Artikel geskryf deur René Roux
Artikel bron: Helpende Hand
Oorspronklik gepubliseer deur JUIG! Tydskrif Julie 2026
Mia Muis soos haar mamma haar noem, het haar boeke elke oggend versigtig in ’n dun plastieksakkie gesit. Sy het geweet sy moet stadig loop skool toe want as die sakkie skeur val alles uit. Party dae het dit gebeur, dan moes sy haar werk uit die stof optel, haar hande afvee en maak of dit haar nie pla nie. Sy het nie altyd haar huiswerk klaar gekry nie, nie omdat sy nie wou nie, maar omdat sy saans honger gaan slaap het. ’n Mens dink nie maklik helder wanneer jou magie leeg is nie.
Kinders wat agterbly
By haar skool was daar ander ouer dogters wat meer as vyftig dae ’n jaar skool mis omdat hulle nie die nodige sanitêre ware het nie. Daar was kinders wat nooit behoorlike kos kry nie, wie se liggame en breine nooit die kans kry om regtig te ontwikkel nie. Daar was kinders wat nooit geleer word hoe om self iets te bou, te plant of te groei nie. Buite die skool se mure was daar ander stories.
Stories van eensaamheid
’n Vrou wat haar borste verloor het as gevolg van borskanker en daarmee saam haar selfvertroue. Sy het opgehou om tussen mense te beweeg, want sy het gevoel sy pas nie meer in nie. ’n Bejaarde man wat elke dag by ’n venster sit en wag dat iemand hom kom groet, maar niemand doen dit nie. Persone met gestremdhede wat die wêreld van ’n afstand af dophou, omdat niemand die moeite doen om hulle regtig in te sluit nie.
Wanneer gemeenskappe swyg
Dit is die werklikheid van ’n gemeenskap sonder betrokkenheid. Sonder brûe wat gebou word na ’n beter toekoms; sonder ruimtes waar mense mekaar optel en saambou. Waar ’n gemeenskap egter saamstaan vir werksyn en welstand, lyk dit anders. Gesinne begin weer hoop vind.
’n Toekoms met waardigheid
Dit lyk soos ’n kind wat nie meer haar boeke in ’n plastieksakkie hoef te dra nie, maar met waardigheid en selfvertroue skool toe stap met ’n tas wat vir haar sê sy maak saak. Dit lyk soos kinders wat nie meer honger in die klas sit nie, maar gevoed en gereed is om te leer en te groei. Dit lyk soos dogters wat nie meer dae en weke skool mis nie, maar elke dag die geleentheid het om hul potensiaal te ontwikkel.
Werksyn in aksie
’n Beter gemeenskap lyk soos mense wat nie net ontvang nie, maar begin deelneem. Dit is waar werksyn sigbaar word. Binne Solidariteit Helpende Hand se unieke waarde-aanbod vorm projekte die ruimte waar werksyn elke dag prakties uitgeleef word. Projekte is nie bloot programme nie, maar ruimtes waar gemeenskapslede saam bou aan ’n beter toekoms.
In 2025 het die gemeenskap met ons hande gevat om die volgende projekte te bou:
- Die Skooltassie-projek het 2 000 skooltassies aan graad 1-
leerders oorhandig. - Die Kosblikkie-projek het 8 500 kinders in 103 skole elke dag van kos voorsien.
- Die Boesemvriendinne-projek het 4 507 gebreide borsprostese geskenk aan vroue wat nie borsrekonstruksie kan bekostig nie.
- Die Help Hetta-projek het 3 600 meisies van sanitêre ware voorsien.
- Die Bemagtig ’n Kind-projek het 84 kinders gehelp om ’n bruggie te bou na ’n beter toekoms.
- Die HelpJag-projek het 24 ton wildsvleis ingesamel en onder verskeie organisasies landswyd uitgedeel.
Hierdie is net ’n paar van die projekte wat daagliks by Solidariteit Helpende Hand aangepak word. Sonder ons vrywilligers en streekspersoneel sou hierdie werk nie moontlik wees nie.
Geskape vir goeie werke
Binne Solidariteit Helpende Hand se projekte word werksyn prakties sigbaar. Dit is nie bloot programme waar hulp verleen word nie, maar platforms waar mense saamkom, betrokke raak en begin bou. Die Bybel verwoord hierdie waarheid treffend in Efesiërs 2:10: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
Brûe tussen mense
Solidariteit Helpende Hand se projekte skep die ruimte waar mense hierdie goeie werke kan uitleef. Die mooiste deel van hierdie waarde-aanbod vir my is dat projekte mense bymekaarbring. Dit bou brûe tussen verskillende wêrelde. Dit herinner ons dat werksyn ook daaroor gaan om te behoort.
Dit word ook duidelik sigbaar in die span wat ons projekte op hoofkantoor dryf. Wanneer mens kyk na Marogole Riekert en haar span, sien jy werksyn in lewende lywe. Meer as 15 jaar gelede het Marogole in Finesse oor die Skooltassie-projek gelees. Tussen die blaaie van die tydskrif is sy geroep vir iets groter. Vandag lees sy nie net oor die stories nie, sy en haar span skep dit. Met ywer en liefde vir mense word hierdie projekte daagliks bestuur. Dit wys wat gebeur wanneer roeping en diensbaarheid saamkom.
Van hoop tot behoort
Die hart van Solidariteit Helpende Hand se projekte is werksyn in aksie. Van ’n plastieksakkie tot ’n tas vol hoop. Van ’n leë maag tot ’n kind wat kan droom. Van eensaamheid tot behoort. Van gebrokenheid tot waardigheid wat herstel word. Dit is wat gebeur wanneer ’n gemeenskap besluit om nie net te kyk nie, maar betrokke te raak.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto oorspronklik gepubliseer in die JUIG! Tydskrif van Julie 2026
Datum gepubliseer: 23/06/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








