– deur Hannes Noëth
Solidariteit Helpende Hand

Die moontlike skerp styging in brandstofpryse in April as gevolg van spanning in die Midde-Ooste kan verreikende maatskaplike implikasies vir Suid-Afrikaanse huishoudings hê.

Ontledings deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) dui daarop dat Suid-Afrikaners reeds volgende maand ‘n brandstofverhoging van tussen R2 en R3,60 per liter vir petrol kan verwag, terwyl dieselpryse selfs skerper kan styg. Hierdie styging sal na verwagting ‘n wesenlike impak op lewenskoste hê.

Solidariteit Helpende Hand waarsku dat die werklike impak veel verder as die petrolpomp strek. Hoër brandstofkoste werk soos ‘n stil domino-effek deur die ekonomie en raak uiteindelik die kwesbaarste gemeenskappe die ergste.

“Wanneer brandstofpryse styg, raak dit nie net vervoer nie, maar kospryse, dienslewering en basiese lewenskoste. Dit plaas enorme druk op huishoudings wat reeds op die rand van finansiële oorlewing funksioneer,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Volgens Noëth sien organisasies soos Helpende Hand dikwels die eerste tekens van hierdie druk in hul gemeenskappe.

“Ons sien dit in meer gesinne wat hulp benodig, meer kinders wat sonder kos skool toe gaan en ouers wat moet kies tussen brandstof, kos en skooluitgawes. ‘n Brandstofverhoging is dus nie net ‘n ekonomiese saak nie, maar ‘n diep menslike en maatskaplike werklikheid.”

Hy voeg by dat selfs middelklasgesinne toenemend kwesbaar raak namate koste aanhou styg.

Noëth beklemtoon egter dat daar ten spyte van die onsekerheid steeds rede tot hoop is.

“Ons is al deur die Covid-19-pandemie en ander groot uitdagings, en ons kan ook hierdie situasie hanteer. Daar is onsekerheid, maar ons moenie toelaat dat dit ons hoop steel nie. Solank gemeenskappe saamwerk en mekaar help, kan dit goed gaan.”

Hy moedig Suid-Afrikaners aan om gefokus en prakties te bly in tye van druk.

“Moenie paniekerig en hooploos raak nie. As jy moet voorberei, berei voor. Maar moenie probeer om dinge te verander waaroor jy geen beheer het nie. Fokus eerder op dit wat jy wél kan doen. Dit is juis vanuit daardie plek van krag en strukture wat ons mekaar kan help.”

Solidariteit Helpende Hand doen ‘n beroep op gemeenskappe om mekaar in hierdie tyd te ondersteun en om proaktief te beplan.

“Ons glo diensbaarheid begin by die wil om te help. In tye van ekonomiese druk sien ons ook hoe gemeenskappe saamstaan en mekaar dra. Dit is juis nou die tyd om daardie kultuur van omgee en betrokkenheid te versterk,” sê Noëth.

Hoewel kenners meen dat die internasionale olieprys moontlik oor die langer termyn kan stabiliseer, bly die korttermynvooruitsig uitdagend vir baie Suid-Afrikaners.

Lees hier meer oor die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se bevindinge: https://surl.li/tnukgq


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Fotos verkry deur oorspronklike artikel
Datum gepubliseer: 23/03/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here