Artikelbron: jubileecampaign.online

Jubilee Campaign het ’n Christen-meisie, Hoorab, uit die kloue van haar ontvoerder gered. Die prys
vir haar vryheid was egter hoog aangesien haar pa in die proses wreed vermoor is.

Haar pa, Basharat Masih, was ‘n moedige man wat tot die bitter einde geveg het vir sy dogter se
vryheid. Hoorab is al lank sonder haar ma, en nou met haar pa weg, bly sy, saam met haar broer en
twee susters, alleen agter. Tans word die vier kinders versorg in ’n veilige hawe wat deur Jubilee
Campaign verskaf word. Benewens die hantering van die ontvoeringsaak, het die organisasie se
prokureurs regstappe teen Hoorab se pa se moordenaar begin.

Hoorab is laat in 2022 deur ’n 29-jarige man, Usman, ontvoer. Hy het in ’n winkel gewerk waar sy
gereeld inkopies gedoen het. Onder erge sielkundige druk en fisieke mishandeling deur Usman is die
12-jarige meisie gedwing om haar ná haar ontvoering tot Islam te bekeer. Volgens Sharia-wetgewing
kon Usman met die jong meisie “trou”. Nadat die “huwelik” voltrek is, is Hoorab as slaaf in die
huishouding aan daaglikse verkragting, aanranding en dwangarbeid onderwerp.

Toe Hoorab se pa ontdek dat sy dogter vermis is, is hy dadelik na die polisiestasie en het die polisie
die ontvoerde meisie teruggekry en in ’n veilige hawe vir meisies geplaas. Usman het egter nie
maklik opgegee nie. Hy het Hoorab gedreig en gesê hy sal haar familie doodmaak as sy die polisie
vertel dat sy teen haar wil ontvoer en in die huwelik gedwing is.

By die polisiestasie het Usman ‘n dokument voorgelê wat verklaar dat Hoorab 18 jaar oud was en dat
die huwelik wettig was. Soos dikwels in Pakistan gebeur, het die polisie die verklarings en
dokumente van die Moslem-man as geldig beskou, terwyl hulle die verklarings en dokumente wat
Hoorab se Christen-vader verskaf het oor haar ouderdom heeltemal verontagsaam het.
Toe die polisie besluit om Hoorab aan haar “man” terug te gee, was haar pa desperaat. Volgens
Pakistanse wetgewing is ‘n 12-jarige meisie te jonk om getroud te wees, dus het Basharat geweet hy
is reg. Maar wat kan ‘n mens doen wanneer die regering self weier om nasionale wette te handhaaf
en eerder Islamitiese godsdienswette toepas?

Toe Jubilee Campaign se prokureurs by die saak betrokke raak, het die polisie koue voete gekry en
die jong meisie – ná ongeveer drie maande van aanhouding in die ontvoerder se huis, waartydens sy
onuitspreeklike gruwels gely het – teruggeneem na die skuiling en is Usman gearresteer.
Ná Hoorab se vrylating het haar pa, familie, asook vriende en kennisse ernstige doodsdreigemente
ontvang. Hoorab se pa op 24 April in die dorp aangeval en doodgesteek. Basharat Masih laat drie
dogters en ‘n seun as weeskinders agter.

Jubilee Campaign is vasbeslote om die stryd vir geregtigheid voort te sit. Die hoop is dat Hoorab
weer ‘n kans gegun sal word om haar storie aan die polisie en die hof te vertel. Die ongeregtigheid
wat steeds teen jong Christen-meisies in Pakistan gepleeg word, kan net plaasvind solank die euwel
in die geheim gehou word en ongestraf bly.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 08/06/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit pixabay.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here