Geskryf deur: Lisa Polson
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Unite180 is ’n dinamiese en florerende gemeenskap van gelowiges wat deur die loop van hulle 13 bestaansjare merkwaardige groei gesien het, in Suid-Afrika en ook wêreldwyd. Die dryfkrag agter hierdie in-vloedryke kerk in Pretoria is die passievolle pastoorspaar, David en Chanelle Grobler. In ’n eksklusiewe gesprek met JUIG! gesels die stigters en senior pastore van Unite180 oor hoe hulle mekaar ontmoet het, hoe hulle by die bediening betrokke geraak het, hoe hulle kerk deur die uitdagings van die COVID-19-pandemie gegroei het, en hulle unieke benadering tot jongmensbediening.

Die Grobler-gesin: David (45), Chanelle (40) en hulle vier kinders, Reco (16), Kayra (13), Kylee (12) en Kenzi (6).

Hoe alles begin het
Beide David en Chanelle is gebore en getoë in Pretoria. Hulle het in dieselfde buurt grootgeword en dieselfde laerskool en hoërskool bygewoon, maar dit was eers ná skool dat hulle mekaar werklik leer ken het. Toe 18-jarige Chanelle se ouers haar een Sondagaand kerk toe neem, het 23-jarige David haar uitgenooi vir ’n koffie na die diens saam met die jongmense. “Sy wou eers nie, want sy was te cool gewees,” terg David. Maar sonder dat Chanelle geweet het, het David dit reeds vooraf met haar ouers gereël, en hulle moedig haar toe aan om saam te gaan.

“Ek het nie op daardie stadium gedink ek wil haar date nie, ek wou haar net by die kerk ingeskakel kry.” Vandaar het die twee boesemvriende geword, en saam het hulle met alle mag en krag die Here gedien. Op die sterk fondament van vriendskap het hulle in die huwelik getree – en in Augustus vanjaar hulle 20ste huweliks-herdenking gevier!

Met ’n visie om die probleem van wydverspreide Bybel-ongeletterdheid aan te pak en ’n sterk geestelike grondslag te lê, het pastoor David ’n Bybelskool genaamd Unite180 uSchool of ministry gestig. Pastoor Chanelle hou toesig oor die Bybelskool en koördineer die uGroup-netwerk.

Dieselfde roeping, verskillende invalshoeke
David het op die ouderdom van 18 radikaal tot bekering gekom nadat hy ’n lewensveranderende ontmoeting met God gehad het. “Vandat ek tot bekering gekom het, het ek ’n verskriklike groot verwagting binne my gehad dat die Here iets groots met my lewe gaan doen. Ek het geweet daar is ’n roeping op my lewe. Maar ek was jonk en in my onkunde het ek nie noodwendig verstaan wat dit alles beteken het nie,” vertel David.

Toe sy hom ontmoet het, het Chanelle ook net geweet dat David vir die Here gaan werk. Vir haar is die begeerte om voltyds in die bediening te wees egter oor tyd aangewakker. “Ek het grootgeword in ’n huis waar ons die Here gedien het en elke Sondag in die kerk was,” sê sy. “My oupa was ook ’n pastoor en my pa was my lewe lank hoofouderling. So ek het daai wêreld geken, maar ek sal nie sê ek het gedink toe ek jonger was dat ek ’n pastoor wil word nie. Toe ek David ontmoet het en ons die Here saam begin dien, was dit ’n ding wat outomaties vir my gebeur het. Dit het net so uitgespeel.”

Saam in die bediening
Toe hulle trou en een word, het hulle individuele roepings saamgesmelt en hulle fokus was ten volle daarop gerig om by die kerk betrokke te wees en vir die Here te werk. Vandaar was dit nie vir enigeen van hulle slegs ’n vae idee dat dit is wat hulle met hulle lewens wou doen nie. Met een visie het hulle volstoom vir Jesus gehardloop. “Ek dink dis belangrik. Ek weet nie hoe effektiewe bediening gedoen word in ’n huwelik wat twee fokusse het nie,” merk David op.

