Geskryf deur: FEBA Suid-Afrika
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Mosambiek het ’n bevolking van 33 miljoen mense en daar word geskat dat jongmense tussen 15 en 24 jaar oud ongeveer 20% van die land se bevolking verteenwoordig. Ondanks die ontwikkeling wat die land die afgelope paar jaar geniet het, kortwiek swak onderwys en armoede steeds jongmense se potensiaal – veral in landelike gebiede.

’n Swak ekonomie
Die armstes van die armes het min kans om uit die kringloop van armoede te kom en ekonomies by die arbeidsmark geïntegreer te word. Dit is ook ’n hartseer werklikheid dat jongmense uit agtergeblewe gemeenskappe hulle skoolopleiding laat begin en soms ophou skoolgaan as gevolg van ’n gebrek aan finansies. Hoe laer die onderwys-vlak van jongmense is, hoe meer kom hulle sosio-ekonomiese toekoms in die gedrang. Jongmense moet talle uitdagings die hoof bied, onder meer die harde werklikheid om formele en behoorlike werk te kry. Die pandemie het sake vir hulle vererger. Die ekonomiese geleent-hede in Mosambiek sien op die oomblik sleg daarna uit en die uitdagings is oorweldigend. Radio FOT (Fountain of Life) poog om deur sy uitsendings ’n verskil te help maak. Radio FOT word bestuur onder toesig van Bright Sonjera, die direkteur van ses radiostasies en vyftig satellietuitsaaisentrums wat in Mosambiek gevestig is. Radio FOT saai ’n uiteenlopende reeks programme in Chi-Yao, Chi-Chewa en Portugees uit.

Dr. Jurie Vermeulen en Bright Sonjera

Die jeug saai uit vir die jeug
Een van die stasie se suksesverhale is ’n jeugprogram wat deur jongmense tussen die ouderdomme van tien tot sestien jaar aangebied word. Dié briljante idee om die jeug toe te rus om vir die jeug uit te saai, het tot talle suksesverhale gelei omdat die jong luisteraars hulle met die programme kan vereenselwig en voel dat die omroepers hulle uitdagings verstaan.

Die jeugprogram word gepas die My Future-programme genoem en fokus op die ontwikkeling van jongmense deur hulle ’n voorsprong te gee met die opvoedkundige programme. Kwessies soos dwelmverslawing en tienerswangerskappe word ook openhartig bespreek sodat jongmense by mekaar kan leer en deur mekaar se suksesverhale geïnspireer kan word. Hulle deel ook Bybelverhale met die jeug.

Een van die jong uitsaaiers wat deel is van die jeugprogram

FEBA se teikengehoor
Soos baie ander Afrika-lande, is die kultureel diverse Mosambiek ’n skilderagtige land ryk aan natuurlike hulpbronne en het dit ’n tropiese klimaat. Die land se onstuimige geskiedenis van burgeroorloë het dit egter onmoontlik gemaak vir sy bevolking om die land se natuurlike voordele te benut.
Ongelukkig het die land nog nie ’n stabiele en gediversifiseerde ekonomie ontwikkel nie en lewe ongeveer 70% van die totale bevolking in uiterste armoede. Ongeveer twee derdes van die mense woon en werk in landelike gebiede. Hierdie mins bereikte gemeenskappe is FEBA se teikengehore.

Die verspreiding van die Evangelie
FEBA se span uitsaaiers doen betekenisvolle werk om die Evangelie deur radio en regstreekse uitsendings te versprei. Hulle verskaf leiding aan die luisteraars en bied hulle die hulp wat hulle nodig het om in hulle geloof te groei. Al het die pandemie die span se werk beïnvloed, het hulle steeds voortgegaan om na plaaslike gemeenskappe uit te reik, luisteraars te besoek en hulp te verleen.

Predikante en personeel van Radio FOT by die inhuldiging

Bereik die wat verlore is
Radio FOT in Lichinga stuur gereeld tien omroepers op ’n slag uit na tien verskillende afgeleë dorpies of dorpe. Die span deel ook radio’s, oudio-Bybels, kos en ander benodigdhede uit soos benodig en moet dikwels deur ruwe terrein reis om die meer afgeleë dorpies te bereik.

Wanneer hulle die dorpies besoek, deel die spanne inligting met die bevolking wat verband hou met die radioprogramme. Waar moontlik wys hulle die plaaslike inwoners regstreekse uitsendings op Facebook. Internetdata is relatief bekostigbaar in Mosambiek en is dus ’n uitstekende alternatief vir FEBA se bediening om te gebruik in die verspreiding van die Evangelie.

Jy kan Mosambiek help ondersteun
Die FEBA Mosambiek-span het onlangs die langverwagte FEBC International Leadership Academy in Addis Abeba, Ethiopië, bygewoon. Die fokus was om die personeel en leierskap van radiostasies wêreldwyd toe te rus om enige struikelblokke te oorkom, die FEBA- en FEBC-bediening te laat groei, en hoe om ’n groter en meer permanente uitwerking op hulle luisteraars se lewens te hê.

FEBA Suid-Afrika is die ondersteuningskantoor wat help om die wonderlike werk wat FEBA se Mosambiek-span doen, te finansier. Ons waardeer elke skenking wat aan die bediening gemaak word. Dit stel ons in staat om daagliks duisende lewens te verander.

Luisteraargetuienis
“Ek het in 2016 by die luisteraarsklub aangesluit nadat ek ’n radio- en oudio-Bybel ontvang het. Op daardie tydstip het ek baie slegte besluite in my lewe geneem. Ek het “medisyne” gemaak wat bedoel was om mense skade aan te doen en dood te maak. Toe ek die radio ontvang, is ek aangesê om elke dag daarna te luister. Hoe meer ek geluister het, hoe meer het ek bewus geword van hoe wreed my dade was. Ek het uiteindelik opgehou om medisyne te maak wat ander skade berokken. Sedert ek na Radio FOT begin luister het, het my lewe werklik verander. Danksy die radio en oudio-Bybel is ek nie meer die mens wat ek was nie. Ek dank Radio FOT wat my gehelp het om so baie ander mense se lewens ook te verander. – Amos Cossa*, Lichinga, Mosambiek

Vat hande met FEBA
As jy gelei voel om kragte saam te span met FEBA, nooi ons jou om kontak te maak met die organisasie. Besoek gerus hulle webtuiste by febaradio.co.za of skakel 012 335 5708

*Naam verander weens veiligheidsredes

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 20/03/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here