Geskryf deur: Katelin van Zyl
 Artikelbron: incontextinternational.org

Volgens die staatsnuusagentskap, Tass, het Rusland onlangs afgevaardigdes van die Taliban in die stad Kazan ontvang om bedreigings in die streek, sowel as maniere om ’n inklusiewe regering in Afganistan te skep, te bespreek.

Rusland het sy doelwit herhaal om Afganistan self, maar ook deur die Verenigde Nasies (VN) se Wêreld Voedselprogram (WFP) by te staan. Vroeër in September is China se nuwe ambassadeur in Afganistan deur die Taliban in Kaboel ontvang. Afgaanse amptenare beskou die feit dat China besluit het om ’n nuwe ambassadeur te benoem nadat Wang Yu se termyn voltooi is, in plaas daarvan om ’n ”harge d’affaire” aan te stel soos ander regerings na die beëindiging van hul ambassadeurs se termyne gedoen het, in ’n belangrike lig.

Sedert die oorname van die Taliban in Augustus 2021 het geen land nog die Taliban as die regmatige nuwe regering van Afganistan erken nie, hoewel hulle as die de facto beheerliggaam erken word. Hierdie feit het dit vir verskeie Afgaanse ambassades en konsulate baie ingewikkeld gemaak om hul aktiwiteite voort te sit, aangesien diplomate wat deur die vorige regering aangestel is weier om ambassadegeboue en eiendom aan verteenwoordigers van die Taliban oor te gee. Afganistan se ambassade in Indië het op 30 September aangekondig dat hulle aktiwiteite vanaf 1 Oktober sal staak. Terwyl die wêreld worstel oor die wyse hoe om teenoor die Taliban op te tree, kan die wêreldwye Kerk bid vir wysheid vir wêreldleiers en ook vir diegene wat in soveel onsekerheid deur die optrede van die Taliban in Afganistan gedompel is.

Die Weste se bevriesing van bates ten bedrae van biljoene dollars het ’n humanitêre krisis vererger wat deur dekades van onbestendigheid, droogte en natuurrampe in die land veroorsaak is. Die Taliban het gesukkel om die ekonomie op die been te kry en miljoene Afgane gaan onsekerheid tegemoet ten opsigte van toegang tot voedsel en gesondheidsdienste. Byna die helfte van Afganistan se bevolking het glo verlede jaar hulp van die WFP ontvang. ’n Kontak van INcontext rapporteer dat die veranderinge wat weens die verskillende regerings in Afganistan plaasvind, meer in die stedelike as in die landelike areas ervaar word. Die meeste nie-regeringsorganisasies en buitelandse werkers fokus op projekte in die stedelike gebiede, maar daar is ook groot behoefte in die landelike gebiede.

Daar was verslae van menseregteskendings deur die Taliban, insluitende onregmatige aanhoudings, onderdrukking van die media en beperkings op godsdiensaktiwiteite. Hoewel Afganistan sedert 2022 na die negende plek op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys gedaal het, waarborg hierdie daling nie dat die situasie vir Christene verbeter het nie. Dit weerspieël slegs die onsekerheid ten opsigte van die redes waarom mense vervolging in die gesig staar in die lig van die gespanne toestand in die land. Hoewel die oorname van die Taliban baie Christene verder ‘ondergronds’ gedwing het of selfs die land laat verlaat het, weet ons dat die Afgaanse kerk in stedelike sowel as landelike areas, maar ook onder die Afgaanse diaspora oorsee, gegroei het.

Een van die belangrikste areas van menseregteskendings ten opsigte waarvoor die Taliban veroordeel word, is die geleidelike instelling van ’n reeks toenemende streng wette vir vroue, gerond op die interpretasie van Islamitiese wetgewing. Sommige het die Taliban se beperking van vroue se vryheid as ’n “oorlog teen vroue” beskryf, terwyl die VN Vroue die VN versoek het om die sistematiese diskriminasie teen vroue en meisies in Afganistan as “geslagsapartheid” te verklaar.

Dogters word verbied om ná graad 6 verder skool te gaan, terwyl hoërskole en universiteite vir vroulike studente verbode is. Onlangs is ongeveer 100 vroue verbied om met studiebeurse na die Verenigde Arabiese Emirate te reis. Tydens onderhoude met vroue uit die groep het een dame haar hartseer uitgespreek oor die verlies van ’n groot geleentheid, wat hulle soos “alle ander geleenthede” ontneem is. Skoonheidsalonne is gesluit en vroue word verbied om feitlik enige poste te beklee, selfs dié in hulpagentskappe waar hulle hulp dringend benodig word. In Augustus het die ministerie vir die bevordering van deugde en die voorkoming van ondeugde vroue ook verbied om die gewilde Band-e-Amir Nasionale Park binne te gaan en as rede aangevoer dat vroue nie die hoofbedekking korrek dra nie.

Hierdie beperkings is ’n belangrike oorsaak daarvan dat die Taliban-administrasie nie formeel deur ander lande en die VN erken word nie. Ondanks dié beperkings het ons kontak gerapporteer dat die organisasies wat steeds in die land werksaam is, vordering gemaak het met die opheffing van landelike vroue deur middel van strategiese opleidingprogramme. Daarbenewens het vele mans en vroue wat in stedelike gebiede opgelei is, toenemend leierskapsrolle begin beklee om hul mense op te lei. Terwyl sommige groter organisasies dus hul aktiwiteite in Afganistan opgeskort het (veral nadat vroulike personeel verhinder is om te werk) is kleiner organisasies in staat om op meer strategiese wyses as tevore op vroue te fokus – terwyl mans nie uitgesluit word nie.

Die wêreldwye Kerk kan bid dat die werk van hierdie organisasies vrugbaar sal wees en dat Afgaanse vroue die liefde van Christus en die innerlike hoop en vryheid wat Hy bied, sal ervaar. Hy kan hulle in hul donkerste uur ontmoet en hulle kan Sy teenwoordigheid in hul tuistes ervaar, waar hy dit wat sommige as ’n ‘tronk’ beskryf, in ’n plek van goddelike vrede en vreugde kan omskep.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat die harte van Taliban-lede sal versag teenoor vroue, Christene en ander groepe wat ’n ander geloof as hulle beoefen;

  • dat die wêreldwye en plaaslike Kerk in behoeftes van diegene wat weens die humanitêre krisis ly, sal kan voorsien en dat hulle deur met die liefde van Christus te dien, veral vroue sal kan ophef; en

  • vir beskerming, voorsiening, wysheid en leiding van en vir gelowiges in die land, sowel as vir buitelandse Christelike werkers, terwyl hulle volhard om onder moeilike omstandighede te dien.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 05/10/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here