Geskryf deur: Anjoné de Jager
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Suid-Afrika se stygende lewenskoste is nie net ’n finansiële uitdaging nie – vir baie is dit ’n daaglikse krisis. Miljoene mense moet honger, werkverlies en wanhoop trotseer namate voedselinflasie steeds vinniger as salarisse styg. Meer as die helfte van die bevolking leef onder die boonste armoedegrens. Sopkombuise word oorweldig, en niewinsorganisasies word tot die uiterste beproef. In dié konteks word Christene uitgedaag om nie net vir hulle eie behoeftes op God te vertrou nie, maar ook om deel van die oplossing te word. Wanneer armoede ons omring, hoe reageer ons geloof?

Pryse wat aanhoudend styg
Jy het nie ’n ekonoom nodig om vir jou te sê dat pryse styg nie. Jy het dit waarskynlik al by die betaalpunt gevoel – wanneer jy jou kaart uithaal om te betaal vir brood, melk en ’n paar basiese items, voel die totaal hoër as ooit tevore. En jy verbeel jou nie. Al was die amptelike inflasiekoers 2,8%, het Statistieke SA bevestig dat voedselpryse in die eerste helfte van vanjaar met 4,8% gestyg het – die hoogste styging sedert vroeg in 2024. Basiese produkte soos groente, mieliemeel en beesvleis is van die ergste getref. ’n Onlangse bek-en-klouseer-uitbreking het die verskaffing van beesvleis ontwrig en pryse met 4,4% laat styg. Beetpryse het met 64% opgeskiet, en mieliemeel met 14%. Maar agter die syfers lê ’n dieper vraag vir gelowiges: Hoe moet ons reageer?

Die wêreld klou vas – God sê gee
Miskien voel jy hoe jou keel toetrek wanneer jy besef hoe werklik en persoonlik hierdie kwessie geword het.
Die wêreld sê vir ons om ons beursies stywer toe te hou wanneer tye moeilik raak. Dat ons die bietjie wat ons het, moet opgaar en beskerm. Op die oog af klink dit soos die wyse keuse – pryse styg, maar salarisse bly dieselfde. Tog is hierdie reaksie op vrees gegrond, nie op geloof nie. Dis dalk die wêreld se manier, maar nie God s’n nie. As gelowiges word ons geroep om anders te leef.

Bekommernis verander niks
Kom ons kyk wat Jesus self hieroor sê. Hy maak dit duidelik dat bekommernis niks verander nie. In Matteus 6:25-34 praat Jesus oor presies die tipe bekommernisse wat ons vandag ervaar.

Hy sê ons moenie bekommerd wees oor wat ons sal eet of aantrek nie. En Hy herinner ons aan iets nog dieper: As die Vader vir die wilde voëls sorg, hoeveel te meer sal Hy nie vir ons, sy kinders, sorg nie?

Meer as genoeg
Ons vergeet te maklik dat God ons Voorsiener is. Hy is El Shaddai, die God van meer as genoeg. Hy is nie beperk nie, en Hy is ook nie maar net skaars in staat om in ons behoeftes te voorsien nie – Hy is volkome in staat om in oorvloed te gee. Onthou jy toe Jesus die duisende gevoed het met net vyf brode en twee visse? Nie net het almal geëet totdat hulle versadig was nie, maar daar was 12 mandjies oor. Dít is die aard van ons God – Hy is vrygewig. Soos Filippense 4:19 sê: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” Maar sy voorsiening is nie net vir ons eie gemak nie – soos met Abraham, is ons geseën om ’n seën vir ander te wees.

Rentmeesterskap is nie gierigheid nie
Rentmeesterskap beteken meer as net om ’n begroting te hê en jou hulpbronne verstandig te bestuur – dit gaan daaroor om die vrygewige natuur van die Een wat ons dien, te weerspieël. Ons God is nie suinig nie, en ons behoort ook nie te wees nie. Vrygewigheid is ’n daad van geloof; dit is nie iets wat ons word wanneer ons “genoeg” het nie. Dit is ’n gesindheid van die hart, gewortel in vertroue. Soos Lukas 6:38 sê: “Gee, en vir julle sal gegee word…” Nie omdat ons iets terug verwag nie, maar omdat ons geroep is om draers te wees van God se liefde en voorsiening.

Vrygewigheid wat na God wys
“God het die blymoedige gewer lief” (2 Kor 9:7), nie vir wat hulle gee nie, maar vir die gesindheid waarmee hulle dit gee. Onthou jy die weduwee wat net twee klein kopermuntstukke gegee het? Jesus het gesê sy het meer as enige ander gegee omdat sy uit haar gebrek gegee het en God ten volle vertrou het (Luk 21:1-4). Wanneer ons met oop hande leef, wys ons iets van God se goedheid – dieselfde goedheid wat mense tot bekering lei (Rom 2:4). Wanneer ons gee, verloor vrees sy houvas, want ons fokus verskuif van onsself na ander se behoeftes. 1 Johannes 3:17-18 stel dit duidelik: “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?”

Van jou hand na God s’n
Dink aan die seuntjie wat sy klein mandjie kos vir Jesus gebring het – net vyf brode en twee visse. Hy kon dit vir homself gehou het, en gedink het dit sou nie ‘n verskil maak nie. Maar in God se hande het sy vrygewigheid duisende gevoed. Wat kan jy gee wat iemand anders sal seën? Om op te gaar wat ons het, sal nie die wêreld verander nie en om te glo dat ons offer te klein is, beperk net wat God deur ons kan doen. Ons dien ’n God van die wonderbaarlike. Sal jy Hom toelaat om wonders deur jou te laat gebeur?

PRAKTIESE WENKE OM BETROKKE TE RAAK

  • Begin met wat in jou hand is: ’n Warm bord kos, ’n brood of ’n pakkie sop kan ’n reddingsboei wees. Jy het nie ’n stywe bankrekening nodig om vrygewig te wees nie.
  • Werk saam met betroubare bedieninge: Ondersteun Christelike voedingsprojekte of sopkombuise in jou gemeenskap – hulle bereik reeds die kwesbares en maak ’n verskil.
  • Voed meer as net jouself: Verdubbel jou kookporsie of Sondagmiddagete – laai die ekstras af by ’n informele nedersetting, taxistaanplek of skool in nood.
  • Gee met respek: Skenk skoon klere, toiletware en skoene met waardigheid. Verpak dit goed. Voeg ’n Skrifgedeelte of handgeskrewe briefie van bemoediging by.
  • Wees teenwoordig: Besoek ’n bejaarde. Bied aan om iemand na ’n werksonderhoud te neem. Vra die petroljoggie waarvoor jy vir hom kan bid.
  • Leer jou kinders: Laat hulle van hul sakgeld skenk of help om ’n bederfpakkie vir iemand te koop. Laat vrygewigheid deel word van hulle geloof.

ANJONÉ DE JAGER – joernalis vir JUIG! Tydskrif.

…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 21/08/2025
Foto slegs ter illustrasie.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here