Geskryf deur: René Roux
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Tannie Elsa, ’n afgetrede onderwyseres met ’n sagte hart en ’n liefde vir herwinning, besluit sy wil haar kombuis opknap. Die rak bo die oond het begin skeef hang, en sy soek iets eenvoudigs – iets netjies en funksioneel wat nie haar pensioensak sal ruk nie. Sy het al voorheen van die Ons Winkel in haar dorp gehoor en geluister hoe mense in haar breiklub praat van die skenkingswinkel van Solidariteit Helpende Hand waar jy tweedehandse skatte teen sakpaspryse kan kry. Sy besluit om te gaan inloer. Toe sy by die winkel instap, is sy dadelik in Afrikaans verwelkom met ’n warm groet deur die personeel en sien sy die netjies gepakte klere, boeke en meubels wat wag op nuwe eienaars.

’n Lessenaar vol stories
In ’n hoek van die winkel, onder ’n kombers van tweedehandse boeke, het sy ’n klein houtlessenaar opgemerk – vol skrape en potloodmerke van kinderhande. Stil-stil het sy haar hand oor die ruwe oppervlak gestryk. In haar hart het ou herinneringe begin lewe kry – haar klaslokaal, die reuk van bordkryt, die stemmetjies van leerders wat leer lees. Sy het gestaan en teruggedink aan die ou dae toe sy self klas aangebied het en hoe baie sy dit geniet het. “Hierdie een het stories,” het sy gesê. “Ek kan dit voel.” Sy het nie lank gevat om haar besluit te neem nie. Die rak vir die kombuis kon wag. Die lessenaar is saam met haar huis toe.

Meer as ’n nostalgiese aankoop
Wat tannie Elsa egter nooit geweet het nie – nie toe sy betaal het nie, en ook nie toe sy die lessenaar skoongevee en in haar sonkamer geplaas het nie – was dat daardie eenvoudige aankoop méér as net ’n nostalgiese oomblik sou wees. Dit sou ’n toekoms oopmaak vir iemand anders. Net ’n paar strate van haar huis af woon Liam – ’n stil, vasberade jongman met ’n groot droom om onderwyser te word. Van kleins af het hy geweet dat hy eendag in die klaskamer wil wees – nie as leerder nie, maar as mentor, inspirasie en meneer wat ander help.

’n Dag wat hoop bring
Maar die realiteit van Liam se omstandighede het swaar op hom begin weeg. Sy ouers het albei hul werk verloor, en Liam moes self werk om sy familie aan die gang te hou. Daar was nie geld vir universiteit nie – en so het sy droom om eendag onderwyser te word, al hoe meer begin vervaag. Toe kom daar egter ’n dag wat hoop bring. Solidariteit Helpende Hand, met fondse afkomstig uit verkope van Ons Winkel, kontak hom met goeie nuus: hy het ’n gedeeltelike studiefonds ontvang.

“Ek het gedink ek sal nooit die kans kry nie,” het hy gesê. “Ek het al begin opgee.” Wat hy nie geweet het nie, is dat ’n deel van daardie fondse direk gekom het van tannie Elsa se lessenaar wat sy gekoop het sonder om te weet hoe ver die impak daarvan sou strek. Wie sou kon raai dat die aankoop van ’n eenvoudige lessenaar deel sou vorm van genoegsame fondse om ’n kind se drome te bewaarheid?

Skenk vir iemand ’n kans
Hierdie storie is nie uniek nie – dit is een van honderde soortgelyke verhale wat daagliks moontlik gemaak word deur Ons Winkel. Elke geskenkte item, elke aankoop, bou ’n brug tussen mense wat het en dié wat nodig het – tussen die verlede en ’n hoopvolle toekoms. So volgende keer as jy wonder of daardie ou tafel of jas regtig nog waarde het, onthou: Jy skenk nie net ’n item nie. Jy skenk moontlik vir iemand ’n kans. ’n Kans soos Liam s’n. En miskien, net miskien, raak dit weer iemand soos tannie Elsa se hart ook. Dis nie net ’n item nie. Dis ’n storie. Dis ’n toekoms. Dis Ons Winkel.

Wat kan jy doen?
• Skenk: Daardie ekstra stoele in die motorhuis, die klere wat jy al jare nie gedra het nie, enige item – gee dit vir ’n beter doel.
• Koop: Op soek na iets uniek, bekostigbaar en van goeie gehalte? Ons Winkel is propvol verrassings!
• Deel: Vertel ander van Ons Winkel. Jou storie kan iemand anders inspireer om ook ’n verskil te maak.

RENÉ ROUX – bestuurshoof: Media, Solidariteit Helpende Hand

 

…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 20/06/2025

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here