’n Passie vir jongmense
Altyd omring deur groot groepe jongmense en met unieke insigte uit hulle persoonlike paadjies na die Here, het die Groblers vroeg in hulle wedloop agtergekom dat daar ’n bonatuurlike guns en gawe op hulle lewens is om met jongmense te werk. Alhoewel hy erge opposisie ervaar het in hierdie roeping in sy jonger jare, het David aangehou druk om met jongmense te werk, terwyl hy steeds binne sy kerk met totale dissipline gefunksioneer het. “Die kerk het nie regtig aan die begin gesien dat ek geroep is vir jongmensbediening nie. Ek dink dit was ook maar ’n toets om te kyk of my motiewe suiwer is.”

As jongmens was hy ook verlore, so hy het geweet hoe daai wêreld werk. Na sy radikale bekering kon hy raaksien dat jongmense op soek is na antwoorde, en dat daar niemand is wat regtig vir hulle antwoorde gee nie. “Ons het gesien wat die Here in ons lewe gedoen het en ons wou dit vir ander mense ook gee; ons wou vir hulle bied wat ons ontvang het,” voeg Chanelle by.

Unieke benadering tot jongmensbediening
Een van die kenmerke wat Unite180 anders maak, is hulle unieke benadering tot jongmensbediening. “Een van die grootste redes vir ons sukses wat jongmensbediening betref, is dat daar sekere aannames is wat ons nie gemaak het nie. Die algemene aannames wat gemaak word oor jongmense is vals,” sê David.
Hulle is wel uitgesproke oor die feit dat hulle nie sosiale aande of sportdae aanbied nie. “Ons het nog nooit volleyball of kolwyntjies of pool aangebied nie. Ons is nie hier om jongmense te vermaak nie. Ons probeer ook nie jongmense lok met dieselfde tools as waarmee die wêreld hulle lok nie. Dit werk nie. Wat ons die jongmense wil gee, is wat die wêreld hulle nie kan gee nie. Ons gee hulle die antwoord: Jesus. Jy kom na ons kerk toe om Jesus te kry – dis dit.”

“’n Kind soek ’n antwoord op die vrae: “Waarom is ek hier?”, “Waaroor gaan die lewe?” en “Wat moet ek doen?” Hy soek nie net ’n lekker kamp nie. En as jy nie vir hom Jesus kan gee op ’n outentieke manier nie, dan mors jy sy tyd en hy gaan regdeur jou sien. Hy soek deursigtigheid, hy wil weet jy gee nie voor nie. En hy gaan regdeur jou sien as jy vals is.”

Jongmense smag na waarheid en goeie voorbeelde
“Jongmense is nie onnosel nie,” sê David. “Ons weet ons was nie, so hoekom sal ons aanvaar dat ander is? Toe ek jonk was, het ek die volwassenes se nonsens gesien. Eers toe ek ’n ware volwasse Christen sien, kon ek sien hoe dit lyk om werklik ’n Christen te wees. Jy kan dit raaksien; dit maak ’n honger in jou wakker om te ervaar wat hy ervaar het met die Here. Dit gee jou ’n begeerte na God, en dis wat ons vir jongmense wil gee.”

“Ons water ook nie die Bybel af nie,” sê Chanelle, “ons bring die Woord soos wat dit is, op ’n hoë vlak. Ek dink baie keer sal mense met jongmense praat of hulle kinders is, asof hulle nie verstaan nie. Ons doen dit nie, ons bring die waarheid reguit.”

Hulle voel sterk daaroor dat jongmense goeie voorbeelde nodig het. “Hulle wil nie luister na wat jy sê nie, hulle wil doen wat jy doen. Hulle wil kyk vir jou, jou voorbeeld is belangrik,” sê Chanelle. En David beaam, “Paulus sê vir Timoteus: ‘Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.’ Met ander woorde: Kyk hoe ek dit doen en dan doen jy dieselfde. Ons leer uit die voorbeelde wat ons sien.”

