Geskryf deur: René Roux
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Sy sluit die hekkie met trane in haar oë. Sy groet met ’n sagte drukkie en ’n glimlag. Maar haar bene loop vinniger as gewoonlik. Dis nie net omdat sy terug by die werk moet kom nie, maar omdat sy nie wil hê haar kinders moet sien hoe haar hart breek en die trane oor haar wange rol nie.
Vir Mariët is daardie stoep meer as ’n spasie voor die huis. Dis haar tronk. Dis waar sy elke middag haar twee kinders, Pieter en Annabelle, moet toe maak. Want as sy nie teruggaan werk toe nie, is daar vanaand geen kos op die tafel nie.
’n Stukkende gesin
Die kinders se pa is lankal nie meer daar nie, maar die twee kinders se hartjies onthou die liefde en toe hulle nog ’n gesin was. En toe, skielik, was dit net weg. Al wat hulle weet is dat pappa baie siek geword het en die geld opgeraak het.
Die boodskap wat alles verander
Mariët het baie verloor, maar nooit haar liefde vir haar kinders nie. Net toe sy voel sy kan nie meer nie, toe ontvang sy die boodskap wat alles verander het. Iemand by die werk vertel haar van ’n nuwe nasorgsentrum net om die draai van Pieter en Annabelle se skool. Hierdie plek bied ’n veilige ruimte en hoop.
’n Skeptiese ma
Sy was aanvanklik baie bekommerd oor wat dit sou kos. Haar hart is vol, maar haar beursie is leeg. Sou haar kinders veiliger wees tussen vreemdelinge? Sou iemand hulle drome raaksien en hulle seer verstaan?
Die eerste dag by Ons Plek
Maar die dag toe sy vir die eerste keer haar kinders by Ons Plek gaan aflaai het, het daar iets gebeur. Op die perseel het sy gehoor hoe kinderstemme kliphard saam sing, sy kon hoor hoe hulle lag – uit hulle magies uit lag. Sy kon sien hoe die ander kinders speel-speel leer en werk. Die juffrou het haar gegroet, en vir Pieter en Annabelle het sy soos ’n warm tannie gevoel, vol liefde.
’n Nuwe begin
Daardie eerste aand toe sy weer op die stoep gaan sit, was daar nie meer trane nie. Sy het gesit met ’n koppie tee, met haar kinders langs haar. Hulle het stories vertel van die dag: stories van speel, huiswerk en ’n warm bord kos. Hierdie stories het haar hart vol gemaak.
Hoop en drome
By Ons Plek het Pieter weer begin droom oor wat hy eendag wil word. Annabelle het verder leer lees. Hulle was veilig, hulle was geliefd. En Mariët het ook ’n netwerk van ondersteuning en familie hier gevind.
Meer as net ’n plek
Ons Plek is ’n plek waar kinders nie net versorg word nie, maar gevorm word met liefde, struktuur, kos en kultuur. Dis waar ’n stoep nie meer ’n tronk is nie. Dis waar ’n huis weer huis word. En waar ’n mamma weer moed kry. Ons Plek is hulle plek en dit kan ook joune wees. Raak betrokke, bou saam met ons en wees deel van ’n storie wat anders eindig. ’n Storie wat eindig in hoop.
Ons Plek se visie
By Solidariteit Helpende Hand glo ons dat gemeenskapsontwikkeling nie eers by tieners begin nie; dit begin al by babas. Ons Plek is ons antwoord op kinders se honger – na veiligheid, liefde, sorg, onderrig en ’n plek om net kind te wees. Ons Plek is nie bloot ’n kleuterskool of naskooldiens nie. Dit is ’n hawe waar kinders in Afrikaans gevorm word – nie net met kennis nie, maar met waardes. Waar hulle elke dag huis toe gaan met ’n vol magie, ’n rustige gemoed en nuwe drome.
Groei oor die jare
Sedert Ons Plek in 2014 sy eerste naskoolsentrum in die Strand geopen het, het dit gegroei van 20 tot meer as 400 kinders landswyd. Ons kinders begin by Ons Plek se kleuterskole. Hulle ontwikkel binne veilige ruimtes, hulle werk deur ’n uitkomsgebaseerde leerprogram en raak skoolgereed. Na skool help Ons Plek hulle met huiswerk, take en emosionele ondersteuning sodat hul prestasie op skool nie deur omstandighede benadeel word nie.
Bou saam aan ’n toekoms
Ons Plek bestaan omdat mense glo in die gemeenskap – en saam help om hierdie plekke te laat floreer. Ons sê altyd in die Solidariteit Beweging bou ons nie net vir nou nie maar, ook vir ’n 100 jaar van nou af, en die Ons Plekke is een van hierdie boublokke. Elke Ons Plek ontstaan uit ’n behoefte wat gemeenskappe self identifiseer. Streekorganiseerders en maatskaplike werkers help om dié behoeftes vas te stel, en dan bou ons saam. Met gehalte as hoeksteen en elke kind se toekoms as rigtingwyser.
Die stoep is nou ’n plek van vrede
Mariët sluit nou nie meer daardie hekkie toe met trane nie. Sy sit nou op daardie stoep met ’n koppie tee en met haar kinders wat speel en lag na ’n dag by Ons Plek. Sy weet hulle is veilig, hulle eet, en hulle drome is groter as daardie stoep.
RENÉ ROUX – bestuurshoof: Media, Solidariteit Helpende Hand

…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 25/06/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








