Geskryf deur: Die Bybel Genootskap van Suid-Afrika Artikelbron: Artikel verskaf 

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vier vanjaar die 90ste herdenking van die Afrikaanse Bybelvertaling met ’n spesiale dankfees by die Voortrekkermonument in Pretoria.

In 1933 kon Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners vir die eerste keer ’n volwaardige en volledige Bybel in Afrikaans in hul hand vashou. Die dankfees word in samewerking met die Voortrekkermonument en FAK op 27 Augustus 2023 gehou, dieselfde datum waarop die Afrikaanse Bybel amptelik bekendgestel is asook die dag wanneer die Bybelgenootskap sy 203de verjaarsdag vier.

Die vol feesprogram sluit onder meer Bybelvoorlesings; ’n boodskap deur die uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap, ds. Rodney van Wyk; optredes deur ’n koor en blaasorkes, sangers; asook die onthulling van ’n Saaier-gedenkbeeld in.

“Vanjaar kan ons met dankbaarheid terugkyk op die enorme invloed wat die Afrikaanse Bybel op miljoene mense se geloofsvorming gehad het asook die onskatbare bydrae wat dit tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal gelewer het. Ons is vol vertroue dat die Afrikaanse Bybel sal voortgaan om ’n opbouende en blywende impak op toekomstige geslagte te hê en dat dit ’n belangrike rol sal speel in die vooruitgang van ons land,” het dr. Gerhard Lindeque van die Bybelgenootskap se Noordelik streek en een van die organiseerders gesê.

“Hierdie dankfees vorm ook deel van die aanloop tot die eeufeesvieringe van Afrikaans wat in 2025 in die Paarl sal plaasvind. Ons het reeds die manifes onderteken om daaraan deel te neem,” het dr. Lindeque bygevoeg.

Die buitelug dankfees word Sondag 27 Augustus 2023 om 15:00 by die Voortrekkermonument gehou. Die publiek is welkom en word versoek om hul kampstoele saam te bring.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 28/07/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here