Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Hoe bereik jy die jeug met die Woord? Hoe maak jy ’n impak tussen TikTok, YouTube en reekse? Volgens Radio Tygerberg 104FM het ’n veldlikkewaan, grillerige groen drankies, twee energieke radiopersoonlikhede en ’n vier meter lange luislang beslis die tieners laat regop sit tydens vanjaar se Vreesloos-besoeke aan hoërskole in die Wes-Kaap.

’n Realiteitsreeks met ’n ewigheidsboodskap
Die Vreesloos-veldtog is gerig op die jeug en bied ’n kombinasie van gewilde realiteitsreekse soos Fear Factor, Survivor en Beast Games – maar met ’n lewensveranderende boodskap: dat jy deur God se krag vreesloos kan leef, ondanks uitdagings en moeilike omstandighede. “Ons is baie opgewonde om Vreesloos na hoërskole in die omgewing te neem. Dit bied vir ons ’n wonderlike geleentheid om jongmense te bereik en hulle te inspireer met die boodskap dat hulle sonder vrees kan leef,” sê Rikus van Rooy, stasiebestuurder van Radio Tygerberg.

Slange, kakkerlakke en dapper skoolhoofde
Gewilde omroepers Gerald Petersen en Mike Potgieter is die aanbieders van hierdie adrenalienbelaaide program. Maar dit is nie net die leerders wat uitdagings aanpak nie – onderwysers en selfs skoolhoofde word ook beproef! Skoolhoofde moes al ’n slang (of twee!) vir 60 sekondes vashou, terwyl een hoof geblinddoek is en sy hande in ’n krat vol kriewelende kakkerlakke moes plaas. Al hierdie eksotiese diere is van Reptile Garden by Stodels Bellville.

Regstreekse uitsending en groot blootstelling vir skole
Terwyl die leerders se uitdagings – van wurms vashou tot mopaniewurms eet – in die skoolsaal afspeel, saai Die Real Brêkfis-span (Benescke Janse van Rensburg, Neville D en Francois Boyce) regstreeks vanaf die skool uit. Tydens die uitsending word onderhoude gevoer met leerders en skoolpersoneel, wat dit ’n waardevolle bemarkingsgeleentheid vir skole maak. Belangrike skoolinligting word so met Radio Tygerberg se luisteraars gedeel.

Wie is die vreesloosste van almal?
“Ons het 11 hoërskole vanjaar met Vreesloos 2025 besoek. Elke skool word beoordeel op uitdagings, dissipline, skoolgees en sosialemedia-deelname. En ja, selfs die skoolhoofde se uitdagings tel punte – en hulle het almal volpunte behaal!” sê Van Rooy. Aan die einde van Augustus word die vier topskole aangekondig. Hulle neem deel aan die finaal by Tygervallei-winkelsentrum op 3 en 4 Oktober. Hier sal deelnemers vir 24 uur lank uitdagings aanpak. Die topdrieskole wen kontantpryse, lugtyd op Radio Tygerberg en natuurlik – die eer om hulself vreesloos te noem,” sê Van Rooy.

Luister wêreldwyd
Besoek Radio Tygerberg se sosiale media vir foto’s en video’s van Vreesloos 2025. Die stasie saai op 104FM in die Kaapse Skiereiland uit en jy kan hul gratis toep aflaai om wêreldwyd na Suid-Afrika se grootste Afrikaanse Christelike radiostasie te luister.

…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 17/08/2025
Foto’s verskaf.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here