer gelukkig gaan wees nie. Elke versoek bly ’n adres waar daar aandag en liefde nodig is, waar daar ’n helpende hand nodig is.

Die krag van gemeenskap
My ouma het kort voor haar dood weer met my gedeel hoe sy haar kinders alleen moes grootmaak omrede my oupa jonk gesterf het. Sy het nooit hierdie storie vertel en gekla oor hoe moeilik dit was nie. Nee, sy het my altyd vertel van hoe haar gemeenskap in Kimberley ingetree en haar gehelp het. Daar is 1 liter-glasbottels vol melk afgelewer en hoenders is vir haar oor die muur aangegee. Daar was ’n helpende hand, dit het net bestaan uit ’n gemeenskapstruktuur binne die Dalmweg-buurt van Kimberley. Tussen die rooi grond het gemeenskapsontwikkeling plaasgevind in ’n kleiner maar nodige sirkel, ’n sirkel waar my ma as mens gevorm is. Sy het op haar beurt weer ons drie sussies gevorm in liefdevolle mense wat ander wil help. Dit wys net weer opnuut vir ’n mens die krag wat skuil in ’n welstandgerigte gemeenskapsontwikkelingstruktuur en die voorspoed wat dit bied.

Agente van verandering
Solidariteit Helpende Hand se maatskaplikewerk-diensteafdeling bestaan uit ’n span maatskaplike werkers en hulp-maatskaplike werkers wat in die onderskeie streke gestasioneer is. Hierdie span word as agente van verandering beskou deurdat hulle die Godgegewe talente en gawes van gemeenskappe deur doelgerigte maatskaplikgebaseerde gemeenskapsontwikkeling ontgin. In samewerking met die streeksorganiseerders en vrywillige takke van Helpende Hand mobiliseer die maatskaplikewerk-diensteafdeling hulpbronne binne gemeenskappe.

Die maatskaplikewerk-diensteafdeling lewer ook die volgende kerndienste binne die raamwerk van Helpende Hand:
• Doelgerigte maatskaplike oriëntering, -opleiding en ondersteuning aan Helpende Hand se vrywilligertakke.
• Professionele hantering van maatskaplike aangeleenthede in samewerking met geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies.
• Evaluering van hulpversoeke deur middel van ’n omvattende assesseringsproses en aanbevelings wat volhoubare oplossings bied.
• Uitbou en versterking van netwerkverhoudings binne die onderskeie gemeenskappe deur gemeenskapsforums met die volgende rolspelers te stig: skole, kerke, en kinderbesker-mingsorganisasies.
• Niewinsgewende organisasies wat dienste binne ’n bepaalde gemeenskap lewer.
• Die opstel en uitrol van gemeenskapsgebaseerde ontwikkelingsprogramme en -projekte.
• Die opstel van ’n verskeidenheid hulpgidse ten einde gemeenskappe op hoogte te bring van maatskaplike aangeleenthede.
• Publikasies van verrykende en opbouende leesstof op sosiale en ander mediaplatforms.
• Navorsing ten einde die ware behoeftes van gesinne, gemeenskappe, residensiële instansies vir seniors, persone met gestremdhede en kinders te bepaal deur middel van gemeenskapontleding-vraelyste. Die navorsingsresultate verseker dat alle projekte en programme wat deur Solidariteit Helpende Hand uitgerol word, volhoubaar is en nie afhanklikheid skep nie.
• Verwysing van terapeutiese dienste wat deur Ons Sentrum gelewer word.
• Koördinering en implementering van die Bemagtig-’n-kind-projek.

Naasteliefde in aksie
Mag ons altyd soos die gemeenskap wat my ouma help kinders grootmaak het in Kimberley mekaar ondersteun. Jy kan inloer by Solidariteit Helpende Hand en deel word van hierdie struktuur waar welstand vir ons op die voorgrond is, waar ons naasteliefde met uitnemendheid nastreef en waar ons mekaar roepingsgedrewe wil bystaan. Hier waar niemand nooit net ’n nommer is nie, maar ’n adres met ’n naam en ’n voorspoedige toekoms.

Dankie aan elke maatskaplike werker
Dankie aan ons maatskaplike werkers by Helpende Hand maar ook dankie aan elke maatskaplike werker van ons land. Julle werk en ywer om ander te help kan ’n mens sien en voel, julle is uniek uitgekies vir hierdie roeping. Mag ons as Suid-Afrikaanse burgers julle altyd ondersteun om julle werk te kan doen en nie in julle pad staan nie, maar die wind wees wat julle help om te kan beweeg sodat ons gemeenskappe fisies, kultureel en geestelik gesond kan wees. Daar is hoop in ons land, daar is hoop vir ons kinders, daar is hoop vir die toekoms wanneer mense soos vrywilligers en maatskaplike werkers saam staan binne hierdie sterk, welstandgerigte gemeenskapsontwikkelingstruktuur.

RENÉ ROUX – bestuurshoof: Media, Solidariteit Helpende Hand

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 18/02/2025

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here