Geskryf deur: Katelin van ZylArtikelbron: INcontext International 

Op Sondag 15 Oktober het nog ’n aardbewing van 6,3 die weste van Afghanistan getref, slegs ’n paar dae nadat ’n reeks aardbewings meer as 2 000 mense se lewens in die provinsie Herat geëis het.

Vroeër vandeesmaand is die suide van Meksiko deur ’n aardbewing van 5,9 op die Richterskaal getref. Hierdie natuurrampe is van die jongste natuurrampe wat dood en vernietiging in gemeenskappe in die wêreld gesaai het. Sommige ander rampe wat in 2023 plaasgevind het, sluit die aardbewings in Turkye-Sirië en Marokko in, Sikloon Mocha in Mianmar en Bangladesj, uiterste oorstromings in China en die voortgesette droogte in die Horing van Afrika in.

In Matteus 24:7 en Lukas 21:11 sê Jesus vir ons om aardbewings, hongersnood en epidemies op verskeie plekke te verwag (asook oorloë, gerugte van oorloë en vyandigheid tussen nasies). Hierdie gebeure is “geboortepyne, die begin van die nuwe tyd” namate ons nader beweeg aan die tyd van Jesus se terugkeer om Sy Bruid (die Kerk) te kom haal. Ons word vermaan om te alle tye op Sy koms voorbereid te wees, besig met die werk wat God ons opgelê het en nie deur die dinge van die wêreld (insluitend die bekommernisse van die lewe) afgelei of deur ander mislei te word nie.

Ons word ook gewaarsku dat vervolging van Christene voor die einde van tyd, sal toeneem, en gelowiges sal gehaat word omdat hulle Jesus volg. “Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel” en “baie mense sal van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.” Dit behoort ons dus aan te moedig om getrou te bly en doelbewus ’n lewe te lei wat aan Christus toegewy is. Jesus sê vir ons dat die Evangelie aan al die nasies verkondig sal word voor die einde kom, en ons kan deel wees van hierdie uitbreiding van die Koninkryk wêreldwyd. (Matteus 24:4-14; Lukas 21:5-36; Matteus 25).

Terwyl ons probeer om voorbereid te wees op Christus se wederkoms, weet ons ook dat die Kerk voorbereid kan wees op al hierdie verskillende krisisse. Alhoewel die beginsels dieselfde bly, kan die besonderhede van krisisgereedheid effens anders lyk vir verskillende gelowiges, kerke en bedieninge, afhangende van hoe die Heilige Gees hulle lei. Vir sommige is dit dalk om gelowiges toe te rus om traumaberaders te wees, vir ander kan dit betrokkenheid by die bou van meer geskikte infrastruktuur wees in plekke wat kwesbaar is vir spesifieke natuurrampe, terwyl dit vir ander dalk is om voor te berei om hul fasiliteite as skuilings beskikbaar te stel as mense deur natuurrampe of konflik verplaas word. Risiko-evaluering en -bestuur kan baie nuttige hulpmiddels vir die Kerk bied om voor te berei vir enige soort risiko, veral diegene in leierskapposisies wat rentmeesters van mense en ander hulpbronne is en moeilike besluite in komplekse situasies moet neem.

Een voorbeeld van ’n kerk wat op ’n krisis reageer het, is die Kasr El Dobara Evangeliese Kerk in Kaïro, wat baie naby aan Tahrir-plein geleë is. Net voor die uitbraak van die gewelddadige tweede golf betogings tydens die Egiptiese revolusie, wat deur die Arabiese Lente aangevuur is en baie lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika-streek geraak het, het die kerk gebid oor hoe om beter na hul gemeenskap uit te reik. Lidmate van die kerk het glo opleiding in die oprigting van ’n veldhospitaal gedoen, en toe die gewelddadige betogings kort daarna uitbreek, het die kerk ’n veldhospitaal geword wat gereed was om die honderde mense wat beseer is en mediese sorg benodig, te ontvang, ongeag hul sienings teenoor die Christelike Kerk of hul rol in die revolusie.

Die kerk het wyd bekend geword as “die skuiling van Egipte”. Omdat hulle die revolusie as ’n bedieningsgeleentheid vir die kerk gesien het, was hulle ook betrokke daarby om puin vanaf Tahrir-plein te verwyder en te help skoonmaak. Hulle was ook een van die eerste plekke wat traumaberading vir gesinne wat geliefdes in die revolusie verloor het, aan te bied.

Baie lande in die “10/40 venster” (die geografiese gebied tussen 10 en 40 grade Noord van die ewenaar, wat van Noord-Afrika tot Asië strek), andersins bekend as The Resistant Belt (waar die meeste van die wêreld se “minste bereikte” of “onbereikte” mensegroepe woon) is geneig tot natuurrampe en vereis sosio-ekonomiese ontwikkeling. Daar is dus talle geleenthede vir die Kerk om rampgereedheid, reaksie en herstel te gebruik as ’n instrument om die evangelie in hierdie streek te versprei. Volgens die Wêreldbank, het 82% van sterftes wat deur uiterste weer en natuurlike gevare veroorsaak is, tussen 1970 en 2022, lae- en laermiddelinkomstelande geraak.

Ramprisikovermindering word as ’n belangrike aspek van klimaatveranderingsaanpassing beskou en kan betekenisvolle ekonomiese en maatskaplike voordele inhou. Op 13 Oktober, wat die jaarlikse Internasionale Dag vir Ramprisikovermindering is, het VN-amptenare die aandag gevestig op die verband tussen ongelykheid en rampe in die Karibiese konteks, wat van toepassing is op baie ander omgewings in die wêreld wat geneig is tot natuurlike gevare en uiterste weerspatrone. Om ’n oplossing vir ongelykheid te probeer vind, word beskou as ’n manier om die veiligheid van almal te verbeter sodat gemarginaliseerde gemeenskappe nie buitensporig geraak word nie. Terselfdertyd kan die vermindering van die risiko van rampe ’n platform bied om ongelykheid teë te werk. Bewus van hierdie dinamika, kan die plaaslike en wêreldwye Kerk die Here se leiding soek in hoe om te reageer op die tye waarin ons onsself bevind en die geleenthede rondom ons. Belegging in rampgereedheid kan plaaslike kerke toerus om ’n langdurige impak in hul gemeenskappe te hê en kan tot baie ander geleenthede in die toekoms lei.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat plaaslike kerke proaktief sal wees in die soeke na die Here se wil wanneer in rampgereedheid belê word;
  • dat die Kerk toegerus sal word daarin om beter by krisisgereedheid betrokke te raak, asook die reaksie en herstel prosesse; en
  • dat rampgereedheid nie net tot aanpassings t.o.v. klimaatsverandering en sosio-ekonomiese ontwikkeling sal lei nie, maar dat baie mense die reddende liefde van God sal leer ken, wat alle mense gemaak het om in ’n verhouding met Hom te leef.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 20/10/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here