Geskryf deur: Pearl Kupe 
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Ons lewe in ’n bedeling waar ons kinders soveel uiteenlopende uitdagings die hoof moet bied. Hulle word gekonfronteer met die versoeking van dwelms, alkohol, pornografie en perversie. Hulle trotseer afknouery en groepsdruk en talle van hulle raak depressief en ontwikkel selfdoodgedagtes. Boonop probeer die wêreldse media- en vermaaklikheidsektor hulle mislei met anti-Bybelse idees en perspektiewe wat kinders se wêreldbeskouings en denkwyses negatief kan beïnvloed. Hier is tien kragtige gebede wat ons kan bid en oor ons kinders verklaar (maak seker dat jy jou kinders by die naam noem):

Verklaring 1:
Ons verklaar dat ons Vader elkeen van ons kinders by die naam ken. Ons bid vir hulle volgens Jeremia 1:5 en verklaar dat Hy hulle geken het voordat hulle in die moederskoot gevorm is en voor hulle nog gebore is, is hulle aan Hom gewy. Hy het hulle geheilig en afgesonder vir ’n Koninkryksdoel en -mandaat, in Jesus se magtige Naam.

Verklaring 2:
Ons verklaar dat ons kinders beskerm word volgens Psalm 91. Hulle denke, harte en gedagtes word beskerm teen bose invloed en hulle sal nie slagoffers word van wêreldse verslawings, perversiteite of wêreldbeskouings nie. Hulle sal hul oë op Jesus Christus vestig, die Begin en Voleinder van hulle geloof. Hulle sal dink oor dít wat waar, edel, reg, rein, lieflik, prysenswaardig, voortreflik en lofwaardig is.

Verklaring 3:
Ons kinders is nie rebels nie. Hulle wandel in gehoorsaamheid en hulle eer en respekteer ons as hul ouers. Daarom sal hulle lank lewe en dit sal goed gaan met hulle in die land. Hulle luister na ons Christelike, ouerlike leiding en wandel in gehoorsaamheid aan die Woord van God. Ons ontvang as hulle ouers genade om hulle nie uit te lok dat hulle opstandig word nie.

Verklaring 4: 
As hulle ouers sal ons ons kinders onderrig, oplei, toerus en aktiveer in ooreenstemming met hulle genadegawes (Rom 12:6-8) en Koninkryksopdragte. Ons sal hulle die weg leer wat hulle moet volg
(Spr 22:6). Met hulle siele sal dit goed gaan.

Verklaring 5:
Ons kinders lewe in waarheid en volgens die waarheid. Waarheid is ’n persoon, die Persoon van Jesus Christus. Deur Hom lewe, beweeg en bestaan hulle (Hand 17:28). Ons verklaar dat ons kinders volgens die waarheid sal lewe en die waarheid sal verteenwoordig in alles wat hulle doen, in ooreenstemming met 3 Johannes 1:4.

Verklaring 6:
Ons kinders is wys en nie dwaas nie (Spr 15:20). Hulle sal groter wysheid hê as hulle teenstanders en dit is ’n wysheid van Bo wat nie weerstaan, ontken of weerlê kan word nie (Luk 21:15).

Verklaring 7:
Ons kinders sal dissipels van die Here wees, in ooreenstemming met Jesaja 54:13, en God sal hulle vrede oorvloedig maak. Hulle is gevestig in geregtigheid en sal ver van verdrukking wees. Hulle is die kop en nie die stert nie, hulle is bo en nie onder nie (Deut 28:13).

Verklaring 8:
Ons kinders sal profeteer, volgens Joël 2:28, en draers van genade en herlewing wees.

Verklaring 9:
Ons kinders is soos jong olyfboompies, volgens Psalm 128:3. Hulle sal die draers en verspreiders wees van die olie wat swaar laste verwyder en jukke vernietig, hulle sal die Here se lof besing en sy wysheid uitdra.

Verklaring 10:
Ons ontvang ons kinders as ’n erfenis van die Here. Hulle is soos pyle in die hand van die magtige Kryger en sal teen die vyand veg by die poort (Ps 127:3-5). Die magtige Kryger sal hulle afvuur en hulle sal nie hul teikens vir die Koninkryk mis nie, in Jesus se magtige Naam.

’n Nuwe generasie verrys!

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 16/06/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here