Geskryf deur: Rudi Briel

Moeilike tye kom oor almal se pad. Dit is ’n fout om te dink dat Christene moeilike tye sal vryspring. Die Bybel waarsku ons juis dat beproewings deel van die gelowige se lewe is: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Pet 4:12). Tog is moeilike tye nie sonder betekenis nie. God gebruik dit om die egtheid van ons geloof te toets. Hierdie toets wys ook waar jou geloof staan en hoe dit groei. “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word … Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word” (1 Pet 1:6-7). Die eindtyd voorspel ook swaar tye wat die hele mensdom sal raak – oorloë en gerugte van oorloë, pessiektes, hongersnood, haat en struikeling (Matt 24:1-14). Is die mensdom gereed daarvoor?

1 VREES EN KOMMER
Vrees verlam ’n mens se geloof en dreineer jou energie. Dit beroof jou van alle entoesiasme en kreatiwiteit. Vrees moet absoluut weerstaan word, want dit is ’n vernietigende emosie wat negatief inwerk op elke aspek van jou bestaan. Neem beheer oor jou vrees en angstigheid in moeilike tye, en laat jou deur die Woord beïnvloed, wat jou met moed en vrede sal vul.
“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie … Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het” (Matt 6:31,32).
“Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ‘n vangnet oorval nie” (Luk 21:34).

2 BIDDELOOSHEID
Moeilike tye kan ’n mens moedeloos maak en moedeloosheid kniehalter altyd die gebeds-lewe. Dit is maklik om te bid wanneer dit goed gaan, maar swaar tye verswaar die gemoed met neerslagtigheid en ’n geneigdheid tot biddeloosheid. Dit verg wilskrag om aan te hou bid terwyl dit voel of moeilike tye jou lewe uitmekaar ruk. Maar hierin is Jesus vir ons die perfekte voorbeeld van volhardende gebed op die vooraand van sy kruisiging. Terwyl sy sweet soos bloeddruppels op die aarde val, het Hy “nog ernstiger gebid” (Luk 22:44). Gebed is voorwaar onontbeerlik in moeilike tye. Dit bring ons op ’n manier nader aan God en bewerk innerlike verkwikking en versterking. Bid met groter inspanning in moeilike tye. Soos die Engelse gesegde lui: “Pray hardest when it is hardest to pray.”

3 ONGELOOF
Voortslepende moeilikheid kan uitputting teweegbring, en dit maak jou kwesbaar. Wanneer jy moeg gestry is en geen uitkoms gesien kan word nie, kan ongeloof jou oorrompel met uitlatings soos “Waar is God?” en “Hoekom is God so onregverdig?”. In moeilike tye moet jy dus verbete veg vir die behoud van jou geloof. Bied geen ruimte vir negatiewe uitlatings nie. Inteendeel, spreek kragtige verklarings van geloof. Bely die beloftes van God se trou, soos opgeskryf in die Woord, en berei jou voor vir Goddelike ingrypings in moeilike tye. “Al sou ’n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê” (Ps 27:3). “‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. ‘Vir die een wat glo, kan alles’” (Mark 9:23).

4 GEESTELIKE VERVAL
Geestelike verval is heel dikwels die eindproduk van verbittering en opstandigheid teen God, waaraan sommiges toegee in moeilike tye. Ons word kwaad wanneer ons nie alles kan verstaan nie. Ons dring aan op antwoorde en die maak van sin in die lewe, so asof ons daarop geregtig is om alles te weet en te begryp. Al wat ons eintlik moet probeer aanvaar is dat die lewe vol vraagstukke en onvoltooide legkaarte is. En ten spyte van die baie onbeantwoorde vrae is innerlike rus en verbinding van wonde tog moontlik, maar net in ’n egte verhouding met God.
Die groen weivelde en waters van rus van Psalm 23 kan nie deur hierdie lewe opgelewer word nie en is ook nie belowe vir hierdie lewe nie. Nee, dit word ondervind in die toestand van die siel wat in kinderlike oorgawe naby sy Skepper leef, wetende dat dinge sal uitwerk volgens God se bestel en bedoeling. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom 8:28).
Die lewe is ’n reis met baie bestemmings waarin net God die volle prentjies sien. Ons sien sommiges daarvan eers later, en die res sal in die hiernamaals aan ons geopenbaar word, waar alles ten volle verstaan sal word (1 Kor 13:12). Waak dan teen verbittering en geestelike verval in moeilike tye, deur ’n verskerping in toewyding en hernieude fokus op die goedheid en trou van die Almagtige God, wat ons dra in die palm van sy hand.


Hierdie artikel verskyn in die Mei 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Fotos verkry deur oorspronklike artikel
Datum gepubliseer: 11/05/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here