Geskryf deur: JC Le Roux
“En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” – Openb 22:17
Die naam “Siloam Kerk” is vir ons gegee deur ’n profetiese woord in 2016. “Siloam” beteken “om iemand te stuur”. Ek en my vrou, Elsie, haar suster en dié se man, het in 2010 reeds ’n huiskerk begin nadat ons weergebore is in 2009.

’n Familie in bediening
Ons hele familie het tot wonderbaarlike inkeer gekom daardie jaar. My skoonma Helen het ’n groot aandeel hierin gehad deur haar gebede. As ’n familie met ons eie besigheid het ons in ons dorp bedien, op kampe, by tronke en in Afrika saam met verskeie bedienings. In 2016 het ons rustiger geraak en begin fokus op ons bediening in Carletonville. Ons het een keer per week bymekaar gekom op Woensdagaande.

Agter van links na regs: JC Le Roux, Tinus Coetzee, Derik Strydom, Jonathan Toxopeus, Brendan de Koker, Lourens Botes. Voor van links na regs: Elsie le Roux, Lisa Coetzee, Jacky Strydom, Cindy Toxopeus.
Siloam word ’n gemeente
In 2021 het ek begin dien as leraar by ’n groot gemeente in Potchefstroom. Terselfdertyd, nadat ons bevestiging by die Here gekry het en met behulp van ’n moedergemeente in Potchefstroom, het Siloam Carletonville ’n gemeente geword. Siloam het egter ’n permanente herder nodig gehad. Toe ek in Israel was hierdie jaar saam met JOY! Travel, het die Here my geroep om te preek en ’n dringendheid het in my begin posvat om terug te keer na Siloam toe.
’n Nuwe seisoen vir die herderspaar
Ek en Elsie antwoord toe op die Here se roeping na Siloam. Dit was nie maklik om die gemeente in Potchefstroom te verlaat nie, want ons het die kerk en sy mense baie lief. Ons het in 2014 lidmate geword van daardie gemeente en ek dien al op die ouderlingspan vanaf 2017. Ons inseëning as herderspaar by Siloam kerk het op die 1ste September plaasgevind. Ons sien uit na die nuwe fase in ons reis saam met die Here. Dit is ’n nuwe gemeente met baie uitdagings, soos die bou van die nuwe kerkgebou. Die huidige gebou raak te klein weens die groei wat plaasvind in ons gemeente.

“Wat het jy?”
Weer vra die Here vir my ’n vraag: “Wat het jy?” Nie “wat het jy nodig?” nie. Net soos Hy vir sy dissipels in Johannes 6 gevra het. Ek antwoord: “Maar Here wat gaan ek met vyf brode en twee vissies doen?” Soos Andreas gevra het in Johannes 6:9: “maar wat is dit vir so baie mense?” Maar ’n bietjie is baie in Jesus se Koninkryk. Jesus vra nooit of jy genoeg het nie – Hy vra wat jy het. “Here, ek het net myself, en ’n stuk grond met ’n klein geboutjie om vir U te gee, maar wat is dit vir so baie mense?”
Siloam kerk se visie en missie
Ons vertrou op die Here vir die finansies vir die bou van die nuwe kerk en ons glo Hy sal voorsien. Ons visie is om restourasie te bring vir Carletonville se mense – die wat fisies en geestelik sukkel en nie die voltooide werk van Jesus Christus ten volle verstaan nie. Om missie is om vir mense van die Koningryk te leer en die volle waarheid te vertel, van Genesis tot Openbaring. Ons plan is om Siloam kerk uit te brei in Suid-Afrika en die volle Woord tot die uithoeke van die wêreld te neem.


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 16/10/2024
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








