Geskryf deur: Alex Pollock www.incontextinternational.org Artikelbron:
Meer as een derde van Afrika-lande, waarvan baie deurlopende veiligheids- en ekonomiese krisisse in die gesig staar, is geskeduleer om hoëvlakverkiesings in 2023 en 2024 te hou. Verkiesings het plaasgevind/sal plaasvind in sommige van die vasteland se mees invloedryke lande, insluitend Nigerië (25 Februarie 2023) en Suid-Afrika (2024), asook van sy mees gebroke nasies soos Suid-Soedan (laat 2024) en Libië (voorgestel, maar nog nie geskeduleer nie).
As Afrika se jongste land het Suid-Soedan gesukkel om ’n bestendige regering te vestig. As die voorgestelde verkiesings egter volgende jaar soos beplan plaasvind, is daar ’n kans vir vrede en groter bestendigheid. Soos in die meeste lande met interne konflik, kan die moontlikheid van nuwe leierskap ’n gevoel van hoop vir die algemene bevolking bring. Ondanks beperkinge op dit wat leiers kan bereik, kan mense, veral gelowiges, vashou aan die hoop dat die Here leiers vir sekere seisoene vestig en dat Hy sy wil kan bereik deur selfs die mees oënskynlik onwaarskynlike individue.
Die voorgestelde verkiesing in Suid-Soedan het ook reperkussies vir diegene wat tydens die burgerlike konflik na buurlande gevlug het. Baie ontheemde Suid-Soedanese wag om te sien of die verkiesing vrede in hul land bring voordat hulle besluit of hulle moet terugkeer, al dan nie.
Veelvlakkige konflik in Afrika-lande, soos Libië, lei dikwels daartoe dat een land se verkiesing die veiligheid van ander beïnvloed. Die uitgerekte konflik in Libië het ongetwyfeld ’n verreikende uitwerking gehad op Noord-Afrika se veiligheid, sowel as dié van Europese lande wat die migrasiekrisis betref.
Hoe belangrik wyse en etiese leierskap is, kan nie oorbeklemtoon word nie en Libië dien as ’n voorbeeld van watter uitwerking verdeeldheid en onenigheid binne regerings op ’n land se bevolking kan hê.
Terwyl Libië en die internasionale gemeenskap werk aan die vestiging van ’n regverdige verkiesingsproses, kan die Kerk aanhou bid dat die maghebbers deur die Heilige Gees gelei sal word. Terwyl Christene in hierdie lande met komende verkiesings sukkel om standvastig te bly in hul wandel met die Here, kan die Kerk wêreldwyd saam met hulle staan in gebed en hulle aanmoedig in tye van onsekerheid. Vir Christene in Moslem-meerderheidslande, soos Libië, is dit selfs belangriker terwyl hulle streef om hul Christelike getuienis uit te leef.
Deur elke verkiesingsproses, ongeag die uitslag, moet die Kerk onthou om ernstig te bid vir diegene in gesag, dat die verkose leiers wysheid sal soek, dat hulle met barmhartigheid sal regeer en dat die wil van die Here deur hulle volbring sal word. So wisselvallig as wat verkiesings soms kan wees, skep dit geleenthede vir Christene om as vredemakers op te tree, deur Christelike eenheid te demonstreer en die liefde van Christus te toon wat dissipels van ongelowiges onderskei: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” – Johannes 13:35.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid vir regverdige en veilige verkiesingsiklusse vir elke land wat verkiesings geskeduleer het, vanjaar en volgende jaar;
- vir verkose regeringsamptenare om wysheid en onderskeidingsvermoë te soek terwyl hulle hul nasies lei; en
- vir die Kerk om invloedryk en effektief binne hul gemeenskappe te wees en vir gelowiges om voorbeelde van liefde, eenheid en respek te wees tydens potensieel onstuimige tye
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 31/07/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit pixabay.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.