Van antieke ballingskap tot moderne terugkeer
Geskryf deur: ICEJ South Africa (International Christian Embassy Jerusalem)
Op 23 November 2025 het die regering van Israel ’n besluit geneem wat die lewens van meer as 5 000 mense in die afgeleë heuwels van Noordoos-Indië vir altyd sal verander. In ’n historiese stemming het eerste minister Benjamin Netanyahu se kabinet ’n vyfjaarplan goedgekeur om die Aliyah van die Bnei Menashe-gemeenskap te voltooi. Hulle is afstammelinge van die antieke Israelitiese stam van Manasse wat hul Joodse identiteit vir meer as 2 700 jaar in ballingskap behou het.
Die borg van Aliyah
Die International Christian Embassy Jerusalem (ICEJ) borg sedert 2012 Aliyah-vlugte vir byna die helfte van alle Bnei Menashe-immigrante en hierdie onlangse aankondiging verteenwoordig die vervulling van dekades se gebed, voorspraak en praktiese ondersteuning. Dit is ook ’n kragtige herinnering dat God se belofte, “Ek bring jou kinders van die ooste af” (Jes 43:5), steeds in ons generasie ontvou.
’n Gemeenskap se lang reis
Die Bnei Menashe se storie klink soos ’n Bybelse verhaal. Hul mondelinge oorleweringe spoor hul voorouers terug na die Assiriese ballingskap van 722 v.C., toe die noordelike stamme van Israel oor die antieke Nabye Ooste verstrooi is. Oor eeue heen het hulle ooswaarts langs die Syroete getrek en hulself eers in China by die Kaifeng- Joodse gemeenskap gevestig voordat hulle Indië bereik het. Hulle het hulself uiteindelik gevestig in die huidige noordoostelike deelstate Manipur en Mizoram.
Afstammelinge van Israel
Ten spyte van isolasie en omswerwinge het hulle merkwaardige Joodse gebruike behou: ’n rusdag soortgelyk aan die Sabbat, onthouding van varkvleis, rituele offers en ’n jaarlikse fees waar suurdeeg uit hul huise verwyder word. Die mees aangrypende gebruik is die “Sikpui Hla” ’n antieke lied wat vertel van ’n tog deur die see, vyande wat agtervolg en ’n vuurpilaar – besonderhede wat opvallend ooreenstem met dié in Eksodus. In 2005 het Israel se hoofrabbinaat die Bnei Menashe amptelik as afstammelinge van Israel erken. Sedertdien het ongeveer 4 000 reeds Aliyah gemaak met nog 5 800 wat in Indië wag om dit te doen.
Waarom dit saak maak
Die Bnei Menashe het hulself as waardige burgers van Israel bewys. Baie dien in die IDF, en sommige is met die president se Medalje van Uitnemendheid vereer. Hulle bring sterk ge-sinswaardes, ’n stewige werksetiek en diep lojaliteit teenoor die Joodse staat. Sedert 2023 is die Bnei Menashe wat nog in Manipur woon, vasgevang in ernstige etniese geweld tussen die Meitei- en Kuki-gemeenskappe. Ongeveer 1 000 lede is ontheem, en hul huise en sinagoges is vernietig. Baie woon nou in vlugtelingkampe en word volgens hul leiers deur “’n leë toekoms” in die gesig gestaar. Die regering se besluit verander hul wanhoop in hoop.
Jy kan help
Die ICEJ het in 2012 begin om die Bnei Menashe met hul Aliyah te ondersteun en het tot dusver 1 326 van die sowat 4 000 wat reeds in Israel aangekom het, geborg. Sedert sy stigting in 1980 het Christene deur die ICEJ meer as 193 000 Jode uit meer as 35 lande gehelp om Aliyah te maak.
2030-plan
Die Bnei Menashe het hulle hoofsaaklik in die Galilea- en Negev-streke gevestig en trotseer die tipiese immigrante-uitdagings van kulturele aanpassing en ekonomiese stabiliteit. Met die nuwe 2030-plan sal al die oorblywende gemeenskapslede in Indië uiteindelik die kans kry om by hul familie in die Joodse land aan te sluit. Dit voltooi ’n reis wat byna 3 000 jaar gelede begin het.
Neem hande met ICEJ
Dit is reddingsvlugte in reaksie op die onstabiele situasie in Manipur.
Die noordoostelike streek van Indië bly onstuimig en Israel beweeg vinnig om die Bnei Menashe na veiligheid te bring. Die totale koste vir visums, grondvervoer, voor-Aliyah-voorbereiding en vlugte word op sowat R20 000 per persoon beraam. Dit skep ’n geleentheid vir Christene om deel te neem aan hierdie profetiese terugkoms. ICEJ het hom daartoe verbind om 100 olim op die eerste vlug vroeg in 2026 te borg. Soos hierdie vyfjaarprojek begin, nooi ons u uit om saam met ons te staan om hierdie laaste “afstammelinge van die ooste” huis toe te bring na Israel.
Besoek icej.org.za/bless om ‘n verskil te maakvir die Bnei Menashe.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 11/01/2026
Fotos verskaf deur ICEJ
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