Die belangrikheid van geplant wees
Die Groblers glo dat die kerk en Christen-gemeenskap van kritieke belang is in ’n jongmens se geestelike groei. “Eerstens moet jy Jesus in jou lewe hê. Dis die fondament waarop enige iets gebou word,” sê David. “Ek het onlangs iets gelees wat sê dat die beste metode vir spirituele formasie gesonde Christelike vriendskappe is. Hoe sterker jou Christen-gemeenskap is waarin jy ingeweef is, hoe sterker is jou geestelike groei. Jongmense kort ’n gemeenskap waar Christen-waardes onbeskaamd uitgeleef word soos ons in die Bybel leer.” Chanelle gebruik die voorbeeld van ’n potplant om hierdie punt te illustreer. “’n Potplant kan rond geskuif word, maar hy kan ook net só groot word. Jy kan nie groei as jy nie geplant is nie.”

Unite180 se eksponensiële groei gedurende COVID
In ’n tydperk waarin baie kerke drastiese afnames in bywoning gesien het, het Unite180 die teenoorgestelde ervaar. “COVID was ’n skudding en alles wat nie solied gebou was en sterk strukture gehad het nie, het inmekaargesak.”

Met ’n verenigde visie en missie was Unite180 se fondament sterk. Hulle beskou nie hulle kerkwees as gebonde aan ’n gebou nie, so toe die pandemie Suid-Afrika tref het hulle al hulle selgroepe (of uGroups, soos hulle dit noem) aanlyn gemaak. Hulle het vir jongmense wat alleen by hulle huise gesit het, wat eensaam en verveeld was, ’n manier gegee om samesyn te kon ervaar. En hulle het konteks uit die Woord verskaf vir hierdie nuwe realiteit. Om hulle ervarings deur die lens van die Woord in hulle uGroups te kon bespreek, het jongmense geestelik versterk.

Unite180 het in grootte verdubbel uit COVID uit. Hulle kon regdeur COVID elke maand al hul personeel en uitgawes betaal, en direk na COVID was hulle, deur die genade van die Here, in staat om hulle eie kerkgebou te begin bou, sonder om enige skuld aan te gaan.

Aktiewe dissipelskap en ’n duidelike struktuur
Die uGroups is die kern van die kerk. Dit maak jongmense betrokke by die werk van die Here, “want die hele liggaam is geroep om aktief te wees, nie net die pastoor nie,” merk David op. “Wanneer jy geleenthede skep vir jongmense om betrokke te wees dan gaan hulle betrokke wees, hulle gaan groei en leer en dit geniet en ek dink dis wat ons reggekry het. Elke persoon in die kerk het ’n verantwoordelikheid.”

Elke lidmaat in die kerk weet presies wie sy selleier, arealeier en senior leier is. En hulle het vrylik toegang om na hulle leiers uit te reik. “Al is ons tien duisend mense, gaan jy nie siek wees in die hospitaal sonder dat iemand jou gaan besoek nie.”

Dan word jongmense in Unite180 ook geleentheid gegee om uGroup-leiers te word. Die Groblers glo dat die kerk nie bang moet wees om vir jongmense gesag te gee nie, en dat dit ’n groot manier is hoe hulle geestelik groei. “Ons vertrou jongmense om op 17 of 18 hul loopbaan te kies terwyl hulle nog geen ervaring het nie, maar ons kan hulle nie vertrou om vir iemand te bid nie? Dis net nog een van daai aannames wat nie sin maak nie.”

Só groei die kerk en die koningkryk, een vir een
In gebed oor die toekoms van hierdie groeiende kerk, het die Here vir David en Chanelle gesê hulle moet net aanhou doen wat hulle doen. Een vir een, dit is hulle mandaat. “Elke persoon is vir ons belangrik en ons hanteer elke persoon as belangrik vir die Here. Elke persoon word na gekyk, een vir een. Ons gaan aanhou om dit doen.” Die woord EEN omvat Unite180 se kultuur. ’n Fokus op die individu lei tot geestelik gesonde individue wat saamkom as een verenigde liggaam met ’n verenigde doel. David moedig die kerk aan om saam te staan. “Ons moet ophou om die vyand mis te identifiseer. Die kerk moet ophou verdeeld wees teen homself en sy eie broers op die veld doodskiet. Ons vyand is die vyand. Die kerk is te gefokus daarop om fout te vind binne homself, die Here sê ons moet mekaar aanmoedig in liefde, nie mekaar oordeel en kritiseer nie.”

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 24/10/2024
Foto’s verskaf

VRYWARING

JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here