Deur Geopende Deure SA
Artikelbron: Artikel verskaf

Beplan jy of weet jy van iemand wat vanjaar die Two Oceans-marathon in Kaapstad of die Comrades-marathon tussen Durban en Pietermaritzburg gaan aandurf? Gryp nou die kans aan om die vervolgde Kerk te ondersteun deur aan Geopende Deure se Challenge 1000-projek deel te neem.

Doen dit vir hulle!
Die Challenge 1000-projek is daarop gemik om Christene wat weens hulle geloof in Jesus vervolg word, te ondersteun. Die slagspreuk, “Hardloop vir hulle lewens!”, dui daarop dat deelnemende atlete kan hardloop om die lewens van hul vervolgde broers en susters regoor die wêreld te red en te verbeter.

 ʼn Uitdaging duisend vir die vervolgde Kerk
Atlete wat vir die Two Oceans- of Comrades-marathon ingeskryf is, en ʼn verskil wil maak terwyl hulle deelneem, word aangemoedig om deel te word van dié projek en die wedlope ter wille van vervolgde Christene te doen. Elke tree wat hulle gee, sal bewusmaking skep oor die situasie van vervolgde gelowiges regoor die wêreld.

Die Two Oceans-marathon, wat op 13-14 April plaasvind, is ʼn 56 km lange ultramarathon en 21 km lange halfmarathon wat jaarliks in die Kaapse Skiereiland plaasvind. Dit is bekend as “die wêreld se mooiste marathon” weens die uitsonderlike natuurskoon waarmee atlete op die roete vanaf Nuweland tot by Muizenberg, Vishoek, Chapmanspiek en Constantianek getrakteer word.

Die Comrades-marathon in KwaZulu-Natal, wat op 9 Junie plaasvind, is die grootste hoogtepunt op langafstandatlete se kalender. Dit is die wêreld se oudste en grootste ultramarathon, wat jaarliks oor ʼn afstand van 89km gehardloop word. Die rigting van die wedloop word elke jaar gewissel tussen die op-wedloop vanaf Durban en die af-wedloop vanaf Pietermaritzburg.

Bevorder God se Koninkryk deur sport
Deur deel te word van die Challenge 1000, word atlete uitgedaag om R1 000 in te samel vir vervolgde gelowiges, wat in die gevaarlikste plekke regoor die wêreld vir Jesus leef. Hierdie ondersteuning sal gelowiges versterk om aan te hou om die wedloop wat vir húlle voorlê, te hardloop. So kan jy help om God se Koninkryk op dié manier te bevorder.

Challenge 1000 vorm deel van Biblegivers 4THEM, die sportbeen van Geopende Deure Suider-Afrika. Hierdeur word sport gebruik om fondse en ondersteuning in te win vir Geopende Deure se projekte in lande met Christen-vervolging. Sportmanne en -vroue wat as atlete by Geopende Deure se sportsbeen registreer, raak deur hul liefde vir sport by Geopende Deure se projekte in geslote lande betrokke.


Diegene wat aan Geopende Deure se Challenge 1000-projek deelneem, kan help om meer as 365 miljoen vervolgde Christene in meer as 70 lande te ondersteun.

Raak betrokke by die vervolgde Kerk
Thys Visser, die organiseerder van die Biblegivers 4THEM-sportbeen en die Challenge 1000-projek, doen ʼn beroep op atlete om deel van die projek te word. Challenge 1000 is een van talle uitdagings wat binne Geopende Deure se sportsbeen aangepak kan word.

“Challenge 1000 is ʼn uitdaging aan sportmanne en -vroue waarmee hulle gevra word om R1 000 in te samel vir die vervolgde Kerk en die projekte wat ons in geslote lande het. Ons nooi jou uit om op hierdie manier by die vervolgde Kerk betrokke te raak,” sê hy.

Volgens Thys is daar ook talle ander innoverende maniere waarop atlete betrokke kan raak. “Nooi jou familie, vriende en gemeente uit om jou met die uitdaging te ondersteun en ʼn bydrae te lewer sodat jy jou mikpunt kan bereik om R1 000 in te samel. Jy kan selfs die R1 000 opbreek in verskeie kleiner bydraes, byvoorbeeld 10 mense wat elkeen R100 gee of 20 mense wat elkeen R50 gee,” sê hy.

Daar is deur die jaar talle ander maniere om by Geopende Deure se Biblegivers 4THEM-sportsbeen betrokke te raak: “Atlete kan aan verskillende byeenkomste, wedlope en wedrenne deelneem om fondse te genereer. Al wat ʼn atleet moet doen om deel hiervan te word, is om te registreer vir die spesifieke uitdaging of byeenkoms van hulle keuse, kontak met ons te maak en dit dan namens hul vervolgde familie te doen.

“Ons sien uit om baie nuwe atlete (van verskeie sportdissiplines) hierdie jaar by ons te verwelkom,” deel Thys.

Alle deelnemers sal ʼn Challenge 1000-geskenkpak vanaf Geopende Deure ontvang.

Besoek die webtuiste www.opendoors.org.za/challenge1000/ vir meer inligting en om vir die projek te registreer, of kontak Thys by athlete@opendoors.org.za.


Die plakkaat waarmee Challenge 1000 bekendgestel is.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 10/04/2024
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here