Artikelbron: www.opendoors.or.za
Die Jemenitiese mense het al soveel verduur sedert die burgeroorlog in 2014 uitgebreek het. Hongersnood, ontworteling, siektes wat uitbreek en ’n massiewe humanitêre krisis het alles ’n groot uitwerking op Jemeniete gehad. Soos almal in die Midde-Oosterse land, is Christene ook deur die gruwels van oorlog geraak. Vir hulle het die krisis ook gelei tot toenemende vervolging deur Islamitiese ekstremiste en voortdurende dreigemente weens hul geloof in Jesus. Hulle word selfs tronkstraf opgelê vir hulle geloof. Jemen is tans vyfde op die 2024-Wêreldwaarnemingslys, wat dit een van die wêreld se moeilikste plekke maak om ’n Christen te wees.
Daar was verlede jaar tydens vredesamesprekings hoop dat die geweld dalk sou bedaar en dat die chaos van die burgeroorlog dalk tot ’n einde sou kom. Onlangse gebeure het dit egter duidelik gemaak dat die onbestendigheid nie binnekort sal stop nie. Amerika en die Verenigde Koninkryk het onlangs teikens in Jemen gebombardeer in reaksie op onlangse aanvalle wat die Houthi’s (een van die strydende partye wat aanspraak maak op gesag oor Jemen) op skepe in die Rooi See uitgevoer het.
Aangesien die land alle of meeste internasionale nuuswebwerwe geblokkeer het, moet Jemeniete aanlyn soek (veral op YouTube of Facebook, wat nie geblokkeer is nie) om uit te vind oor gebeure wat hul eie land beïnvloed. Sommige Jemeniete weet nie eers hul land is in die nuus nie!
Geopende Deure se vennote in die streek het onlangs met gelowiges in Jemen gepraat om uit te vind hoe Christene in hierdie krisis vaar en hoe ons saam met hulle kan bid. Sommige gelowiges het genoeg dinge om oor bekommerd te wees waaroor hulle nie bewus is of bekommerd is oor die huidige aanvalle in die Rooi See nie. Maar ander word aansienlik beïnvloed.
“Mense is gespanne en leef in vrees weens die huidige situasie”, vertel een Christen-man. “Die bombardering was ook skrikwekkend. Die pryse van noodsaaklike goedere sal waarskynlik ook styg. Die situasie is moeilik.”
Twee Christene het ’n boodskap gestuur om jou te vertel hoe jy kan bid:
“Groete en vrede vir jou! Jemen gaan deur ’n moeilike situasie en ’n verstikkende krisis as gevolg van wat in die Rooi See gebeur. Die spanning in die streek het die lewe gevaarliker gemaak omdat dit die globale ekonomie in die algemeen raak. Dit lei tot verhoogde werkloosheid, inflasie en verlies aan valutawaarde.
In die huidige situasie voer die Kerk al sy werksaamhede in die geheim uit en is baie versigtig om sy gemeentes te beskerm. Van die uitdagings wat die Kerk vandag trotseer, is: die onbestendigheid in die land, die gebrek aan voorsiening in basiese behoeftes, die onvermoë om in die dorpe en stede rond te beweeg.
Bid vir vrede, bid vir die voorsiening van medisyne en kos, bid vir die behoeftes van die kerk en bid vir die huidige krisis in die land. Amen. Mag ons Here jou seën.”
Moeilike tyd vir gelowiges
Dit is ’n uiters moeilike tyd vir hierdie gelowiges wat hul geloof uitleef op ’n plek waar die daaglikse lewe vir baie jare gevaarlik is. Een gelowige verduidelik: “Christene word geraak as gevolg van die verhoogde veiligheid oor die hele land, veral in die hoofstad, of [ander] gebiede waar Houthi’s woon.
Maar dit is ook duidelik dat die Heilige Gees aanhou werk in Jemen en deur Sy mense daar. “Tydens hierdie voortdurende konflik, werk God meer as voorheen!” het ‘n ander Christen ons vennote vertel.
“Mense is soekend en ontvanklik vir die Woord van God in hierdie moeilike tye. Bid saam met ons dat God hierdie konflik sal gebruik om iets nuuts in Jemen te begin. Mag God nuwe deure oopmaak om ander te dien.”
Een broer deel ook: “Ek wil graag ons broers en susters oor die hele wêreld bedank dat hulle ons in hul gebede hou; dit is op die oomblik broodnodig.”
Bid saam met ons
Ons vennote het ons gevra om te bid. Hier is hoe jy saam met jou gesin in Jemen kan staan:
- Bid vir wysheid; bid dat Christene in Jemen hul krag in die Here sal vernuwe en met die Heilige Gees vervul sal word. Bid vir beskerming teen die bose.
- Bid dat God hierdie verhoogde druk sal verwyder. Een Christen het gesê: “Ons glo dat God met ons is, maar baie gesinne is op die oomblik bang en beangs.”
- Bid dat vrede en liefde sal seëvier en dat Jemeniete ’n normale lewe sal kan lei.
• Bid vir die ondergrondse Kerk in die land. Om Jesus te volg is ongelooflik gevaarlik in hierdie voortdurende konflik. Bid dat kerkleiers en die mense wat deur hulle bedien word, steeds die moed en krag sal hê om te volhard.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 01/03/2024
Foto slegs ter illustrasie: opendoors.org.za
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.